Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

WYNBERG
Provinsie/staat: Kaapprovinsie/Kaap Colonie; tans Wes-Kaap.
Afdeling: Kaap.
Magisteriële distrik: Wynberg.
Toevoegings: –
Ingelyf: 1927, in Kaapstad.

magisteriële distrik / Van Riebeeck / militêre kamp / spoorweg

Wynberg

Die wapen mag so geblasoeneer word:

Wapen: Gevierendeel: I: In rooi, drie ringe van goud; II: In blou, ’n anker van goud; III: In swart, ’n klok-tent in sy natuurlike kleure; IV: In groen, ’n wingerdstok met, bo, drie lelies, alles van goud.

Oor die wapen:
Die eerste kwartier herhaal die wapen van Van Riebeeck. Jan van Riebeeck, stigter van die Kaapkolonie, was die eerste boer op Wynberg.

Die tweede kwartier bring die anker, simbool van hoop en met die figuur van Hoop geassosieer, soos sy gesien word in die helmteken van die wapen van Kaapkolonie en die regter-skildhouer in die wapen van Kaapstad.

Die tent in die derde kwartier stel voor die militêre kamp op Wynberg se heuwel, wat in 1809 die eerste maal gebruik is, en wat steeds ’n belangrike militêre basis is.

Die wingerdstok in die vierde kwartier is simbool van die wynbedryf, wat in die tyd van Van Riebeeck reeds in hierdie deel van Kaapkolonie gevestig is. Dit produseer steeds, alhoewel Wynberg self nie meer wingerde het nie: produksie in die Skiereiland is hoofsaaklik op Constantia, en die hoof-produksiegebied het reeds teen die laat 17de eeu na die Boland verskuif.

Die lelies (fleurs de lys) stel die Franse vlugtelinge van 1688 voor, wie vandag as Hugenote onthou word. Sommige van hulle is spesifiek gewerf vir hul kennis van wynbou en die distillering van brandewyn. Hulle hoofgebied van invloed was die Boland, maar hulle vaardighede is ook op Wynberg benut.

Oor die dorp:
Die naam Wijnberg is in 1658 die eerste maal gebruik toe Jan van Riebeeck, nadat hy gedwing is om sy windbewaaide plaas (tans die Groenpunt-meent) prys te gee, sy plaas (en ook ’n wingerd) op die heuwel bokant die bron van die Liesbeeckrivier uitgelê het. Dit lê onderkant die Agtertafel van Tafelberg.

Die Kommandeur se plaas was op hierdie stadium die suidelikste uithoek van die nuwe kolonie, en die heining van wilde amandel (Brabejum stellatifolium) wat Van Riebeeck langs die kolonie se grens (hoofsaaklik die Liesbeeck) laat aanplant het, het om die plaas gegaan.

Die naam Wijnberg het later na eiendomme verder die heuwel af geskuif (aan suidekant), en die Kommandeur se plaas het die naam Boschheuvel gekry. Honoratus Maynier het in 1805 die eiendom gekoop en dit Protea genoem.

Dit is weer deur die kolonie se regeringshoof bewoon toe sir Lowry Cole (Goewerneur vanaf 1829 tot ’33) dit gekoop het. In 1848 het sir Lowry die eiendom aan biskop Robert Gray, eerste Anglikaanse biskop van Kaapstad, verhuur, en het dit in 1851 aan die Colonial Bishoprics Fund verkoop. Op hierdie stadium het die eiendom formeel die naam Bishop’s Court gekry.

In latere jare is groot dele van die eiendom Boschheuvel/Protea/Bishop’s Court verkoop, en het daardeur ’n gesogte woonbuurt geword onder die naam Bishopscourt (een woord), maar die huis wat oorspronklik deur Van Riebeeck gebou is en deur die jare vergroot, is steeds die ampswoning van die Aartsbiskop van Kaapstad en behou redelik groot gronde.

Die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) het ’n militêre kamp in die Wijnberg-omgewing gehad. Kaarte wat uit 1780 en 1796 dateer toon dat dit op die vlaktes gelê het, in die gebied wat tans Plumstead genoem word, waar daar omstreeks 1826 ’n dorpie begin vorm het. Die Britte het egter hierdie kamp nie gebruik nie, en het eers hul magte by die Kasteel gekonsentreer. Toe die troepe in 1800 die platteland ingestuur is, was die terrein wat gebruik is die Kampgrond in Rondebosch (vandag die Rondebosch-meent). Die Bataafse Republiek (1803-06) het ook die Kampgrond gebruik, en toe die Britte in 1806 weer die Kaap oorgeneem het, het hulle weer die Kampgrond gebruik.

In 1809 het die regering in Wynberg van Alexander Tennant grond verkry, en het so die hedendaagse militêre kamp begin.

In 1827 het Waarnemende Goewerneur sir Richard Bourke voorgestel dat deel van die militêre kamp Wynberg in bouplotte verkoop word. In 1832 is grond ook aan die Nederduitsche Gereformeerde Kerk verleen, en in 1836 aan die Anglikaanse kerk van St John (Johannes).

Die NG Kerkgebou is in 1839 opgerig. Dit is in 1889 aansienlik herbou, en is in 1965 tot geskiedkundige monument verklaar.

’n Groot deel van die dorp wat rondom die twee kerke ontwikkel het, is op die eiendom Klein Oude Wijnberg uitgelê. Hierdie is ’n onderverdeling van die plaas Oude Wijnberg, wat in die vroeë dae van die Kaapse nedersetting bewoon is.

Welvarende Kaapenaars het begin om villa’s in Wynberg te bou, en die dorpie was as vakansie-oord gewild onder Britse beamptes met verlof uit Indië. Teen 1840 het meer as 100 besoekers in of naby Wynberg gebly, hoofsaaklik in die dorpie Kenilworth.

Teen 1850 is die invloei van besoekers uit Indië ingeperk deur die Indiese Muitery, deur vinniger vervoer-verbintenisse met die Indiese subkontinent, en deur die aantreklikhede van Australië.

Die tweede spoorweg in die kolonie is in 1862 vanaf die aansluiting op Soutrivier tot op Wynberg gebou. Die spoorwegstasie is ’n entjie onderkant die dorp gebou, en die gebied wat in die omgewing van die stasie oop geword het, is informeel Plumstead genoem.

Toe die spoorlyn egter suidwaarts verleng is, is die naam Plumstead formeel aan ’n spoorweghalte suid van Wynberg self gegee (die reeds genoemde dorpie rondom die ou militêre kamp van die VOC). Uiteindelik het dit in eie reg ’n groot voorstad geword.

Wynberg het op die ou end vier spoorwegstasies gehad: Kenilworth, Wynberg, Wittebome en Plumstead. (Wittebome se naam kom van die protea-verwante Leucadendron argenteum, of silwerboom – in Nederlands witteboom – wat in die vroeë dae volop was op Wynberg se heuwel.) Al vier is steeds in gebruik.

As gevolg van die gebeure van 1850 was Wynberg in ’n mate verlate, maar in 1886 het die owerheid besluit om aansienlike barrakke en ander militêre installasies in die kamp op te rig, en die dorp het weer lewe gekry.

Die eerste plaaslike munisipaliteit is in 1883 onder die naam Liesbeek gevorm, en het bestaan uit vyf wyke: Mowbray, Rondebosch, Nuweland, Claremont en Wynberg.

In 1886 is Liesbeek opgebreek in die munisipaliteite Rondebosch, Claremont en Wynberg.

Die dorp was vooruitstrewend, en het op die ou end drie water-stoordamme bo-op die Agtertafel gebou: die Victoria-, Alexandra- en De Villiers-reservoir. Ietwat verder noord op die Agtertafel was nog twee wat Kaapstad gebou het, die Woodhead- en Hely-Hutchinson-reservoir. Al vyf is steeds in gebruik.

Die Agtertafel is ook die ligging van die wêreld se grootste sandsteen-grotsisteem, die bestek waarvan eers in die tweede helfte van die 20ste eeu duidelik geword het.

Nà die Suid-Afrikaanse Oorlog het die militêre kamp minder belangrik geword, maar nà die vorming in 1913 van die Unie-Verdedigingsmag het dit weer ’n belangrike sentrum van militêre aktiwiteit geword.

Die dorp Wynberg het ’n uitgebreide openbare oop ruimte gehad in die Wynbergpark, 38 ha boomryke parkgrond en woud.

Tussen die kommersiële gedeelte van die dorp (die oorspronklike “Plumstead”) en die ou dorp lê Maynardville, ook ’n groot openbare park, wat ’n opelug-teater het waar sedert 1956 ’n Shakespeare-fees jaarliks gehou word.

Die dorp Wynberg (met inbegrip van Kenilworth en Plumstead) het in 1927 deel geword van Kaapstad.

Omstreeks 1954 het die argitek Brian (Sonny) Heseltine begin met die restourasie van die ou dorp Wynberg, wat met etlike goeie voorbeelde Regency-boustyl gepronk het. Hy het verskeie wonings in Durban- en Victoriaweg hernieu, en sedertdien het ander verdere ou huise en kothuise hernieu. Die Standard Encyclopædia of Southern Africa doen so verslag (my vertaling): “Deur hulle gesamentlike poging is Ou Wynberg as estetiese, argitektoniese en kulturele geheel hernieu – ‘Little Chelsea’ – wat in Suid-Afrika uniek is.”

Wynberg se ou dorp is in 1981 as konserveringsgebied aangewys.

Naam van die dorp:
Alhoewel die naam in Nederlands as Wien-berg uitgespreek word (die IE word effens verleng), is dit in Afrikaans net Wyn-berg. Die verengelste vorm reflekteer ook die gedagte van wyn – Whaain-buhg.

Magisteriële distrik:
Die dorp Wynberg was ook (en die voorstad is steeds) die setel van die magisteriële distrik (sedert 1958, landdrosdistrik) Wynberg, wat heelwat wyer strek as die eermalige munisipaliteit. Dit reik tot aan die Atlantiese kus, en sluit dus Houtbaai en Llandudno in, en sluit die dorpe (wat 1913 in Kaapstad ingelyf is) Mowbray, Rondebosch en Claremont in, asook die Constantia- en Tokai-gebied suid van Wynberg en die meeste van die Kaapse Vlakte.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Geskiedkundige aantekeninge uit die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika en ander bronne.

  • Wapen herkonstrueer vanaf ’n sigaretkaart-illustrasie van die wapen van Wynberg Boys’ High School; die kaart uitgereik deur die United Tobacco Companies (South).


    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle