Armoria ecclesiastica
http://uk.oocities.com/kruisstaf

Katedraal van die HEILIGE MAAGD MARIA, Port Elizabeth
Bisdom: Port Elizabeth (tot in 1970, Grahamstad)

St Maria-katedraal, Port Elizabeth

Wapen oorspronklik in 1894 deur Allan Becher Webb, vierde biskop van Grahamstad, aan die Kollegiale Kerk van die Heilige Maagd Maria verleen, en 24 Augustus 1952 deur die College of Arms verleen. Dit word so geblasoeneer (my vertaling):

Wapen: In blou ’n voorstelling van die Maagd Maria en die Heilige Kind in natuurlike kleure. Op ’n silwer vryhoek ’n anker in natuurlike kleure.

Oor die wapen:
Die hoof-wapenfiguur is natuurlik Maria met die Kind Jesus in haar arms. Albei het ligkranse; die naakte seunskind se regterhand is seënend gelig.

Blou is tradisioneel ’n kleur wat met die Maagd geassosieer word. In hierdie tekening verskyn dit taamlik lig; heraldiese blou is nie ’n spesifieke skakering nie, maar mag van enige skakering wees behalwe waar dit met bleu céleste of ligblou gekontrasteer word.

Die anker in die wapen het blykbaar ’n dubbele simboliek. Dit verteenwoordig Jesus Christus as ons Redder, maar is ook geleen uit die wapen van die Bisdom Grahamstad.

Die anker van die heraldiek is altyd (behalwe waar dit anders genoem word) ’n onklaar stokanker – die tou lê om die stang gedraai – en word dit gewoonlik twee-dimensioneel geteken. In werklikheid is die stok (die deel wat bo dwars loop) reghoekig in verhouding met die arm (die deel onder waaraan die ankerblare vas is). Die stok is altyd van hout, terwyl stokankers wat in die 20ste eeu werklik gebruik is, dikwels metaalstokke gehad het.

Oorspronklike verlening:
Biskop se verleningsakte seël van St Mary’s Biskop Webb het 3 April 1894 aan die kollegiale kerk ’n wapen en ’n seël verleen. Die seël is die vorm van ’n vesica – ’n dubbelpuntige ovaalvorm, wat vir kerklike wapens goed te pas kom want ’n skild kan in die onderhelfte inpas, en ’n biskopsmus in die bo-deel.

Die oorspronklike van hierdie dokument het verlore gegaan toe die kerkgebou in 1895 deur brand verwoes is, en biskop Webb het die daaropvolgende jaar ’n duplikaat-verleningsakte opgetrek, wat hy 4 Maart 1896 onderteken het.

In heraldiese terme kom die inhoud van hierdie skild ooreen met die blasoen in die verlening van 1952, maar dit is moeilik om die detail van die Maagd te sien. Sy is gekroon, maar die styl van die kroon is onduidelik. Sy hou blykbaar die Christuskind in die linkerarm, en hou blykbaar verder ’n lelie (nog ’n tradisionele simbool van die Maagd), maar dit is alles onduidelik.

Oor die parogie:
St Mary’s, die eerste Anglikaanse kerk wat in die sogenaamde Oostelike Provinsie (Eastern Province) van Kaapkolonie opgerig is, is in 1825 deur eerwaarde Francis McCleland gestig. Hy was ’n Ierse 1820-Setlaar wie in daardie jaar as koloniale kapelaan aangestel is vir die nedersetting Port Elizabeth, wat uit sowat 500 mense bestaan het.

Die Ierse setlaars is aanvanklik op Clanwilliam, sowat 200 km noord van Kaapstad, geplaas, weens vrese dat die wilde Iere die ander setlaars met geweld sou aanval. Hulle het egter geïsoleer gevoel en het toestemming gevra om in die Oos-Kaap by die Engelse, Walliese en Skotse setlaars aan te sluit.

Die hoeksteen van die eerste kerkgebou is in ’25 gelê, maar die gebou is nie voor 1832 vir godsdiensoefeninge oopgemaak nie. Intussen het die gemeente in ’n skoolkamer in Prospect Hill vergader, naby die huidige Rooms-Katolieke katedraal van Sint Augustinus.

Met die samewerking van St Andrew’s College op Grahamstad het die konsistorie van St Mary’s in 1856 die Diocesan Grammar School in Port Elizabeth van stapel gestuur. Dit het egter nie lank gehou nie; finansiële probleme het opgeduik, en voordat dit herstig kon word, het die goewerneur, sir George Grey, sy eie skool (die Grey Institute) in Port Elizabeth gestig.

Die eerste orrel is in 1867 geïnstalleer, teen welke tyd daar reeds ’n florerende koor bestaan het. Tot vandag toe sit St Mary’s sy koor-tradisie voort, en is dit die tuiste van die enigste seuns- en manskoor in die Engelse katedraal-tradisie in Suid-Afrika.

In 1888 is St Mary’s deur biskop Webb as ’n kollegiale kerk gekonstitueer. Volgens die grondwet sou die biskop van Grahamstad sy provoos wees, en die rektor (in daardie tyd kanunnik A T Wirgman) vise-provoos.

’n Interessante anomalie (wat onlangs uitgeskakel is) is dat toe die Bisdom Port Elizabeth in 1970 gestig is, die grondwet van St Mary’s nie verander is nie. Alhoewel die biskop van Port Elizabeth van daardie tyd af effektief provoos was, het die grondwet steeds na die biskop van Grahamstad verwys.

Nà die brand van 1895, wat die gebou totaal verwoes het, is ’n nuwe struktuur gou in heel swieriger styl opgerig, deels te danke aan skenkings wat gemaak is deur mense wat die destydse eerste minister van Kaapkolonie, Cecil John Rhodes, en president Paul Kruger van die Zuid Afrikaansche Republiek ingesluit het.

In eerw McCleland se tyd was St Mary’s die enigste Anglikaanse kerk in Port Elizabeth. Maar toe eerw Wirgman oorgeneem het en ’n Hoë-Kerk-aanbiddingstyl ingebring het, het etlike gemeentelede wat meer gewoond was aan ’n meer evangeliese styl, in 1854 onttrek en hulle eie gemeente gevorm, wat in die lange duur die naam Holy Trinity (Heilige Drieëenheid) aangeneem het. Hierdie gemeente het aanvanklik aan die voet van Militaryweg hulle dienste gehou, maar nadat die biskop van die tyd hulle daartoe oorweeg het, het hulle ’n kerkgebou in Port Elizabeth se Central Hill-gebied opgerig, heelwat hoër as St Mary’s geleë maar slegs enkele straatblokke wes daarvan.

Deels te danke aan eerw Wirgman se lange dienstermyn – ’n halwe eeu – het St Mary’s getrou gebly aan die Hoë-Kerk-formaat.

Nà die liturgiese hervormings van die 1970s en ’80s, toe die diensorde substansieel verander is en moderne Engels gevestig is as die godsdienstaal, het die meeste Anglikaanse gemeentes in Suid-Afrika die Book of Common Prayer van 1662 laat vaar, nadat dit eeue lank Anglikaanse kerkgebruik gedefinieer het. St Mary’s het egter getrou gebly aan die ou diensboek (Prayer Book).

Nà die afstigting van die Bisdom Port Elizabeth in 1970, het die eerste drie biskoppe gevoel dat dit onraadsaam is om ’n katedraal te vestig, om redes wat verband gehou het met die etniese samestelling van die stad en van die bisdom.

Die vierde biskop, Bethlehem Nopece, wie in 2001 sy amp ingeneem het, het egter gevoel dat daar ’n behoefte vir ’n katedraal was, en dat St Mary’s vir hierdie doel ideaal was.

Op sy versoek het die bisdom ook, tydens sy sinode van Julie 2003, die amp van dekaan geskep, die houer waarvan nie noodwendig rektor sou wees van die katedraal-parogie nie. Aangesien die eerste dekaan nie die rektor is nie, is die sittende rektor tot provoos bevorder.

Die kerkgebou van St Mary’s is 2 November 2003 formeel as katedraal ingewy.

Die gemeente se voertaal is sedert 1825 Engels, en sy kort benaming het oor die jare St Mary’s gebly. Maar aangesien ’n katedraal-parogie in ’n sekere sin aan die hele bisdom behoort, en omdat Afrikaans een van die bisdom se voertale is, verskyn hierdie bladsy ook in Afrikaans.

Nadere inligting oor die parogie kan hier gevind word.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne van illustrasies: Verleningsaktes van 1896 en 1952.

  • Terug na parogieë-indeks

    Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

    Back to Armoria index


    Comments, queries: Mike Oettle