Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

KAAPSTAD / CAPE TOWN / IKAPA
Provinsie/staat: Wes-Kaap (voorheen Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Afdeling: Kaap
Magisteriële distrik: kyk onder.
Toevoegings: 1913 Claremont, Groen- en Seepunt, Kalkbaai, Maitland, Mowbray, Rondebosch, Woodstock; 1927 Wynberg.
Ingelyf: 1995, in Metropolitaanse Raad Groter Kaapstad.

Wapen van 1804 / Kasteel die Goeie Hoop / distrik(te)

Kaapstad

Die wapen, soos 29 Desember 1899 deur die College of Arms verleen, mag so geblasoeneer word:

Wapen: In goud, ’n anker in sy natuurlike kleure, met ’n blou lint versier; ’n binneskild van rooi belaai met drie ringe van goud, 2 en 1.

Wrong en dekkleed: Goud en rooi.

Helmteken: Op ’n kort toring van liggeel klip, swart gemessel, ’n anker in sy natuurlike kleure skuins links en ’n drietand skuins.

Skildhouers en grond: Regs die simboliese figuur van Hoop, synde ’n vrou in haar natuurlike kleure, wit geklee, blou gemantel en met sandale op haar voete, wat met haar regterhand ’n anker in sy natuurlike kleure, staande op ’n voorstelling van Duiwelspiek; en links ’n leeu van rooi, staande op ’n voorstelling van Leeukop.

Leuse: Spes Bona.

Wapens van 1804 en 1899:
Die wapen soos geïllustreer is ’n Victoriaanse verwerking van ’n treffende en eenvoudige wapen, wat oorspronklik 12 Junie 1804 deur die Bataafse Republiek1 se Kommissaris-Generaal aan die Kaap, Jacob Abraham Uitenhage de Mist, verleen is.

Advokaat De Mist was nie permanent tot die Kaap aangestel nie, en was ’n beampte wie se taak die ondersoek was van die regeringstelsel van die Nederlandse kolonie – wat die rewolusionêre republikeinse régime van die bankrot Vereenigde Oostindische Compagnie geërf het – en hervormings aan te beveel. Sy rang was hoër as dié van die Goewerneur, generaal Jan Janssens. De Mist het egter so veel gevind wat sy aandag geverg het, dat hy aangebly het vir die duur van die drie jaar voordat Brittanje weer die Kaap ingeneem het.
Raad der Gemeente Kaapstad

As verteenwoordiger van ’n rewolusionêre régime wat in Nederland heraldiek heeltemal afgeskaf het, was dit vir De Mist uitgesproke om nie slegs die voer van wapens te aanvaar nie, maar om wapens te verleen, nie net aan die Raad der Gemeente Kaapstad, maar ook aan elk van die vyf drostdijen, of distriksetels, in die platteland.

Al ses hierdie wapens het ’n anker as enkel skildhouer gehad, en het op sy skild die wapen vertoon van die dorp se stigter of naamgewer.

Vir Kaapstad kies hy die wapen van die Van Riebeeck-familie – alhoewel Jan van Riebeeck, die nedersetting se stigter, nie self ’n wapen gevoer het nie, was sy Middeleeuse voorouers wel wapenvoerders. (Van Riebeeck se tuisdorp was Culemborg, in die provinsie Gelderland.)

Hierdie elegante en eenvoudige wapen kan so geblasoeneer word: In rooi, drie ringe van goud, 2 en 1.

Die wapen is 3 Julie 1804 in die raadskamer van die Stadhuijs2 gepresenteer.

Hy het die wapen met hierdie woorde verduidelik:3 “Die anker wat Goeie Hoop simboliseer, sowel as die goue fondament waarop hierdie anker rus, dui op my wens vir die toekomstige rykdom en welvaart van hierdie nedersetting; dieselfde word gedek en beskerm deur ’n rooi skild wat drie goue ringe4 dra, synde die wapen wat ons almal weet deur u vader en stigter, Van Riebeeck, gevoer is.”

Die oorspronklike seël (met die bewoording “Zegel van de Kaapstad”) van die gemeenteraad, wat in 1804 in die lewe geroep is, was so laat as die 1950s steeds in gebruik, met die toevoeging om die buiterand van die Engelse woorde “The Council of the City of Cape Town”. In hierdie vorm is dit in 1956 amptelik geregistreer.

Die wapen soos bo geïllustreer is in 1899 deur die College of Arms verleen, nadat die Goewerneur ontdek het dat hulle nie deur ’n Britse heraldiese gesag verleen is nie.

Die heroute in Londen het duidelik òf nie verstaan dat die anker ’n skildhouer was nie, òf het hulle hierdie feit geïgnoreer in die lig van Britse heraldiese tradisie, wat normaalweg nie enkel skildhouers toelaat nie. As gevolg hiervan is die anker vaagweg met die skild (nou ’n binneskild) geassosieer deur middel van ’n blou lint wat in werklikheid nie die skild van die anker laat hang nie.

Die geheel is op ’n skild van goud geplaas.

Die helmteken het as basis ’n toring wat die Kasteel die Goeie Hoop simboliseer. Die toring reflekteer egter nie die vorm van die Kasteel nie – alhoewel dit wel in in latere simbole verskyn, beide heraldies en nie-heraldies.

Bo die toring is ’n anker en ’n driepunt gekruis.

Die anker verskyn oor en weer in die heraldiek van die Kaap, en simboliseer hier die veilge hawe van Tafelbaai wat onlangs (in 1899) veiliger gemaak is met die konstruksie van die Alfred- en Victoria-bassin.

Hierdie relatief klein hawekomme (as dit vergelyk word met die Duncan-Dok, wat nà die Tweede Wêreldoorlog gebou is, en verdere omsluitings van die see in die laat 20ste eeu) vorm vandag die Victoria and Alfred Waterfront, ’n geskiedkundige buurt wat ’n verskeidenheid winkels, hotelle, toeristevaarte (soos bootvaarte na Robbeneiland), ’n see-akwarium van internasionale reputasie en ’n brouery van outydse bier akkommodeer, sowel as takkampusse van beide die University of Cape Town (die Graduate School of Business [nagraadse handelskool], wat in die Breekwater-Gevangenis gehuisves word) en die Kaapse Technikon.

Die drietand of driepunt is simbool van Neptunus, die Romeinse god van die see – of sy Griekse gelyke Poseidon, wat ook god was van aardbewings – en stel blykbaar die Atlantiese Oseaan voor in sy verskeie rolle as internasionale handelsroete, bron van die geweldige verskeidenheid vissoorte waarvoor Kaapstad beroemd is, asook die vreesaanjaende storms en stormwinde waarvoor Tafelbaai ook bekend is.

Die regter skildhouer is die simboliese figuur van Hoop, hier waarskynlik geneem vanuit die helmteken van die Kaapkolonie. Sy dra die tradisionele wit rok en blou mantel, en hou die anker (in hierdie wapen, die derde anker!) wat haar identifiseer as simbool van hoop.

Die linker skildhouer is ’n rooi leeu, wat in sy kleuring die leeu van Skotland volg, maar dit kan ook gesien word as verteenwoordigend van die leeus van Engeland, van die Prinsdom Wallis, en van die verskeie provinsies van Nederland. Wilde leeus (Leo leo) was ook in die omgewing van Kaapstad te vinde toe die nedersetting in Tafelbaai sy aanvang geneem het.

Die grond waarop die skildhouers staan is ’n eienaardige Victoriaanse samevoeging, wat deels soos ’n gaslamp-montering lyk, maar bevat ook nie die hele Tafelberg nie, maar slegs Duiwelspiek (of Windberg, soos die Hollanders dit genoem het) en Leeukop, die twee pieke wat weerskante van die berg se hoofmassief staan, soos dit vanuit Tafelbaai gesien word. ’n Gestileerde beeld van die gehele berg kan gesien word as die grond in die wapen van die Provinsie Wes-Kaap, terwyl die oostelike aangesig gesien kan word in die wapen van Rondebosch.

Die leuse, Spes Bona, vertaal as “Goeie Hoop”, en verwys nie net na die kaap aan die suidpunt van die Kaapse Skiereiland nie, maar is ook ’n voortsetting van ’n baie oue tradisie.

Die bewoording is die eerste maal in die heraldiek gebruik in die wapen van die South African College (tans die University of Cape Town en die SA College Schools in Nuweland), en word ook in die wapens gevind van Kaapkolonie, Kaapprovinsie en die Provinsie Wes-Kaap. Die tradisie gaan egter tot in die 17de eeu terug.

Die vroeë nedersetting:
Tafelbaai, en veral die Varsche Rivier5 wat van die berg afloop, was goed bekend voordat enige permanente nedersetting aan die Kaap gevestig is.

In 1620 het twee Engelsmanne, Andrew Shillinge en Humphrey Fitzherbert, die Engelse vlag oor die baai gehys, maar hulle anneksasie is nie deur koning James I erken nie.

Reeds in 1617 is Nederlandse vlote wat na die Spesery-eilande gerig is, beveel om nadat hulle die Kaap die Goeie Hoop omgeseil het, reguit ooswaarts te seil, en dan noordwaarts te draai vanaf ’n punt suid van die Sunda-straat. Dit het beteken dat Mauritius en ander moontlike verversingstasies onbruikbaar was.

’n Gunstige verslag oor die baai is deur die oorlewendes van die wrak van die Nieuw Haerlem ingedien. Hulle het langs die baai gebly vanaf Maart 1647 tot April die volgende jaar. Die retoervloot van 1648, wat hulle opgetel het, het ook groot getalle beeste van die plaaslike Khoikhoi gekoop. Dit was ’n sleutelfaktor, aangesien voorrade van vleis en groentes op St Helena begin kwyn het. Die Engelse het ook in 1651 ernstig beslag gelê op St Helena.

Jan Antonisz van Riebeeck, ’n skeepschirurg wat onder die dissipline van die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) was omdat hy privaat handel gedryf het, is die geleentheid gegee om homself te bewys en is opperhoof gemaak van ’n verversingstasie wat in Tafelbaai gevestig sou word. (Lateraan is hy tot kommandeur bevorder.)

Sy vloot het bestaan uit die Dromedaris, die Reijger en die Goede Hoop, wat 5 April 1652 Tafelberg besigtig het, en die aand van die 6de anker gegooi het, en die Walvis en die Oliphant, wat slegs 7 Mei aangekom het.

Van Riebeeck self het die 7de aan wal gegaan en die dag daarop ’n perseel vir ’n fort uitgemerk. Die vroue en kinders het die 24ste aan wal gegaan en houthutte in gebruik geneem, wat in die tussentyd opgerig is.

15 Mei is die houtfort Goede Hoop vernoem, en sy vier vestings is na die ander skepe van die vloot vernoem.

Sieketrooster Willem Wijlant en sy vrou was op 4 Junie die eerste om die half-beboude fort te bewoon, en twee dae later is hul seun Bernert daar gebore, die eerste Christenkind wat aan die Kaap gebore is.

Die fort het sowat drie dekades gedien, maar in 1664 is ’n besluit geneem om dit met ’n fort van klip gebou, te vervang, gebou in die Renaissance-styl met vyf vestings, wat later die Kasteel de Goede Hoop genoem is. Die perseel daarvan is 60 Rynelandse roede (227 m) suid-oos van die fort uitgelê, en konstruksie is in 1665 begin. Twee jaar later is werk opgeskort omdat vyandighede teen England opgeskort is. Konstruksie is in 1672 hervat, en die gebou (in sy oorspronklike vorm) is in 1679 voltooi.

Die Kasteel se vyf vestings is vernoem na titels van die Prins van Oranje: Buren, Catzenellenbogen, Nassau, Oranje en Leerdam.6

Munisipale regering:
Munisipale regering aan die Kaap het slegs in 1796 begin, toe die Britse owerhede ’n Burgersenaat in die lewe geroep het, met ses lede wat deur die regering aangestel is. Hulle pligte het die versorging van strate, raadgewing in verband met tariewe en belastings, pryse van voedselsoorte, die beloning van artisans, onderdrukking van wantoestande, en die verkryging van brandstofvoorrade.

Onder die VOC was die dorp geheel en al onder beheer van die Goewerneur (of Kommandeur) en die Raad van Politie.

Die Bataafse Republiek het die Burgersenaat hernoem. Die lede is behou, maar hulle is die Raad der Gemeente genoem. In 1805 is die raad ook beheer gegee oor die blus van brande, en die versorging van bejaardes en armes.

In 1806 is die naam Burgersenaat weer in gebruik geneem, en in 1814 het ’n proklamasie die belastings wat die raad mag hef, gestandardiseer.

In 1827 egter is die Senaat ontbind, en vir 12 jaar is die dorp deur die sentrale regering beheer, en is plaaslike belastings in die koloniale Tesourie inbetaal.

In 1836 het die kolonie se Wetgewende Raad die Munisipale Ordonnansie gepasseer, maar Kaapstad is van die toepassing van hierdie wet uitgesluit. Eers in 1839 is ’n verdere ordonnansie deurgevoer (wat in die daaropvolgende jaar geamendeer is) wat die Munisipaliteit Kaapstad gekonstitueer het, met uitsluiting van Groen- en Seepunt aan die een kant, en Papendorp aan die ander.

In 1861 is ’n Munisipale Raad van 12 kommissarisse en 24 wykmeesters geskep, met aansienlik groter magte as dié van 1840.

In 1867 is die raad afgeskaf en vervang deur ’n Stadsraad van 18 lede, drie van hulle verkies deur elk van die ses distrikte waarin die stad verdeel is.

Die Atlantiese kusoorde van Groenpunt en Seepunt is (tesame met Drieankerbaai) in 1839 saamgevoeg as ’n munisipaliteit apart van Kaapstad, onder die naam Groen- en Seepunt. Die munisipaliteit is in 1859 herkonstitueer, en het in 1913 deel geword van Kaapstad.

Woodstock is in 1913 by Kaapstad ingelyf.

Rondebosch is ook in 1913 by Kaapstad ingelyf.

Claremont het in 1886 ’n munisipaliteit geword (met inbegrip van Nuweland). Die dorp het drie spoorwegstasies op die Wynberg-lyn gehad: Nuweland, Claremont en Harfieldweg. Aldrie is steeds in gebruik. Die dorp is in 1913 by Kaapstad ingelyf.

Kalkbaai, 27 km van Kaapstad op die pad Simonstad toe, is vir die kalkoonde vernoem wat in die 17de eeu daar opgestel is. ’n Klein militêre buitepos op Kalkbaai is in 1795 deur die Britte ingeneem tydens hulle opmars teen Muizenberg, waar die hoofveldslag van die Britse landing plaasgevind het.

’n Vissers- en walvissersdorpie het tussen 1806 en 1811 in die baai gevorm, en in die 1860s het dit gewild geword as Suid-Afrika se eerste kusoord. Nà 1872 is die vissersbevolking aangesterk deur ’n aantal Filippynse immigrante. Verdere groei het gekom toe die spoorlyn vanaf Wynberg na Vishoek verleng is.

In 1893 het Kalkbaai en Muizenberg ’n selfstandige munisipaliteit geword, onder die naam Kalkbaai, wat in 1913 by Kaapstad ingelyf is.

Maitland het in 1903 ’n dorp geword. Dit is 1913 by Kaapstad ingelyf.

Die dorp Wynberg het tot 1927 uitgehou, en het toe ook by Kaapstad aangesluit.

In 1995 is die stede Kaapstad en Bellville, die Kaapse Afdelingsraad en die dorpe Pinelands, Milnerton, Goodwood, Parow, Durbanville, Kuilsrivier, Somerset-Wes, Strand, Gordonsbaai, Vishoek en Simonstad gekombineer om die Metropolitaanse Raad Groter Kaapstad te vorm.

Binne die struktuur van die metropolitaanse raad is sy gebied dan onderverdeel in die munisipaliteite Kaapstad, Tygerberg en Suid-Skiereiland. Die Munisipaliteit Kaapstad bestaan uit gebiede aan die ooste-, noorde- en westekant van Tafelberg, sover suid as Wynberg.

Magisteriële distrikte en stadstatus:
Tot in 1913 was Kaapstad slegs die grootste van ’n aantal munisipaliteite in die magisteriële distrik van dieselfde naam.

Die inlywings van 1913 het dit nie net aansienlik uitgebrei nie, maar het dit in twee ander distrikte ingebring, naamlik Wynberg en Simonstad. (Kalkbaai en Muizenberg val steeds onder Simonstad se landdros.)

Kaapstad is in 1867 amptelik as stad geproklameer, maar in terme van die gebruik van die dag het dit reeds 20 Februarie 1848 ’n katedraalstad geword toe Robert Gray, die eerste Anglikaanse Biskop van Kaapstad, geland het. Die ou St George-kerk (St Joriskerk) in Waalstraat (in 1834 amptelik geopen) het toe amptelik ’n katedraal geword, en biskop Gray het daardie aand (dit was ’n Sondag) die diens in die kerk bygewoon.

Aan die einde van die 19de eeu is sir Herbert Baker gevra om ’n nuwe gebou (op dieselfde perseel) in die Franse Gotiese styl te ontwerp, en in 1901 het die hertog van Cornwall en York (later koning George V) die hoeksteen gelê. Die eerste deel is in 1913 voltooi, en die twee transepte is in 1957 voltooi. Verdere bouwerk het tot in die 1980s geduur.

Reeds in 1838 het ’n Rooms-Katolieke biskop in Kaapstad aangekom, maar die Roomse Kerk het nie die status van ’n Staatskerk gehad nie, dus is die teenwoordigheid van ’n Roomse biskop nie in terme van die stad se status getel nie.

Name van die stad:
Die vroegse name vir die gebied rondom Kaapstad wat neergeskryf is, is Khoikhoi-name. Maar hierdie rondtrekkende beeswagters het blykbaar nie ’n vasgestelde naam vir die gebied gehad nie, aangesien die berg wat ons tans as Tafelberg ken, is na verwys as òf Goerikamma (berg by die groot water) òf Ghutais (in wolke verhul).

Die vroegste Europese naam op rekord is ’n verwysing na die mesa (of tafel) wat die Portugese admiraal Antonio de Saldanha7 in September 1503 bestyg het, en sodoende die eerste Europeër geword wat die gehele Kaapse Skiereiland en Valsbaai8 vanuit hierdie gesigspunt gesien het.

Saldanha is self later daardie selfde dag gewond tydens ’n skermutseling met Khoikhoi.

’n Paar jaar later, 1 Maart 1510, is Francisco de Almeida, Onderkoning van (Portugees-)Indië, in ’n soortgelyke skermutseling aan die mond van die Soutrivier doodgemaak. As gevolg hiervan het die Portugese daarna die baai en sy betroubare waterbron vermy, alhoewel hulle dit in latere jare die Aguada (waterplek) de Saldanha genoem het.

In 1601 het die Nederlandse ontdekkingsreisiger Joris van Spilbergen die eerste maal na die berg as Tafel Berg verwys en die baai as Tafel Baaij, en in Nederlandse gebruik het die name so gebly. Hy het ook die naam Saldanha na die suidelike inham aan die Kaap Kolumbyn-skiereiland verplaas.

Nie net die Portugese nie, maar ook die Engelse het voortgegaan om die naam Saldanha vir Tafelbaai te gebruik; Engelse rekords verwys daarna as “Saldanhia” of “Soldania”.

Die vroegste naam van die nedersetting in Tafelbaai was die Portugese “Cabo” – voluit, “Cabo de Goede Hoop” (’n halwe vertaling van Cabo de Bõa Esperança), wat verminder is na “Caab” en wat later in Nederlands as “Kaap” gespel is. Daar is verwys na “het Vlek van de Caab” of die “Caabsche Vlek” (Kaapse gehuggie).

Teen die middel van die 18de eeu het Engelssprekende besoekers na die dorp as Cape Town verwys, en onder die inwoners is dit as Kaapstad bekend. Die naam Cape Town is tussen 1795 en 1803 amptelik gebruik, en weer vanaf 1806.

De Mist het ’n naamsverandering na Van Riebeeck Stad voorgestel, maar daar was min entoesiasme hiervoor.

Ten spyte van die verkryging van stad-status in 1867, is die name Kaapstad en Cape Town tot vandag toe behou.

Voor 1995 het munisipale voertuie, uniforms en wapens die letters CCC (Cape City Council) gedra, maar “Cape” is hier gesien as kort vir “Cape Town”. In Afrikaans was dit KSR.

Die naam Ikapa verskyn bo aan hierdie bladsy, maar alhoewel Xhosa-sprekers ’n aansienlike minderheid in die stad opmaak en ken dit aan hierdie naam vir minstens anderhalf eeue, was dit nie voor 1994 ’n amptelike naam van die stad nie. En reeds in 1995 is dit in die Metropolitaanse Raad van Groter Kaapstad ingelyf.

Ikapa is bloot ’n aanpassing van “Kaap” in isiNguni. Die Xhosa-sprekende volkere was, voordat hulle in die Kaapkolonie ingelyf is, nooit nader as 900 km van Kaapstad af nie. (Vir nadere inligting oor hierdie etniese groep, kyk Ciskei en Transkei.)

Die stad is nooit amptelik Moederstad genoem nie, maar dit is miskien sy gewildste bynaam, waarvan daar etlike ander ook is.


1 Die Nederlandse staat is deur die Franse “Bataafs” genoem in ’n herlewing van name wat met provinsies van die Romeinse Ryk geassosieer is. Lombardye is die Cisalpynse Republiek genoem (’n herinnering aan Cisalpynse Gallië), Switserland die Helvetiese Republiek (’n herinnering aan die Keltiese Helvetii wat in die Romeinse tyd daar geleef het). Nederland was nie deel van die Klassieke Romeinse staat nie, maar die Romeine het sy stamlede as Batavi geken.

Die naam “Bataafs” word soms verkeerd verstaan as horende aan Indonesië, aangesien die hoofstad van Nederlandse Indië (tans Djakarta genoem) die naam Batavia gedra het. Die VOC se goewerneur-generaal (wat oor die Kaap gesag gehad het) was daar woonagtig.

2 Hierdie gebou, destyds die Stadhuijs genoem – vroeër die Burgherwacht Huijs en tans die Ou Stadshuis (Old Town House) genoem – was tot in 1904 die stadsaal. Die plein waarop dit gestaan het, was oorspronklik die Burgerwachtsplijn genoem, was in 1804 as Stadhuijs Plein bekend, en word tans Groentemarkplein genoem.

3 Die woorde wat De Mist self gepraat het, is nie vir my beskikbaar nie. Dit wat tussen aanhalingstekens verskyn is my vertaling van die Engelse weergawe in die Standard Encyclopædia of Southern Africa.

4 Hierdie wapenfigure (in Nederlands “ringen”) word in Engels “annulets” genoem. In Engelse heraldiektaal is ’n “ring” een wat aan die vinger gedra word (in Afrikaans “vingerring”) en het ’n gesteente in hom geset.

5 Hierdie rivier is in die 17de eeu gekanaliseer, en die straat langs sy koers is die Heerengracht genoem – die naam ook van ’n straat/kanaal in Amsterdam. Die kanaal is later omskep na ’n ondergrondse waterleiding.

Nà die suksesvollege veldtog van 1849-50 om die omskep van Kaapkolonie in ’n strafkolonie te keer, is die Britse parlementariër Charles Bowyer Adderley – wat hierdie stryd op Westminster gevoer het – vereer deur die vernoem van hierdie straat as Adderleystraat, en is hy deur die munisipale raad £100 geskenk. Die straatnaam Adderley word ook elders in Kaapland aangetref.

Toe grondreklamasie in die 1940s en ’50s deel van Tafelbaai ingevul het, wat toegelaat het dat die stad tot by die Duncan-dok uitgebrei kon word, is die uitbreiding van Adderleystraat aan seekant (wat as ’n breë boulevard uitgelê is) die ou naam van Heerengracht gegee.

 

6 Hierdie plekname (heerlikhede) is almal Nederlands in vorm, maar is geografies nie almal in Nederland nie. Nassau (die familie se tradisionele setel) en Katzenelnbogen is tans in die Duitse staat Rynland-Palts geleë, en Oranje is die suid-Franse stad Orange. Buren en Leerdam is wel in Nederland, Buren in die provinsie Gelderland en Leerdam in Zuid-Holland.

7 Hierdie naam word eintlik as Sal-danja uitgespreek, eerder as Sal-daa-na of Sal-danna, soos wat gewoonlik in ons land gehoor word. ’n Khoikhoi-man wat, voor 1650, vanaf Tafelbaai na Engeland ontvoer is en daar drie ellendige jare deurgebring het, het die gewoonte gehad om treurig te sê dat hy wil: “Home go, home go to Souldania.”

8 Die Nederlanders het hierdie baai Baay Falso genoem, van die Portugese Bahia Falso. Dit is ook so genoem omdat seevaarders by tye vir Kaap Hangklip, of Cabo Falso, vir die Kaap die Goeie Hoop geneem het, en het dus foutief daar omgeseil. Minstens eenmaal het ’n hele vloot skepe op die baai se noordoewer te pletter geloop.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Geskiedkundige aantekeninge uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa onder ander bronne.

  • Illustrasie van wapen van 1899 met vergunning van International Civic Arms. Swart-wit illustrasie uit Lions and Virgins geskandeer.


    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle