Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

WOODSTOCK
Provinsie/staat: Kaapprovinsie (vroeër Kaapkolonie, sedert 1994 Wes-Kaap)
Afdeling: Kaap.
Landdrosdistrik: Kaapstad.
Ingelyf: in Kaapstad (1913)

Papendorp / Soutrivier / Observatory / Lawrence G Green /Wolraad Woltemade / spoorweë / Soutrivier-aansluiting

Woodstock

Aangesien hierdie wapen slegs tot in 1913 in gebruik was, en ’n ongewone soort landskap toon, is dit redelik seker dat dit slegs daarin amptelik was dat die munisipale raad dit aangeneem het. Dit kan so geblasoeneer word:

 

Wapen: Gesny, twee seetonele; die skildhoof toon ’n sinkende driemas-skip, die skildvoet ’n perd en ruiter wat in onstuimige na die lnkerhand swem, die ruiter gee sy hand na regs uit om hulp te verleen; alles van natuurlike kleur.

Helmteken: ’n Regop anker met tou omgewend met, sy kop op die linkerarm rustend, ’n dolfyn duikend en geboog, alles in natuurlike kleur; bo-oor die geheel ’n vlootkroon van goud.

Skildhouers: Weerskante ’n rooi leeu.

Wapenspreuk: Per mare per terras.

 

Die twee tonele wat op die skild voorkom hou verband met die gebeure van 1 Junie 1773, toe ’n Nederlandse skip, De Jonge Thomas vroegoggend op ’n sandbank sowat 300 meter van die strand by die Soutriviermond vasgesteek en begin sink het.

Die skip het begin opbreek, en vele bemanningslede het strand toe probeer swem. Die koue water en die sterk rivierstroom het egter verseker dat slegs die heel sterkste swemmers die strand bereik het; die meeste van hulle is Tafelbaai in verspoel en het verdrink.

Soos dit gewoonlik gereël is toe ’n skip te wrak geloop het, is ’n militêre wag op die strand gepos om plundery te voorkom. Daaronder was korporaal Christian Ludwig Woltemade. Teen sonop het sy vader, die sowat sewentigjarige Wolraad Woltemade, ’n suiwelboer, van sy huis af op sy perd, Vonk, strand toe gery om vir die korporaal kos te bring.

Ou Woltemade het besluit om sy perd na die skip te laat swem en vir twee matrose aan te sê om aan Vonk se stert vas te hou. Sewe maal het hy uitgegaan en het hy veilig 14 manne aan wal gebring. Toe hy egter die 15de poging maak was albei uitgeput en die skip het begin opbreek. Ses manne het aan perd en ruiter vasgeklou, en daardeur die redders sowel as hulself verdrink.

In totaal het slegs 53 van die bemanning van 191 oorleef, van wie 14 hulle lewens aan Woltemade snr te danke gehad het (kyk onder).

Die helmteken dui op die noue verband tussen die dorp en die see. Die anker verteenwoordig die seevaart in die algemeen en spesfiek die Kaapkolonie. Die vloot­kroon dui op verbintenisse met die Britse Vloot, en die dolfyn die seelewe.

Franklyn en Tanner[1] noem dat die dolfyn “in die legende en in oorvertellings vanuit voor-Christelike tye geëerd is. Simbolies van die liefde en van goedaardigheid, ywer en spoed; die vriend van seevaarders wat hy met genoeë in die geval van skipbreuk sou red.”

Die leeus is miskien aangeneem na aanleiding van die enkele rooi leeu wat die linker-skildhouer is in die wapen van Kaapstad.

Die wapenspreuk vertaal as Ter see en op land.

 

Kunsweergawes:

Die illustrasie hierbo is ’n moderne weergawe van die dorp se wapen wat aangevra is deur die Woodstock Improvement District.

Dit is ’n Artikel 21[2]-maatskappy wat gevorm is om die profile van die voorstad Wood­stock[3] te verhef deur om die basiese dienste wat deur die Stad Kaapstad aangebied word, aan te vul en te verhef. Daardeur wil dit ’n koöperatiewe benadering tussen die stad en die privaatsektor in die voorsiening van munisipale dienste fasiliteer; die ophef van benarde sake- en gemengde gebruik-gebiede te fasiliteer; ekonomiese groei en behoubare ontwikkeling bevorder; en om belegging te fasiliteer.

Die maatskappy se webwerf is hier.

wapen soos deur die Stadsraad Woodstock gevoer

Die (ietwat vae) swart-wit illustrasie regs dateer terug tot die 19de eeu en and is meer soos die wapen soos dit in werklikheid deur die munisipale raad gevoer is.

Daar is etlike verskilpunte. Eerstens, in die skildvoet word die perd getoon met sy kop na die ruiter gedraai, terwyl die moderne tekening die perd wys waar sy kop na die linkerkant kyk.[4]

In die helmteken is die dolfyn wat in die moderne weergawe verskyn ’n natuurlike dolfyn, en verteenwoordig blykbaar die Atlantiese stompneusdolfyn (Tursiops truncatus). Die 19de-eeuse illustrasie toon egter ’n kreatuur met finne en skubbe. In die Middeleeue het die geleerdes geglo dat die dolfyn ’n vis is, nie ’n soogdier nie, en die heroute het dit gevolglik op hierdie wyse geteken.

Dit is interessant dat St Michael’s Church in Observatory (in die gebied wat vóór 1913 onder Woodstock geval het) ’n anker en dolfyn in sy wapen inlyf om die verband met die dorp te onderstreep. In die parogiewapen word die dolfyn egter regop getoon, kop na bo en met sy stert op die anker se linkerblad; maar in die dorpswapen is die dolfyn in ’n duik-houding en geboog.

Laastens toon die modern weergawe albei leeus as staande – soos wat leeu-skild­houers konvensioneel voorkom. Tipiese Victoriaans toon die 19de-eeuse weergawe egter as spelerig, sy stert in die lug, sy voorpote op die grond en sy kop in lyn met die agterkwart van die regter-leeu.

 

Oor die dorp:

Die Standard Encyclopædia of Southern Africa beskryf Woodstock as ’n industriële en residensiële voorstad van Kaapstad, sowat 2 km oos van die Stadsaal.

Die naam Papendorp is die eerste maal aan die omgewing gekoppel toe Pieter van Papendorp teen die einde van die 18de eeu daar gewoon het.

Soutrivier, wat ook deel was van die dorp Woodstock, lê 3 km oos van die Stad­saal en het gevorm naby ’n drif oor die rivier wat daardie naam dra. Teen 1665 het dit uit ’n herberg en etlike vissermanshuise bestaan. In 1800 is ’n graanmeule daar opgerig.

In 1601 het Joris van Spilbergen die Soutrivier die Jacqueline genoem, terwyl Jan van Riebeeck dit soms Hollands Rietbeecq genoem het, en by ander tye Zout Rivier.

In koloniale tye het die Soutrivier twee mondinge gehad, een aan die noord­ooste­like kant van Paardeneiland[5] (wat in daardie tyd werklik ’n eiland was), en die ander aan die suiderent van die Milnerton-strandmeer.

Hoër op staan dit nog altyd bekend as die Dieprivier. Dit ontstaan naby Riebeeck-Kasteel, vloei by Vissershok verby en voer die Rietvlei voordat dit by Milnerton die strandmeer vorm. Dit vloei aan die suiderent van die strandmeer die see in.

SESA noem:[6] “Vandag vloei die Soutrivier slegs by sy noordelike uitgang die see in. Die suidelike deel leef voort slegs in etlike vleitjies wat tussen Paardeneiland en Brook­lyn stagneer” – in die vroeë tyd was dit die rivier se roete tussen die strandmeer en die monding by Paardeneiland.

Die Liesbeeck-[7] en Swartrivier, wat oorspronklik takriviere was van die Sout­rivier, is tans langs die suidelikste loop van die Soutrivier gekanaliseer om by die see in te vloei.

SESA noem dat die Franse Lyne – fortifikasies wat in 1782 gebou is deur Franse troepe wat tydens die Amerikaanse Vryheidsoorlog die Kaap verdedig het – vanaf Fort de Knokke in die huidige Woodstock tot aan die hange van Duiwelspiek[8] (wat toe Windberg genoem is) geloop het. ’n Alternatiewe naam is die Munnik-lyne.

“Die oorblywende deel van een van die forte steun tans ’n muur van die trollie­bus-depot by die ou Tolhek.”[9]

In 1806 is die verdrag waarvolgens die Bataafse Republiek die Kaap aan Brittanje oorhandig het (dit dan die tweede Britse besetting van die kolonie) is op ’n plaashuis naby Papendorp geteken. Die huis het ’n eeu gelede steeds bestaan, maar is lankal afgeslaan. Wat oorbly is die Ou Verdragsboom wat in Verdragpark staan, waar besoekers aan die verdrag herinner word deur ’n monumentjie met ’n geelkoper gedenkplaat.

Verder uit SESA: “Nog wonings is langs die hoofweg[10] gebou, naby Van Papen­dorp se huis, in die eerste helfte van die 19de eeu, en teen 1845 was daar ’n Engelse kerk en skool. In die tweede helfte van die eeu het ontwikkeling versnel, veral nà die koms van die spoorweg vroeg in die 1860s, en Papendorp het ’n modieuse woonbuurt geword. Amalgamering met Soutrivier het in 1881 plaasgevind.”

Vir verdere bespreking van die spoorweg, kyk hieronder.

Lawrence G Green lewer in sy boek Grow Lovely, Growing Old[11] hierdie koddige beskrywing van hoe die dorp sy naam gekry het:

“In die vroeë tagtigs het die idee na vore gekom om ’n aantal landgoedere in ’n nuwe munisipaliteit byeen te bring – Papendorp, Altona, Roodebloem, Leliebloem en Soutrivier. Ook in hierdie tyd het die inwoners van Papendorp besluit dat die naam van hul voorstad moet verander, en is gevra om te stem ten gunste van New Brighton of Woodstock. Hierdie was hotelname. Die lieflingskroeg van die vissermanne was die Woodstock, en hulle stemme het toe gewen. Die spoorwegstasie het nietemin tot in 1885 Papendorp gebly. Toe die naamplaat verwyder is en die karweiers ‘Woodstock! Wood­stock!’ begin uitroep het, was daar van die meer konserwatiewe mense op die perron ’n hewige antwoord van ‘Papendorp! Papendorp!’”

Voort met die verhaal van SESA: “Daar was ’n mooi oop strand wat beide Kaapenaars en besoekers dikwels besoek het, maar vanaf ongeveer 1903 was daar ’n oplewing in bouwerk, met die oprig van fabrieke, spoorweg-ontwikkeling en geleidelik vermeerderende samedringing. Woodstock is in 1913 in Kaapstad ingelyf. Die laaste van Woodstock-strand het in die vroeë 1970s verdwyn toe die uitbreidings van die Tafel­baai­hawe gebou is.”

In sy laaste jare was die strand al hoe meer besoedel. Aangesien dit naby die hawe gelê het (veral nadat die Duncan-dok geopen is) het oliebesoedeling na vore gekom. Tans is dit ’n groot saak by diere-aktiviste wat veroliede seevoëls red, hulle was en dan aanhou totdat hulle vere weer met waterbestande natuurlike olies bedek is.

’n Amuserende stukkie uit daardie tydperk is hierdie variasie op ’n ou kleuter­liedjie:

 

Mary had a little lamb,

Its fleece was white as snow.

She took him onto Woodstock beach

– en kyk hoe lyk hy nou!

 

Die stad se hoofmark vir vars produkte was jare lank op Soutrivier, maar in 1961 is dit na Epping verskuif.

 

Wolraad Woltemade:

Die redder ter see is in die Duitse graafskap (later ’n Fürstentum of vorsdom) Schaum­burg-Hessen,[12] ongeveer 1708 gebore, die seun van ’n boer. Soos vele ander Duitsers in sy tyd het hy die diens ingetree van die Vereenigde Oostindische Compagnie en is hy na die Kaap die Goeie Hoop gestuur.

Sy van is ook ingeskryf as Woltemate of Woltemath. Dit is blykbaar dat hierdie laaste weergawe die naaste is aan die oorspronklike vorm; toe hy deur die VOC in diens geneem het, het dit ’n Nederlandse vorm aangeneem. Sy voornaam was blykbaar Wohlrath.

A P J van Rensburg[13] noem dat Woltemade se vrou, Janna Charlotte, waarskynlik nooit Kaap toe gekom het nie. Christian (of Christiaan) Ludwig, die jongste seun, was blykbaar die enigste familielid wat ook uitgekom het.

Woltemade self is in 1749 as soldaat Kaap toe gestuur, toe hy reeds oor die 40 was. Tussen 1752 en ’55 is hy as korporaal gestasioneer by die compagnie se buitepos by die Steenberge, waarna hy terug is Europa toe. In 1770 het hy weer by die VOC diens geneem as korporal, en is hy op Muizenberg gestasioneer.

Vanaf 1771 het die VOC hom as suiwelboer laat werk op die klein plasie Malta, wat blykbaar later deel geword het van die dorp Woodstock.

Van Rensburg skryf dat hy “ook die sorg gehad het van die compagnie se diere, veral van die melkkoeie in die VOC se tuin”, en verder: “Hy was bekend vir sy harde werk, eers as soldaat en later as aanhouer van diere, maar soos wat die gebruik was met die normale besoldiging van die laagste range in die compagnie se diens, het sy betaling nooit nege gulde per maand oorskry nie.”

Nadat Woltemade verdrink het, het sy lyk die volgende dag op die strand gelê en is hy sonder seremonie in ’n onbekende graf begrawe.

In Nederland is ’n pas voltooide skip De Held Woltemade genoem, en sy weduwee het by die VOC ’n geldgeskenk ontvang. Van Rensburg skryf:

“Alhoewel die Nederlandse beeldhouer Hendrik van Velzen ’n voorstelling van Woltemade se heldedaad op die agterskip van De Held Woltemade in 1773 beeldgesny het, was dit eers tydens die Van Riebeeckfees van 1953 dat daar in Suid-Afrika aan ’n monument in sy eer gedink is. Vier jaar later is Ivan Mitford-Barberton se brons standbeeld van ’n ruiter in Pinelands, naby Kaapstad, onthul, en in 1973 het die Poskantoor ’n gedenkseël ter ere van Woltemade uitgereik.”

Van Rensburg fouteer egter. Ek haal aan uit korrespondensie met Arthur Radburn:[14] “Die eerste gedenkteken vir Woltemade was blykbaar ’n suil, deur Thibault ontwerp, wat gen Janssens ongeveer 1804 op die Parade laat oprig het. Dit verskyn in enkele 19de-eeuse prente van die Parade, maar dit is later verwyder. Angesien die vlak van [die Parade] nooit vernuwe word nie, neem ek aan dat dit vernietig is. Een van die beste kuns-uitvoerings daarvan was, my dunk, die ontwerp vir die gewese Woltemade Dekorasie vir Heldhaftigheid, wat oorspronklik (1939) die Koningsmedalje vir Heldhaftigheid was. Dit was die wen-inskrywing in ’n landswye kompetisie vir die ontwerp van die medalje.”

Van Rensburg skryf: “Van die oorspronklike vier spoorwegstasies wat die naam Woltemade gedra het, het slegs een steeds daardie naam, en die Woltemade-begrafplaas naby Kaapstad staan deesdae algemeen bekend as die Maitland-begrafplaas.”

Hy noem nie die ligging van daardie eermalige stasies nie.

Dit is miskien jammerlik dat die naam Woltemade tans so nou verband hou met Pinelands, aangesien die standbeeld op die terrein is van Mutualpark, hoofkwartier van die Ou Mutual, en die spoorwegstasie daar naby, aangesien Woltemade se heldedaad op die Woodstock-strand plaasgevind het en die plaas waar hy gewoon blykbaar deel geword het van Woodstock.[15]

Die stasies Woltemade en Mutual (naby mekaar op die trajek van Kaapstad na Bellville) en Pinelands (op die Kaapse Vlakte-lyn) dien almal die eermalige munisipaliteit Pinelands, asook gebiede aan die ander kant van die spoorlyne.

 

Spoorwegontwikkeling:

Die spoorlyn,[16] wat beplan is om Kaapstad met Wellington te verbind, is oorspronklik veronderstel om op Papendorp te begin, en die seremonie van die delf van die eerste spit het 31 Maart 1859 naby Fort de Knokke, deel van die Franse Lyn, plaasgevind. Goewerneur sir George Grey het aan die geleentheid deelgeneem (hy het die datum gereël sodat dit saamval met die maandelikse parade van die vrywilligerkorps) en het self, met ’n silwer graaf, die turf in ’n kruiwa ingelaai terwyl 21 kanonne gevuur het. ’n Skare van 6 000 het bygestaan, ten spyte van aanhoudende reën.

Enige spoorwegkonstruksie nader aan Kaapstad sou probleme optel weens die militêre verdedigings lans die strand, en eers na aansienlike argumente tussen leidende figure in die kolonie is daar ’n ooreenkoms gemaak oor ’n perseel vir die stasie in Kaapstad, tussen Strand- en Kasteelstraat. Uitgrawings he 4 Januarie 1861 begin.

Ironies het die eintlike konstruksiewerk op die lyn ’n paar kilometer van Wellington begin.

Die eerste lokomotief wat op die spoorlyn geloop het, het 24 Oktober 1860 vanaf Papendorp na Soutrivier gery. ’n Skare van etlike duisende het toegejuig.

Oponthoude in konstruksie en twiste tussen die spoorwegmaatskappy en die gekontrakteerde konstruksiemaatskappy het gedurende Oktober 1861 na geweld gelei en ’n lokomotief is die 17de ontspoor. Suid-Afrika se eerste staking om besoldiging wat boekgestaaf is het 2 November plaasgevind, toe die werkers opgehou werk het. Eers 13 Februarie 1862 is die trajek sover as Eersterivier geopen.

Soutrivier het 19 December 1864 amptelik ’n spooraansluiting geword toe die lank gesloerde 10 km-spoorlyn na Wynberg geopen is.

Die Wynberg-trajek het soos ’n komiese opera uitgespeel. Dit is deur ’n maatskappy wat om hierdie doel gestig is, gebou, maar is toe in terme van ’n ooreenkoms deur die Wellington spoorwegmaatskappy geopereer. Toe die Wellington-firma in 1869 kennis gegee het dat die ooreenkoms die volgende jaar sou verstreek, het die Wynberg-maatskappy ewe skielik homself in die moeilikheid gevind, wat dit was kort aan geld, vaardigheid en spoorwegtuie, en kon die trajek nie opereer nie.

Op die lange duur het die koloniale regering die Wellington-maatskappy in 1872 oorgeneem het en die Cape Government Railways gevorm het, alhoewel die Wynberg-maatskappy eers 1876 oorgeneem het.

Die oorspronklike spore is volgens die Britse standaard van 4vt 8½dm (1,498 m) gebou. Vanaf 1873 was die CGR besig om na 3vt 6dm (1,0068 m) oor te slaan, in voorbereiding op die uitbreiding van die bestaande trajekte die binneland in tot by Kimberley. Die verandering van die Wynberg-trajek na hierdie spoorbreedte, en die verdubbeling daarvan, is vroeg 1882 amper voltooi.

Tussen 1873 en ’82 het treine tussen Kaapstad en Soutrivier (en verder op albei trajekte) ’n aansienlike tyd lank op twee spoorbreedtes gery.

In 1913, dieselfde jaar waarin Woodstock in die heelwat vergrote Kaapstad ingelyf is, het die CGR deel geword van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, tesame met die hawerade van Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen, plus die Natal Government Railways en die Central South African Railways.[17]

Soutrivier was 9 Junie 1926 die toneel van ’n spoorwegramp toe ’n volgepakte trein uit Kaapsstad ontspoor het in en die pilare van die brug by die stasie kort na 5nm vasgery het, met aansienlike verlies aan lewens. Onder dié wat dood is, was sir Malcolm Searle, Regter-President van die Kaap.

Terwyl die reklamasie van Roggebaai en die bou van die Duncan-dokke stories is wat eintlik onder die opskrif van Kaapstad vertel behoort te word, en nie Woodstock nie, kandit genoem word dat daar in 1952 aan die seewaartse kant van Woodstock ’n aansienlike goedereloods opgerig is op gereklameerde grond. In die lig van die Van Riebeeck-Drie-eeufeesvieringe van 1953 is dit Culemborg genoem, ter erevan Jan van Riebeeck se geboortedorp.

Deur die goederewerf is daar ook ’n spoorlyn vir passassiersneltreine uitgelê, met stasies genaamd Esplanade (wat Woodstock dien) en Ysterplaat (eintlik aan die linkeroewer van die Soutrivier, terwyl die Lugmagbasis Ysterplaat langs Brooklyn lê).

In 1957 was daar ’n botsing tussen twee treine op Esplanade waarin 19 mense dood is. Dit was in die vroeë jare van die elektriese skakeling van spoorwissels, en dit het geblyk dat die skakel wat gebruik is, vervaardig deur Siemens van Duitsland, foutief was omdat dit onbewus in die verkeerde rigting gewissel kon word. Van daardie tyd af het Siemens wêreldwyd ’n beveiligingsapparaat geïnstalleer wat hierdie moontlikheid uitgesluit het.

Verdere aantekeninge uit SESA lui:

“Woodstock het twee spoorwegstasies gehad: die huidige een, die eerste stasie van Kaapstad langs die hooflyn, en ’n tans ongebruikte stasie langs die Soutrivier-kragstasies naby die eermalige Woodstockstrand. Hierdie tweede Woodstock-stasie het die Milnerton-lyn gedien, ’n privaat-spoorlyn sowat 7 km lank onder beheer van die Graaff-Trust. Milnerton was die eerste eindpunt, naby die ou plaas Jan Biesjes­kraal. Die lyn in 1908 is vir passassiers- en goederevervoer oopgemaak en verleng vanaf Milnerton-stasie (later afgebreek) tot by die Ascot-renbaan, maar in 1916 is die meeste van die spore opgebreek. Die oorblywende deel van die spoor, sover as Paardeneiland, is aan die Staat oorgegee en word steeds vir goederevervoer gebruik.”

Sedert die skrywe daarvan is die roete deur die Culemborg-werf aansienlik uitgebrei, en neem dit passassiers op ’n noordelike roete met haltes op Monte Vista, De Grendel,[18] Avondale en Oosterzee voordat dit op Bellville by die hooflyn aansluit.



[1] In An Encyclopædic Dictionary of Heraldry deur Julian Franklyn en John Tanner (Oxford, 1970); my vertaling.

[2] Gevorm volgens Artikel 21 van die Wet op Maatskappye (No 61 van 1973), wat voorsiening maak vir die vorming van maatskappye sonder deelhouer-kapitaal.

[3] Woodstock, soos dit vandag bestaan, dek slegs ’n deel van die eermalige munisipale gebied, aangesien die suidelikste deel in Observatory ingelyf is.

[4] Die heraldiese regs en links word hier verduidelik.

[5] Perde het daar gewei.

[6] Volgens my vertaling.

[7] Die Liesbeeck ontstaan in die huidige Nasionale Botaniese Tuin Kirstenbosch, waar dit gevoed word deur strome uit klowe in die Agtertafel van Tafelberg. Dit loop deur bo-Nuweland en steek Hoofweg by Westerford-brug oor. In Rondebosch loop dit tussen Hoofweg en die spoorlyn, terwyl dit in Rosebank, Mowbray en Observatory onderkant die spoorlyn loop.

Die eerste Vryburgers is in 1657 langs die Liesbeeck plase uitgedeel.

Naby die Suid-Afrikaanse Sterrewag vloei die Liesbeeck in die Swartrivier, wat dan van hierdie punt af algemeen bekend staan as die Soutrivier. Op die linkeroewer lê die Soutrivier-spoo­rwegwerkswinkels.

[8] Om Duiwelspiek te sien, kyk die wapens van Rondebosch, Kaapstad en Wes-Kaap. St Michael’s Church toon ’n abstrakte voorstelling van die bergpiek.

[9] Dit is omstreeks 1970 geskryf, toe Kaapstad steeds ’n uitgebreide netwerk trolliebuslyne tussen Seepunt en Wynberg gehad het.

Voor die middel van daardie dekade is hulle buite diens gestel, en die depot (wat oor­spronk­lik ’n tremloods was) is afgebreek. Dit wil voorkom asof die oorblywende dele van die fort ook op daardie stadium verdwyn het.

Die betrokke fort was deel van die Franse Lyne, maar het nader aan die berg gestaan as Fort de Knokke.

[10] Die heel eerste pad aan die Kaap was ’n spoor (moontlik oorspronklik deur wilde diere gemaak) waarlangs waens gevaar het tussen die Kasteel en die plase langs die Liesbeeckrivier.

Feitlik presies op hierdie spoor loop die straat wat tans Hoofweg heet. Dit is so genoem deur die dorpe Woodstock, Mowbray, Rondebosch, Claremont, Wynberg en Kalkbaai, en gaan deur tot by Simonstad. Dit loop ook deur Vishoek, wat in die tyd toe Woodstock ’n munisipaliteit was, bloot ’n plaas was.

Die naam Hoofweg gaan egter nie die grens oor van die munisipaliteit Kaap­stad soos dit vóór 1913 bestaan het nie; daar dra dit die naam Sir Lowryweg.

Die hoofstraat wat deur Groenpunt, Seepunt en Kampsbaai loop heet ook Hoofweg, maar behalwe dat dit ook ’n vroeë wapad was, het dit met Sir Lowryweg of die Hoofweg van die suide­like voorstede geen direkte verbintenis nie.

[11] Alhoewel ek voorheen hierdie stukkie gelees het, is dit vir my uitgesoek deur Arthur Radburn, ’n heraldiek-entoesias wat in Claremont, Kaap, gebaseer is. Hy het ’n webwerf getiteld South African Heraldry.

Radburn was ook heel behulpsaam met die verkryging van die illustrasies wat op hierdie bladsy voorkom, asook met ander aspekte van hierdie navorsing.

Green se boek is 1951 deur Howard Timmins in Kaapstad gepubliseer. Die vertaling is myne.

[12] Hierdie staatjie het sy naam verleen van die kasteel en dorp Schaumburg, wat vandag deel is van die Land Niedersachsen.

Die oorspronklike graafskap Schaumburg is dinasties verdeel. Die suidelike en oostelike dele (waaronder Schaumburg self) het onder die keurvorsstaat Hessen geval, en die noordelike en westelike dele (waaronder die helfte van die Steinhuder Meer) onder die the Fürstentum Lippe as Schaumburg-Lippe. Ironies het Schaum­­burg-Hessen aan Lippe gegrens. Hierdie (Hessiese) deel het uiteindelik deel geword van die Koninkryk Pruise.

Die twee dele van Schaumburg is sedert 1946 deel van Niedersachsen, en is as enkele Kreis herenig. Dit kan op hierdie kaart gesien word, naas Hannover.

Die naburige Lippe behoort aan die Land Nordrhein-Westfalen. Die Land Hessen lê suid van hierdie distrikte.

[13] Waar hy in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek skryf.

[14] My vertaling.

[15] Die presiese ligging van die plaas Malta is vandag onbekend. Dit was miskien naby Maltaweg, in Observatory, of miskien was dit naby Papendorp. Volgens een teorie was dit langs die strand anderkant Paardeneiland.

[16] Inligting oor spoorwegkonstruksie uit Early Railways at the Cape, deur Jose Burman (Kaapstad, 1984).

[17] Hierdie administrasie het die spoorweë beheer van die eermalige Orange River Colony en Transvaal Colony.

[18] Die spoorwegstasie De Grendel lê sowat 5 km suid van die plaasopstal De Grendel, tuiste van die baronette Graaff.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Inligting uit verskeie bronne, onder andere die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek en die Standard Encyclopædia of Southern Africa.


Terug na indeks van munisipaliteite

Terug na Armoria civica-indeks

Terug na to Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle