Armoria ecclesiastica

BISDOM van PORT ELIZABETH, Kerk van die Provinsie van Suider-Afrika
DIOCESE of PORT ELIZABETH, Church of the Province of Southern Africa
IDAYOSISI YaseBHAYI, Ibandla yePhondo loMzantsi Afrika

Bisdom 1970 gevorm, ’n afstigting van die Bisdom Grahamstad.

Katedraal: Sint Maria die Maagd, Port Elizabeth.

Biskopswoning: Bishop’s House, Walmer.

Bisdom Port Elizabeth

Hierdie wapen is 28 April 1978 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer. Die blasoen lui (volgens my vertaling):

Wapen: In silwer, op ’n kruis van rooi, tussen regs bo ’n anker, links bo ’n ankerkruis, regs onder ’n kleipot en links onder ’n geledigde driehoek, ’n lam in sy natuurlike kleur. Bo die skild ’n biskopsmus.

Daar is geen leuse nie, en volgens die gebruik met kerklike wapens is daar ook geen helmteken nie. Die biskopsmus (die formele en sakerdotale hoofgetooi van ’n biskop) staan in die plek van helm en helmteken.

Verduideliking:
Die rooi kruis is die bekende embleem van St Joris (George), beskermheilige van Engeland, en is die basis van velerlei wapens van Anglikaanse kerke, nie net in Engeland nie maar in baie ander wêrelddele. Dit is hierdie geval geneem van die wapen van die Bisdom Grahamstad: In silwer, ’n kruis van rooi; in die eerste kwartier ’n swart anker.

Op die webwerf van die Bisdom Port Elizabeth lui die verklaring onder andere (volgens my vertaling): “Die rooi kruis is die versoeningskruis van Christus, en die anker toon aan dat ons in die geloof onwrikbaar is. Dit is ook ’n verbintenis met ons kuslyn en die skepe wat daar seil.”

Terwyl die anker duidelik afgelei is van die wapen van die Bisdom Grahamstad, is dit eintlik ’n simbool van die Kaapprovinsie (en die Kaapkolonie). Dit kan ook gesien word as verbintenis met die Stad Port Elizabeth, aangesien die munisipale wapen twee ankers insluit, bygesit as breuk van die wapen van van sir Rufane Donkin.

Die ankerkruis (in die tweede kwartier) is aan die wapen van die dorp Uitenhage ontleen. Sy kleure is omgeruil; die dorpswapen is dié van die dorp se naamgenoot, Kommissaaris-Generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist, die senior beampte van die Bataafse Republiek tydens daardie staat se beheer van die Kaapkolonie (1803-06). De Mist se familiewapen was: In swart, ’n ankerkruis van silwer.

Die kleipot is simbool van broederskap en herinnering aan die groot aantal swart lede van die Bisdom Port Elizabeth.

Die driehoek simboliseer die Drieëenheid, maar verwys ook aan die Donkin-gedenkteken, die piramide wat op die Donkin-reserwe, die kern van Port Elizabeth se geskiedkundige Central Hill-gebied, staan. Die piramide kan ook in die wapens van Livingstone-Hospitaal, and Hoërskool Pearson en Lawson Brown High School gesien word.

Die bisdom se webwerf verduidelik die lam as “die Lam van God, wat vir ons gesterf het en wat ons na Sy vreugdevolle diens roep, ‘nie slegs met ons lippe nie, maar met ons lewens’ ”.

Dit simboliseer die uitgestrekte boerderygebied van die Karoo wat in die bisdom ingesluit is, asook die tekstielbedryf van Port Elizabeth en Uitenhage. As heraldiese simbool staan die Lam van God of Agnus Dei gewoonlik, en steun ’n staf wat ’n vaandel van die kruis dra (gewoonlik die rooi kruis op wit van St Joris of St Michiel, maar soms St Andries se wit skuinskruis op blou). Maar aangesien dit in die middel van die kruis lê, is sy postuur, en die feit dat dit sonder die staf is, paslik, veral in die lig van sy sekondêre simboliek.

Die bisdom se webwerf verduidelik die biskopsmus (in Nederlands ’n mijter genoem; in Engels “mitre”): “Die biskopsmus is oor alles, daar gesit om ons daaraan te herinner dat die Biskop ons Vader in God is. Hy gee om vir ons almal en vir al ons behoeftes.” (Weereens my vertaling.)

Van die agterkant van die biskopsmus hang twee linte, in Latyns die infulæ vitæ genoem, wat in ’n wapen dikwels sierlik vertoon word op ’n manier vergelykbaar met die dekkleed wat in sekulêre wapens voorkom. In hierdie geval is die linte na die kant van die skild gerangskik en hang dan weerskante af.

Oor die bisdom:
Die Bisdom Port Elizabeth, wat ’n gebied dek wat langs die kus vanaf Blueliliesbush in die Tsitsikamma tot Kenton-on-Sea en noordwaarts deur die oostelike Karoo tot by Colesberg strek, is in 1970 gevorm, toe dit van die Bisdom Grahamstad apart gemaak is.

Die Anglikaanse Kerk is in hierdie streek doenig sedert 1821, toe die Ierse 1820-Setlaar eerwaarde Francis McClelland die eerste koloniale kapelaan geword het wat op Port Elizabeth gestasioneer is.

Toe daar vir die eerste maal voorgestel is dat ’n koloniale biskopstoel vir die Kaapkolonie daargestel moet word, is dit eers voorgestel dat die biskop op Uitenhage gebaseer word. Dit was die begin van die stad se oudste parogie, St Mary the Virgin.

Toe biskop Robert Gray, die eerste Anglikaanse biskop wat vir die kolonie aangstel is, uiteindelik in 1848 as Biskop van Kaapstad in daardie stad aangekom het, het hy reeds Nathaniel Merriman as aartsdiaken van Grahamstad aangestel, verantwoordelik vir ’n streek wat die ganse oostelike helfte van die Kaapkolonie gedek het. In daardie tyd is dit gesê dat dit die eerste aantelling van ’n aartsdiaken in Afrika was sedert die tyd van die Vroeë Kerk. Toe John Armstrong in 1854 as die eerste Biskop van Grahamstad aangekom het, moes Aartsdiaken Merriman tydelik na Uitenhage verskuif. In 1871 het Merriman self derde Biskop van Grahamstad geword.

Die naam van die bisdom en van die Kerk van die Provinsie verskyn bo aan hierdie bladsy in Engels, Afrikaans en isiXhosa, want hierdie is die drie amptelike tale van die bisdom.

Die Bisdom Port Elizabeth het sy eie webwerf.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Skandering deur Howard Lancaster.

  • Terug na indeks van bisdomme

    Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle