Armoria ecclesiastica

BISDOM GRAHAMSTAD, Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika.[1]

Bisdom 1853 gestig.

Katedraal: Sint Michiel en Sint Joris, [2] Grahamstad.

Biskopswoning: Bishopstowe, Grahamstad.

Bisdom Grahamstad

Huidige wapen aanvanklik blykbaar in 1886 aangeneem, en deur die College of Arms verleen volgens oktrooibriewe gedateer 12 Augustus 1949. Die blasoen lui:[3]

 

In silwer, op ’n rooi kruis ’n golwende swaard in sy natuurlike kleure; in die eerste kwartier ’n swart anker.

 

Brownell[4] skryf: “Die katedraal in Grahamstad is tans toegewy aan Sint Michiel en Sint Joris en hierdie wapen bestaan uit die swaard van die aartsengel en die Sint Joriskruis. Die anker is die skakel tussen hierdie wapen en dié van die metropolitaanse bisdom. In die wapen van die Bisdom Bloemfontein word die swaard meer korrek afgebeeld as “vlammend”.

Vir die oorspronklike wapen wat deur die bisdom gevoer is, kyk hierdie bladsy.

 

Oor die bisdom:

Sedert die huidige wapen in gebruik geneem is, is die bisdom se grondgebied driemaal verminder deur die afstigting van nuwe bisdomme.

Die eerste was dié van George (1911), waarvoor parogieë in die weste van die Bisdom Grahamstad, Graaff-Reinet ingesluit, geneem is. Die tweede was dié van Port Elizabeth (1970), waar parogieë weereens aan die westekant verloor is.

Sedertdien strek die bisdom langs die kus vanaf die Keirivier tot by die Kariega.

In die jare tagtig het die bisdom die pos geskep van suffragaan-biskop, op Queens­town gebaseer, wat verantwoordelikheid vir die noordelike gebiede sou oorneem. Beide die eerste en die tweede suffragaan, Eric Pike en Bethlehem Nopece, het daarna biskop geword van Port Elizabeth.

In 2008 het Queenstown die setel geword van ’n nuwe bisdom, dié van Ukahlamba, met insluiting van die noordelike dele van die Grahamstadse bisdomsgebied en die suidelikste dele van die Vrystaat (uit die bisdom wat op Bloemfontein gebaseer is).

 

Biskoppe: Die huidige wapen is in gebruik geneem onder Biskop A B Webb (1883 ingewy). Hy is opgevolg deur C E Cornish (1899), F R Phelps[5] (1915), A H Cullen (1931), Robert Selby Taylor[6] (1959), G L Tindall (1964), Bill Burnett[7] (1969), Kenneth Oram (1974), David Russell (1987) en Thabo Makgoba[8] (2004)

 

Tale:

Die Bisdom Grahamstad gebruik Engels, Afrikaans en isiXhosa in administrasie en aanbidding.



[1] Die kerkprovinsie waarvan die aartsbiskop van Kaapstad aan die hoof is, is gedurende die meeste van die 20ste eeu bekend as die Kerk van die Provinsie van Suid-Afrika (Church of the Province of South Africa).

In 1955 het die bisdomme Mashonaland en Matabeleland, wat deel was van die KPSA, die kern geword van die Kerk van die Provinsie van Sentraal-Afrika (Church of the Province of Central Africa), wat vanaf Botswana tot in Zambia strek, en wat Malawi en Zimbabwe (Suid-Rhodesia) insluit.

In 1982 het die KPSA sy naam verander na die Kerk van die Provinsie van Suider-Afrika (Church of the Province of Southern Africa), en in 2006 het dit formeel die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika (Anglican Church of Southern Africa) geword.

[2] Die katedraal is oorspronklik aan Sint Joris gewy. Weens ’n twis is die pro-katedraal van Sint Michiel tussen 1883 en ’86 in gebruik, toe die vergrote katedraal op Kerkplein toegewy is aan Sint Joris en Sint Michiel. Sedert ongeveer 1920 heet dit die Katedraal van Sint Michiel en Sint Joris.

[3] My vertaling.

[4] Heraldry of the Church of the Province of Southern Africa, 1847-2000, deur F G Brownell, deur Heraldsholme CC, gepubliseer, Pretoria 2002.

Die vertaling is myne.

[5] Biskop Phelps het in 1931 aartsbiskop van Kaapstad geword.

[6] Biskop Selby Taylor het in 1964 aartsbiskop van Kaapstad geword.

[7] Biskop Burnett het in 1974 aartsbiskop van Kaapstad geword.

[8] Biskop Makgoba het vanaf 2002 as suffragaanbiskop van Grahamstad gedien (op Queenstown gebaseeer), en het aan die einde Desember 2007 aartsbiskop van Kaapstad geword.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bron van beeld: Lyntekening in Brownell se boek, deur die werfmeester ingekleur met behulp van MS Picture It!


Terug na indeks van bisdomme

Terug na indeks van bisdomme (wapens soos oorspronklik gevoer)

Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle