Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

RONDEBOSCH
Provinsie/staat: Kaapprovinsie (vroeër Kaapkolonie, sedert 1994, Wes-Kaap)
Afdeling: Kaap
Magisteriële distrik: Wynberg.
Ingelyf in: Kaapstad (1913)

Groote Schuur / Kampgrond / Doorn Bosje

Rondebosch

Die wapen soos geïllustreer is, heraldies gesproke, baie swak. Dit lyk nie of dit ooit geregistreer is nie. Die foto toon ’n venster van geskilderde glas in die Rondeboschse Stadsaal, ’n gebou wat steeds in gebruik is, alhoewel dit vandag ’n tak van die Kaapstadse Stadsbiblioteke, eerder as ’n burgersaal.

Oor die wapen:
Sentraal in die ontwerp is ’n landskap, omsluit in ’n horisontale ovaal deur ’n kousband (dit imiteer die blou kousband in die Britse koningswapen).

Die landskap bestaan uit ’n akkurate afbeelding van Tafelberg en Duiwelspiek (wat die Hollanders Windberg genoem het) met ’n fantastiese middel- en voorgrond. (Tafelberg kan ook in die wapen van Wes-Kaap gesien word, terwyl ’n effens anderse perspektief van Duiwelspiek gesien kan word in die wapen van Westerford High School.)

In die middelgrond is ’n woud waarin die Anglikaanse Sint Pauluskerk gesien kan word, wat glo gebou is op die perseel van die Ronde Doorn Bosje (kyk onder).

Onderkant die woud is die noord-suid Hoofweg wat die suidelike voorstede van Kaapstad koppel (oorspronklik die heel eerste wapad in die kolonie) wat die Liesbeekrivier met ’n brug oorsteek en waarvan ’n ooswaartse pad afdraai wat in onder-Rondebosch inlei. (In werklikheid lê die brug ’n paar kilometer rivier-op, by Westervoort/Westerford.)

Regs is die Stadsaal met ’n koepel wat in werklikheid nooit by die struktuur bygevoeg is nie. (Die gebou staan eintlik op die regteroewer van die rivier, nie die linkeroewer soos aangetoon nie.)

In die voorgrond is die stoomtrein wat Wynberg toe geloop het op die spoorweg wat in 1862 gebou is – een van die eerste in die kolonie (en steeds ’n noodsaaklike vervoerroete).

Tot in 1890 het die dorp Rondebosch vier spoorwegstasies gehad: Observatory (aan die grens met Woodstock), Mowbray, Rosebank en Rondebosch. Nà 1890 het Mowbray en Observatory buite die munisipaliteit geval.

Die kousband dra die leuse Nisi dominus frustra. Dit vertaal as “Sonder die Here is alles vergeefs” – wat toevallig een van die die twee leuses is van die (Nederduitse) Reformed Church in America.

Die helmteken is die simboliese figuur van Britannia, met ’n gepluimde helm. Sy hou ’n ovaalvormige skild van die Britse Unievlag (die sogenaamde Union Jack) en ’n drietand. Langs haar is ’n skaap (regs) en ’n koei (links). Britannia simboliseer die oorweldigende Britse karakter van Rondebosch in die laat 19de eeu, ten spyte van sy Nederlandse begin, en die vee verteenwoordig die dorp se landbou-oorsprong.

Die skildhouers, ’n leeu (Leo leo, regs) en ’n (natuurlike) luiperd (Leo pardus, links), beeld wild wat in die vroeë jare in die omgewing gevind is. Hulle staan op ’n lint met die inskrywing “Rondebosch Municipality”, en tussen hulle pote is blom-embleme, (pienk) distels vir Skotland, klawerblare (shamrocks) vir Ierland en pienk rose. (Dit is waarskynlik ’n fout, want dit is blykbaar veronderstel om die Tudor-roos van Engeland te wees, wat rooi en wit in ’n enkele bloeiwyse kombineer.)

Oor die dorp:
Rondebosch se oorsprong is naby verwant aan die vroeë geskiedenis van die Kaapkolonie. Landbou-pogings naby die fort in Tafelbaai – in die Tafelvallei en aan die seekant van Vlaeberg – is deur die sterk suid-oos- en noord-westelike winde gefrustreer. In 1656, vier jaar nadat die Nederlandse nedersetting gestig is, is grond die eerste maal langs die Liesbeekrivier (op hierdie stadium die Amstel- of Versse Rivier genoem) en eksperimenteel koring en hawer gesaai.

Ná die sukses van die eksperiment het Kommandeur Jan van Riebeeck beveel dat die Ronde Doorn Bosje – ’n landmerk langs die wapad wat langs die Liesbeek se linkeroewer gevorm het – binne platgemaak moet word en omskep word in ’n kraal, of as ’n vesting gebruik word.

10 Augustus 1657 is sewe beamptes van die Vereenigde Oostindische Compagnie tot vryburgers verklaar en (12 Augustus) grond langs die Liesbeeck verleen. ’n Groep vryburgers onder leiding van Steven Botma het hulle naby die Ronde Doorn Bosje gevestig en het as die Stevens Colonie bekend gestaan, terwyl die VOC te Rustenburg, sowat 200 m noord van die Bosje, ’n tuin gevestig het.

In 1957 het Rondebosch die drie-eeufees van die stigting van die eerste nedersetting vryburgers in Suidelike Afrika gevier.

Rustenburg:
Dieselfde jaar, 1657, is ’n huis van gebrande stene vir die hooftuinier van die VOC se tuin op Rondebosch gebou, sowat 200 m noord van die Bosje, voor die wapad wat tans Hoofweg, Rondebosch, is. In 1670 is die huis vergroot om ’n plattelandse woning te word vir Kommandeur Pieter Hackius, wie die huis Rustenburg genoem het en wie in 1671 daar oorlede is.

“Die Kommandeurs en Goewerneurs van die Kaap het Rustenburg in die somer as ’n vakansiehuis gebruik, toe hul woonkamers in die Kasteel ondraaglik warm geword het.” Dit het tot 1751 voortgegaan, toe Goewerneur Ryk Tulbagh ’n huis op die VOC se plaas de Nieuwe Landen (tans Nuweland) gebou het (tans Newlands House genoem), en het Rustenburg oorgelaat vir die gebruik van die Secunde of vir belangrike gaste.

’n Tuinhuisie is in 1760 aan die bo-ent van die eiendom gebou. (Tans die eiendom van die Universiteit Kaapstad, is dit in 1960 ’n nasionale monument verklaar.)

Die huis het ongeveer 1780 ’n tweede verdieping bygekry, met as ’n plat dat en ’n dakkamer. Vier pilasters is tot die fasade toegevoeg.

Die bankrotskap van die VOC het in 1792 die verkoop van die meeste van sy eiendomme gedwing, maar Rustenburg was in ’n swak toestand, en het onverkoop gebly. In 1795 was dit waar die terme van oorgawe onderteken is, toe dit ook in die hande van die Britse regering geval het. Maar alhoewel dit die tuiste was van die militêre bevelvoerder, generaal Dundas, vanaf 1798 tot 1801, was dit nooit weer die tuiste van goewerneurs nie. Dit is in 1802 aan Johannes Hoets verkoop, wie blykbaar die vier groot steunpilare vooraan bygevoeg het.

In die laat 18de eeu is ’n meisieskool in die huis gestig, maar soos dit gegroei het, het dit groter persele bekom. Vandag staan Rustenburg Girls’ High School ’n paar kilometer weg, naby die Rondebosch-Meent, terwyl Rustenburg Girls’ Primary School die gronde van Huis Rustenburg gebruik. Die huis self, wat in 1941 tot geskiedkundige monument geproklameer is, word as skolekunssentrum gebruik.

Groote Schuur en Westbrooke:
Nog twee huise in Rondebosch het in die omgewing se geskiedenis ’n belangrike rol gespeel: De Schuur, tans Groote Schuur; en De Onder Schuur, later Westbrooke en tans Genadendal. Altwee hierdie huise lê aan die bergkant van die St Pauluskerk.

In 1657 het die VOC ’n graanskuur gestig wat bekend geraak het as De Schuur of De Coorenschuur. Hierdie gebou, wat die tuiste van die Schuurmeester ingesluit het, is in 1791 verkoop. Dit het daarna dikwels van eienaaar verander. In 1812 is die naam na De Groote Schuur, en is ’n tweede skuur in ’n woonhuis omskep, wat nou De Onder Schuur genoem is.

In 1832 is De Onder Schuur deur Regter William Westbrooke Burton gekoop. Hy het daaraan sy tweede naam gegee. Tot aan die einde van die eeu het die een goewerneur na die ander dit bewoon. ’n Weduwee wat in 1879 Groote Schuur gekoop het, het die naam daarvan na The Grange verander.

In 1891 het Cecil John Rhodes The Grange gekoop, en begin om al die klein stukkies grond terug te koop wat oorspronklik daaraan behoort het, Westbrooke ingesluit, en het daarby nog 600 hektaar bygekoop – daardeur het hy dit ’n geweldig groot landgoed gemaak wat ’n groot stuk berg ingesluit het. Hy het die naam Groote Schuur teruggebring, maar het die naam Westbrooke behou.

Die huis Groote Schuur is in die verlede verskeie male herbou, maar in 1896 is dit deur brand verwoes, en Rhodes het vir sir Herbert Baker opdrag gegee om dit te restoureer. Baker, onbewus van die oorspronklike vorm, het dit herbou volgens een van sy latere voorkomste as ’n dubbelverdieping woonhuis.

In sy testament het Rhodes die gehele landgoed Groote Schuur oorgelaat aan ’n toekomstige “federale” staat van Suid-Afrika. Vanaf 1910 tot ’84, toe die amp afgeskaf is, was die huis Groote Schuur die tuiste van al Suid-Afrika se Eerste Ministers.

Westbrooke het vanaf 1910 tot ’61 as residensie van die Goewerneurs-Generaal gedien, en het daarna as presidensiële woning gedien totdat president P W Botha besluit het om in Groote Schuur aan te bly. (Botha het ook die eermalige Government House, ’n goewerneurs-/presidensiële woning langsaan die Parlement in Kaapstad, laat restoureer onder die naam Tuynhuis [sy oorspronklike naam was The Garden House], en dit as sy hoofwoning en werksplek aan die Kaap gebruik.) Groote Schuur het later ’n museum geword.

Sedert 1994 dien Westbrooke (wat in ’95 Genadendal hernoem is) weer as presidensiële residensie in Rondebosch.

Tydens die 1920s het die Universiteit Kaapstad ’n nuwe kampus (steeds die universiteit se hoofkampus) op die Groote Schuur-landgoed bokant Rondebosch en Rosebank gevestig.

Rondebosch en Mowbray:
Rondebosch en Mowbray deel ’n etlike stuk oop grond, tans bekend as die Rondebosch-Meent, wat tydens die Napoleontiese Oorloë die militêre Kampgrond geword het. Die Kampgrond is gelos toe die militêre kamp te Wynberg in 1809 gestig is. Die naam Campgroundweg herinner aan die militêre funksie. Hierdie straat loop noord-suid langs die meent se westekant. Dit begin in Mowbray en loop deur Rondebosch en Nuweland. In Claremont sluit dit by Hoofweg aan by die aansluiting met Proteaweg, oorspronklik ’n vertakking van die wapad wat na Jan van Riebeeck se plaas geloop het (kyk Wynberg).

Die eerste plaaslike munisipaliteit is in 1883 onder die naam Liesbeeck gevorm, en het bestaan uit vyf wyke: Rondebosch, Mowbray, Nuweland, Claremont en Wynberg.

In 1886 is Liesbeek opgebreek in die munisipaliteite Rondebosch, Claremont en Wynberg. R M Ross het die eerste burgemeester geword van Rondebosch, wat op daardie stadium ook Rosebank en Mowbray ingesluit het.

’n Perde-drinkfontein van gegote yster is in 1891 by die padaansluiting onderkant die St Pauluskerk opgerig. Dit is in 1964 tot geskiedkundige monument geproklameer.

Mowbray het in 1890 ’n aparte munisipaliteit geword. Rosebank het egter tot in 1913 deel gebly van die Munisipaliteit Rondebosch. In 1913 het Rondebosch en Rosebank aparte voorstede geword van Kaapstad.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Foto deur mev P F Oettle, geskandeer met vergunning van die Evening Post, Port Elizabeth.

  • Geskiedkundige bron: Standard Encyclopædia of Southern Africa (Nasou), onder andere. Waar aanhalings verskyn, is dit my eie vertaling.


    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle