Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

GRAHAMSTAD / GRAHAMSTOWN / RINI
Provinsie/staat: Oos-Kaap (tot 1994, Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Distriksraad: Westelike Distriksraad (voorheen Afdeling Albany; daarna Afdeling Dias en Streeksdiensteraad Algoa).
Toevoegings: Rini (1995)
Ingelyf: in Plaaslike Munisipaliteit Makana, 2000.

wapen van 1862 / vlag van Grahamstad / Slag van Grahamstad

Grahamstad

Die wapen is in 1912 deur die College of Arms verleen. In 1994 is dit met die Buro vir Heraldiek geregistreer (gepubliseer in die Staatskoerant gedateer 29 April ’94):

Wapen: In goud, op ’n omgekeerde punt van rooi, drie ringe van goud, 2 en 1; op ’n swart skildhoof, drie mantelskulpe van goud.

Helmteken: Rysend uit ’n muurkroon van goud, swart gemessel, ’n pluim van drie swart volstruisvere met silwer penne, met middelom ’n goue ring.

Dekkleed: Rooi en goud.

Skildhouers: Regs ’n luiperd en links ’n kameelperd in hulle natuurlike kleure, elk met ’n rooi mantelskulp op die skouer.

Leuse: Virtute et Opera.

Grahamstown (1862)

Verbintenis tussen wapens van 1912 en 1862:
Hierdie wapen (in die tekening staan die skild en skildhouers op ’n grasgrond) vervang die wapen wat oorspronklik vir die Munisipale Raad Grahamstad ontwerp is. Die dorp (tegnies ’n stad, aangesien dit sedert 1853 die setel is van ’n Anglikaanse biskop)[1] is in 1862 as munisipaliteit ingelyf. Een van die raad se eerste besluite was die aanstel van ’n subkomitee wat ’n wapen moes optrek. Hierdie wapen is in September 1862 deur die raad aanvaar.

Hierdie wapen mag so geblasoeneer word:

 

Wapen: Gevierendeel: I en IV: in goud, drie omgekeerde punte van swart; op ’n swart skildhoof, drie mantelskulpe van goud; II en III: in blou, drie ringe van goud, 2 en 1.

Helmteken: ’n Lopende volstruis in sy natuurlike kleure.

Skildhouers: Regs, ’n klimmende luiperd; links, ’n staande kameelperd, altwee in hulle natuurlike kleure.

Leuse: Virtute et Opera.

Verduideliking van 1862-wapen:
Die eerste en vierde kwartiere is die wapen van die dorp se stigter, kol John Graham van Fintry. Die tweede en derde is die wapen van Jan van Riebeeck, eerste kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop (oftewel van sy seun Abraham), met die veld na blou verander. Sy wapen (die skild het ’n anker as skildhouer) is in 1804 aan die Raad der Gemeente Kaapstad verleen, en die drie ringe is later in die wapen van die Kaapkolonie ingelyf. Die voorkoms van Van Riebeeck se ringe simboliseer Grahamstad as deel van die kolonie.

In die geval van Grahamstad (in die wapen van 1862) is altwee familiewapens gewysig. In die wapen van Graham van Fintry, is die skildhoof verkort (sodat daar ’n goue skildsoom is waarop die koninklike binnesoom staan). In die eerste en vierde kwartiere van die wapen van 1862 is die skildhoof steeds verkort, alhoewel die binnesoom weggeval het (aangesien die stad nie hierdie spesiale koninklike vergunning verleen is nie). En in die wapen van Van Riebeeck is nie net die agtergrondkleur verander nie, maar die derde (onderste) ring is groter as die ander twee.

In die wapen van 1912 word die Graham- en Van Riebeeck-elemente gekombineer deur om die ringe op ’n enkele omgekeerde punt te plaas, wat nou rooi is. Die skildhoof is onveranderd.

Die luiperd (Leo pardus) en kameelperd (Giraffa camelopardalis) verteenwoordig wild wat wat eens algemeen was in die distrik Albany (Grahamstad; kyk wapen van Afdelingsraad Albany) en word gesien as simbole van die wilde toestand van die gebied toe die Britse setlaars in 1820 eers aangekom het.

Die volstruis (Struthio camelus) is ook dikwels onder die wild van die omgewing gesien, en het laat in die 19de eeu kommersieel belangrik geword. In die verlening van 1912 het die volstruis drie volstruisvere geword. Hierdie is vlerkpluime, wat in die natuur slegs as spierwit (op manlike voëls) of wit met fyn swart strepies (op wyfies) voorkom. ’n Swart pluimveer is een wat verkleur is, en kan dus gesien word as simbool van die volstruisveerbedryf. (Vir meer inligting oor hierdie bedryf, kyk Oudtshoorn.)

Die leuse, wat “Moed en arbeid” beteken, is dié van die graaf van Fife (sedert 1900 is die graafdom aan ’n hertogdom van dieselfde naam gekoppel). Aangesien die Britse heraldiek min aandag aan leuses gee en nie daarop aandring dat dit aan enige persoon uniek moet wees nie, kan daar teen sy gebruik geen beswaar wees nie. Die bewoording was is gesien as verwysing na die lewe van die vroeë setlaars.

Hierdie vroeë wapen is deur die twee Staatskole wat Graeme College en Victoria Girls’ High School geword het, in gebruik geneem. Altwee het sekere veranderinge daaraan gemaak, maar beide het egter die groot onderste ring van die 1862-wapen behou. Die Graham-wapen kom ook in die wapen van die Hoërskool P J Olivier voor, maar is in hierdie geval nie direk van die munisipale wapen afgelei nie.

Grahamstad se vlag

Vlag van Grahamstad:
In Maart 1984 het die Stad Grahamstad ’n vlag in gebruik geneem, een van ses ontwerpe wat deur die heraldiese deskundige prof Hugh Smith, van Rhodes-universiteit, voorberei is. Tien jaar later is dit geregistreer en is dieselfde dag (in 1994) as die wapen in die Staatskoerant gepubliseer. Sy beskrywing is:

’n Reghoekige vlag in die verhouding 2:3, skuins gevierendeel in rooi en swart, belaai met ’n skuinskruis tussen bo en onder ’n ring, almal van geel, en in die hys- en wapperkant ’n wit mantelskulp.

Geskiedenis van Grahamstad:
Grahamstad tel sy geskiedenis vanaf 1812, toe kol Graham, van die Kaapse Regiment, nadat hy die Zuurveld van amaXhosa skoongemaak het, besluit het om hierdie spesifieke vallei, wat aan die bo-ent van Bloukransrivier (wat in die Kowierievier inloop) lê, as die sentrale beheerpunt in te rig vir die lyn forte wat langs die Visrivier gebou is.

Hy het ’n verlate plaashuis as die middelpunt van die nedersetting gekies, en die offisiere van sy eenheid het hul tente in lyn daarmee uitgelê. Huise is later op die tentpersele gebou, en alhoewel hierdie ry plotte buite belyning was met die plotte wat later langs die huidige Hoogstraat uitgelê is, het die offisiere geweier om ’n nuwe belyning te aanvaar; hierdie eerste ry plotte het die skuins gedeelte van Kerkplein geword. Tydens die jaarlikse Nasionale Kunstefees wat sedert 1974 Juliemaand in Grahamstad gehou is, word die oop ruimte wat deur hierdie “wanbelyning” geskep is, een van die besigste dele van die dorp.

In 1812 is die Zuurveld tot sub-drostdy van Uitenhage geproklameer en is kaptein G S Fraser, assistent-landdros van Uitenhage, te kol Graham se nuwe nedersetting gestasioneer, waarna die nedersetting Graham’s Town genoem is. In 1814 is die Zuurveld ’n aparte distrik verklaar onder die naam Albany.

22 April 1819 was Grahamstad die toneel van die grootste veldslag wat nog daar gewoed het, toe die grootste Xhosa-leër wat ooit bymekaargekom het – ten minste 10 000 mans – teen sonsopkoms aangeval het. Hulle is deur die Xhosa-profeet Makhanda (hy is gewoonlik Nxele genoem) vertel dat sy muti hulle aan koeëls onkwesbaar sou maak. Nxele het persoonlik bevel gehad oor deel van die horde. Die dorpie is verdedig deur ’n garnisoen van slegs 232 soldate met bloot vyf kanon.

Toevallig is hulle bygestaan deur ’n groep van 130 Khoi­khoi buffeljagters wat van Theopolis, die sendingstasie in Benede-Albany van die London Missionary Society, aangekom het. Slegs 2½ uur na die begin van die aanval het die Xhosa hulle geledere gebreek en gevlug, met ongeveer duisend gesneuweldes agtergelaat. Slegs drie Britte is dood en vyf beseer.

Slegs monumente en twee plekname herinner ons vandag van die Slag van Grahamstad: die Xhosa-naam die middedorp, eGazini (plek van bloed), en die koppie wat aan die oostekant oor die dorp troon, Makanaskop.

In 1820 het die Goewerneur, lord Charles Somerset, dit gereël dat Grahamstad die administratiewe sentrum sou wees van die nedersettingskema waarin ongeveer 5 000 Britse setlaars (Engels, Wallies en Skots) per see na Algoabaai geneem is. Die meeste is in landbounedersettings in die distrik Albany geplaas, alhoewel ’n paar grond naby Port Elizabeth toegewys is. Die groep Ierse setlaars is eers op Clanwilliam in Wes-Kaapland gevestig, maar is later toegelaat om in die Oostelike Provinsie te gaan woon.

Al hierdie setlaars word gesamentlik die 1820-Setlaars genoem.

Lord Charles het egter dadelik met verlof Engeland toe vertrek, en vir sir Rufane Donkin as Waarnemende Goewerneur in beheer gelaat. Donkin se ondersoek van die nedersettingsgebied het daartoe gelei dat hy die landdrost na Bathurst verplaas het, en werk aan ’n drostdy is begin. Toe lord Charles egter in 1821 terugkeer is hy woedend met sir Rufane oor die veranderings aan sy reëlings, en is die landdros na Grahamstad terugverplaas.

Aangesien sy status nou verseker is deurdat dit ’n militêre en administratiewe hoofkwartier is, het Grahamstad ook ’n sentrum geword vir die handel, vir ambagte en vir professies. Die Kaapse Parlement het eenmalig daar gesit, in 1864 (die enigste maal dat dit op enige plek behalwe Kaapstad gesit het).

Grahamstad was die hoofsentrum – maar geensins die enigste nie – van die separatiste beweging van die Oostelike Provinsie, en 1864 se sitting van die Parlement was sy enigste sukses. Die beweging het nie saamgehang nie, en skeidings tussen die verskeie oosterse dorpe het daarop neergekom dat dit nie geslaag het in die daarstelling van ’n aparte kolonie nie, en is steeds deur Kaapstad oorheers.

Ook in 1864 het Grahamstad die setel geword van die Eastern Districts Court (Hof vir die Oostelike Distrikte), wat in 1910 die Plaaslike Afdeling Oostelike Distrikte van die Hooggeregshof (Supreme Court) van Suid-Afrika geword het, en in 1957 ’n Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof. Alhoewel die Oos-Kaap teen 1995 reeds drie plaaslike afdelings gehad het, het Grahamstad in daardie jaar sy status behou as setel van die Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof (in Engels tans die High Court). Die stad is ook ’n opvoedkundige sentrum.

Die koms van die spoorweë, wat die hawens met eerstens die diamantvelde van Kimberley en daarna die goudvelde van die Witwatersrand gekoppel het, het die einde gebring van die predominansie van binnelandse dorpe in Oos-Kaapland. Dit was veral die geval vir Grahamstad omdat dit slegs langs ’n kronkelrige taklyn bereik kon word, en Port Alfred (waaraan dit ook gekoppel is) nooit soos Port Elizabeth en Oos-Londen gefloreer het nie.

In die 20ste eeu is Grahamstad gekniehalter deur ’n gebrek aan nywerheid en ’n groot swart bevolking wat baie werkloses ingesluit het. Apart van onderwys en die howe was die hoof-werkgewer die militêre: tydens die Tweede Wêreldoorlog is ’n vliegopleidingskool op ’n plato noord van die dorp (vir die duur van die oorlog) gevestig, en in die laat 1960s is dit ontwikkel in ’n groot infanterie-opleidingsbasis.

Nà die plaaslike regeringsverkiesing van 2000 is Grahamstad saam met Alicedale en Riebeeck-Oos, saamgevoeg in die Plaaslike Munisipaliteit Makana, deel van die Distriksmunisipaliteit Cacadu.

Name van die dorp:
Die naam Rini is tans die gewone Xhosa-benaming vir Grahamstad. Gedurende die apartheidsjare, egter, is dit amptelik gebruik as die naam van die munisipaliteit wat geskep is om die swart woonbuurte te administreer wat voorheen deur die Munisipaliteit Grahamstad bestuur is. Die Munisipaliteit Rini was besig om ’n wapen in gebruik te neem toe daardie owerheid in 1995 met Grahamstad herinkorporeer is.

Streng gesproke behoort Rini as “Rhini” gespel te word, aangesien die eerste klank dié is van die Afrikaanse of Nederlandse G of Skotse CH.

In Afrikaans word gepraat van “Graamstad”, alhoewel baie Afrikaanssprekendes dit verkies om die Engelse naam, Grahamstown, eerder te gebruik. Maar voorstaanders van die Afrikaanse naamvorm wys daarop dat die Boere van die Zuurveld selfs in die tyd van die 1820-Setlaars van “Graamstad” gepraat het.



[1] Grahamstad was voor 1853 die setel van ’n biskop, aangesien die eerste Rooms-Katolieke biskop van Grahamstad reeds in 1847 ingewy is. Maar aangesien die Rooms-Katolieke Kerk geen amptelike status in die Kaapkolonie gehad het nie en die Anglikaanse Kerk destyds die status van Staatskerk met die Nederduitsche Gereformeerde Kerk gedeel het, is katedraalstad-status eers vanaf 1853 erken. Die Rooms-Katolieke bishop se setel is in 1939 na Port Elizabeth verskuif. Grahamstad staan steeds as katedraalstad bekend, alhoewel die konsep van ’n Staatskerk in die Kaapkolonie reeds in die 1860s weggeval het.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Wapen van 1912 deur Munisipaliteit Grahamstad vanaf verleningsbrief gefotografeer; wapen van 1862 vanaf sigaretkaart wat in die 1930s deur United Tobacco Companies (South) uitgereik is; vlag deur die munisipaliteit gefotografeer. Geskiedkundige notas uit (onder andere) die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika en Angus Barnard se Templeton-gedenklesing, in 1992 te Graeme College afgelewer.

  • Skanderings met vergunning van East Cape Weekend.


  • Opvoekundige inrigtings in Grahamstad wat in Armoria academica verskyn: Rhodes University, Graeme College, Kingswood College, Hoërskool P J Olivier, St Aidan’s College, St Andrew’s College, Victoria Girls’ High School and Victoria Primary School.

  • Grahamstad in Armoria ecclesiastica: Bisdom Grahamstad: oorspronklike wapen, huidige wapen.


    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle