Armoria ecclesiastica

Biskop Robert Gray

Eerste Anglikaanse biskop van Kaapstad (1847-1872)

Biskop Robert Gray

ROBERT Gray, eerste Anglikaanse biskop van Kaapstad, het ’n seel gebruik waarop die wapen van sy bisdom die skild deel met sy familiewapen.

Ongelukkig het die seël merke daarop wat misleidend is, en is dit wel en goed dat Fred Brownell[1] beide ’n tekening van die wapen en ’n blasoen voorsien het.

Die wapen van die bisdom verskyn, soos die gebruik is waar ’n biskop se wapen op ’n gedeelde skild getoon word, op die regterkant (vir die volle blasoen en ’n verduideliking van hierdie wapen, kyk hierdie bladsy).

Die blasoen van die familiewapen lui:

 

In rooi, met lelies bestrooi, ’n klimmende leeu van silwer, binne ’n ingeskulpte skildsoom van hermelyn.

 

Aangesien hierdie lelies van silwer is, en die leeu ook, is daar hier geen verwysing na die lelies van Frankryk (goud op blou).

Die sogenaamde lelie is ’n wapenfiguur wat in algemene gebruik is, wat blykbaar in Vlaandere ontstaan het, en op die flappie gebaseer is (dit is tydens die Middeleeue bekend as ’n soort lelie). Vir die mees waarskynlike oorsprong van die heraldiese lelie, kyk hierdie bladsy.

Die skildsoom verskyn slegs op die buiterand van die skild: dit is die gebruik waar twee wapens ’n skild deel, dat hierdie wapenfiguur nie aan die binnekant staan nie.

Brownell skryf:[2] “Hierdie wapen, wat agter op Robert Gray se eenvoudige oorspronklike troon, en in die heelwat meer swierige biskopstroon[3] van die aartsbiskop (wat deels gemaak is uit deel van die orrelskerm van die Westminster-abdykerk), wat in die Sint Joris-katedraal, Kaapstad, staan, is die (ou) wapen van die Bisdom Kaapstad gedeel met Gray se familiewapen.

“’n Groot soortgelyke kombinasie verskyn ook op Robert Gray se biskopseël, met die bewoording buite om: THE SEAL OF ROBERT GRAY. D.D. BISHOP OF CAPE TOWN 1847. In hierdie seël word die veld van die Gray-wapen egter as blou geruit (in plaas van rooi), en is dit met hermelynspikkels besaai, in plaas van lelies.”

In ’n voetnoot noem Brownell dat die boek The Blazon of Episcopacy, deur W K Riland Bedford, die Gray-wapen toon soos deur sy vader, ook Robert Gray, gevoer. Hy was vanaf 1827 tot ’34 biskop van Bristol – dit wil sê, dieselfde familiewapen gedeel met die drie goue krone op swart van die Bisdom Bristol.



[1] In Heraldry of the Church of the Province of Southern Africa, 1847-2000, deur F G Brownell, uitgegee deur Heraldsholme CC, Pretoria 2002.

[2] My vertaling.

[3] Brownell gebruik hier die Latynse woord cathedra, wat die korrekte benaming is vir die biskopstroon; vandaar die katedraal, of kerk waarin die biskop sy cathedra hou.

Die woordeboek gee die Afrikaanse ekwivalent as of biskopstroon of kateder. Die woord kateder dui in die algemene Afrikaanse gebruik eerder op ’n stander (in Engels lectern).


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na index van biskopswapens

Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle