Armoria familia
http://uk.oocities.com/wapenspreuk

Kolonel John Graham van Fintry

deur Mike Oettle

Sir John James Graham / Sir Thomas Lynedoch Graham

KOLONEL John Graham het ’n stewige nalatenskap in Suid-Afrika agtergelaat, veral in die grensgebied waar die dorp wat hy in 1812 gestig het, Grahamstad, ’n militêre, administratiewe, juridiese en opvoedkundige sentrum geword het. Hy was met ’n afstammeling van die heel eerste permanente setlaar aan die Kaap getroud, en onder sy kleinseuns was twee tot ridder geslaan, een as Sekretaris van Justisie in die Kaapkolonie, die ander as Regter-President van die Eastern Districts Court (Hof van die Oostelike Distrikte) in Grahamstad.

Sy wapen mag so geblasoeneer word:

 

wapen van Graham of Fintry

Wapen: In goud, drie omgekeerde punte benede ’n skildhoof van swart waarop drie goue mantelskulpe, die geheel binne ’n koninklike binnesoom van rooi.

Helmteken: ’n Feniks in vlamme.

Leuse: Bon fin.

Twee aspekte van hierdie wapen is tipies Skots:

Eerstens die koninklike binnesoom (’n rooi dubbele streepbinnesoom, of verdubbelde dun strepie binne-om die skilduitlyn, met ses rooi lelies of fleurs-de-lys wat afwisselend dwars daaroor gelê is), wat die Skotse koningswapen uitmerk van die wapen van die Skotse konings se neefs, die vroeë grawe van Fife, en wat onder Skotse families en munisipaliteite ’n merk geword het van koninklike erkenning.

Dit is al dikwels in eretoevoeging verleen, dikwels om ’n koninklike huwelik te merk (die koning se skoonpa of swaer sou so vereer word, en die vergunning aan sy nageslag oorgee).

Die koninklike binnesoom is buite Skotland seldsaam, en word nooit verleen behalwe om ’n spesifieke koninklike vergunning te merk nie.

Om die binnesoom te akkommodeer, strek die swart skildhoof nie soos gewoonlik tot aan die bo-ent of die kante van die skild nie, maar is verkort – dit staan aan drie kante terug van die skildrant, wat die rooi binnesoom toelaat om teen ’n goue agtergrond te verskyn.

Tweedens verskyn die leuse op ’n lint nie onder die skild nie maar daarbo en rondom die helmteken. Skotse wapenvoerders het dikwels twee leuses, een miskien ’n besieling in Latyns, die ander dikwels ’n strydkreet (Gaëlies: slughorn) of in Skots (’n versamelnaam vir die Engelse dialekte wat benoorde die Engels-Skotse grens gepraat word). Hierdie leuse, egter, is Frans. Dit beteken “’n Goeie einde”, of “Einde goed”.

Daarbenewens bevat die wapen drie mantelskulpe, simbool van die pelgrimstog. Hierdie skulpe word in groot getalle gevind langs die strande van Compostela, aan die Atlantiese kus van Galicia in Spanje, perseel van die pelgrimsoord van die Apostel Jakobus die Grote[1] wie, volgens oorlewering, in sy sendingsreise tot sover wes gevorder het. Drie mantelskulpe verskyn in die wapen van die Hoof van die Klan Graham, tans die hertog van Montrose. Die hertog se wapen is gevierendeel, met die eenvoudige Graham-wapen van in goud, op ’n swart skildhoof drie mantelskulpe van goud, in die eerste en vierde kwartiere. Die tweede en derde kwartiere bevat elk drie rose, simbool van die hertogdom.

Die breuk, of merk van verskil, wat Graham van Fintry van die klan-hoof apart uitken, was oorspronklik ’n getande skeidslyn tussen die swart skildhoof en die goue skildveld. Die tandings het egter mettertyd verleng totdat hulle drie swart omgekeerde punte, of verlengde driehoeke, geword het. In Afrikaanse en Nederlandse blasoen is die punt normaalweg ’n verlengde driehoek wat uit die skildbasis boontoe opstoot; daarom dat hierdie punte omgekeerd geblasoeneer word. In Engels dui die woord pile op ’n punt wat normaalweg van bo af met sy punt na onder wys; ’n pile inverted is dan ’n normale punt.

Oor John Graham:
John Graham is 24 April 1778 in Dundee, Skotland, gebore, die tweede seun van Robert Graham, laaste laird van die Fintry-landgoed en 12de verteenwoordiger van die Grahams van Fintry in Forfarshire,[2] en sy vrou, Peggy Milne. Die Fintry-tak van klan Graham is afgestam van sir William Grame, laird van Kincardine in die vroeë 15de eeu en voorvader van die hertoë van Montrose (hierdie titel is in 1707 geskep). Die Montrose-tak is egter van sir William se eerste huwelik afgestam, terwyl die Fintry-tak van sy tweede huwelik, aan die lady Mary Stuart, dogter van koning Robert III, afstam.

John Graham is 13 Maart 1821 in Wynberg, Kaap, oorlede.

Hy het in die ouderdom van 16 sy kommissie gekry as lid van die Britse 90th Regiment, wat in 1794 deur sy klan-genoot Thomas Graham van Balgowan (later lord Lynedoch) op die been gebring is. Ná twee ekspedisies na Frankryk in die laat 1790s is hy as vleueladjudant tot die graaf van Chatham aangestel en het saam met hom in Nederland gedien. Hy het drie jaar saam met sy regiment op Guernsey deurgebring, en is toe in 1803 na Ierland gestuur, waar hy adjunk-kwartiermeester-generaal geword het.

Ná die dood in 1799 van sy oudste broer en van sy vader in 1816, het John die 13de verteenwoordiger geword van die Fintry Grahams.

Hy het (as majoor in die 93rd Regiment) aan die Slag van Blouberg (Januarie 1806) deelgeneem, waardeur Brittanje weer die Kaap beset het (die tweede maal wat Brittanje die Kaap ingeneem het). Teen 26 Januarie is hy (as luitenant-kolonel) bevel gegee van die Cape Regiment. (Hierdie eenheid, ook bekend as die Corps of Hottentots,[3] is in 1804 deur die Bataafse Republiek op die been gebring as die Regiment Pandour. Sy lede is spesifiek onder die oorgaafsartikels toegelaat om onder die Britse vlag aan te sluit. Sy offisiere was hoofsaaklik blanke koloniste.)

Die regiment het sy basis aan die militêre kamp Wynberg gehad (steeds vandag in gebruik deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag). Graham het dit as ligte infanterie opgelei, vaardig om in lig beboste gebied uitmuntende diens te kan lewer.

Graham is in 1811 saam met sy korps, tesame met Britse beroepsoldate en met behulp van Boere-kommandolede uit die distrikte Swellendam, Graaff-Reinet en Uitenhage, om die wigtigste militêre opdrag van sy loopbaan te onderneem: die verwydering van die sowat 20 000 amaXhosa onder Ndlambe[4] wat hulle onlangs in die Suurveld gevestig het.

Hierdie distrik, tussen die Boesmans- en Visrivier, was eintlik anderkant die kolonie se grense soos in 1778 deur Goewerneur Joachim von Plettenberg geproklameer. Mislees deur beide Nederlandse en Britse owerhede van Plettenberg se grens (wat onder ander grense die Groot Visrivier, ’n takrivier naby die huidige Cookhouse, genoem het) het gelei tot die mistasting dat die Suurveld (wat in die tyd van Goewerneur Von Plettenberg se besoek aan die grenssone nie Xhosa-gebied was nie) reeds deel van die kolonie was.

Graham het teen 1812 sy taak volbring, en op die verlate leenplaas De Rietfontein, voorheen die eiendom van Lucas Meyer, het hy Graham’s Town, in die hart van die Suurveld, as die sentrale militêre pos gestig. Die nedersetting het gedien as vesting en bevelspos vir ’n reeks forte langs die Visrivier. 14 August daardie jaar is hy as adjunk-landdros (siviele en militêre kommissaris) aangestel vir die Suurveld, wat nou formeel die sub-drosdy Albany (deel van die drosdy Uitenhage) genoem is. Hy het aan die eermalige leenboere van die Suurveld ’n versoek gerig om terug te kom, maar die Goewerneur, sir John Cradock, het ander planne gehad.

24 Julie 1812 is Graham getroud met Johanna Catharina Cloete (1790-1843), dogter van Roedolph Cloete (1762-1816), van Westervoort (later Great Westerford) in Rondebosch, Kaap. Hulle het ’n seun en drie dogters gehad. Roedolph was die seun van die eerste Hendrik Cloete van Constantia, Kaap, en ’n afstammeling van Jacob Klute (of Cloete), uit Keulen, die eerste permanente setlaar aan die Kaap, wie blykbaar in 1652 saam met Jan van Riebeeck aan wal gekom het.

John Graham se enigste seun Robert was later siviele kommissaris van Albany. Robert het drie seuns gehad: John James (*1847 †1928, kyk onder), Francis George Cathcart (*1853 †1922), en Thomas Lynedoch (*1860 †1942, kyk onder), en ’n aantal dogters.

Sy hele lewe lank was John Graham ’n arm man. “Al wat hy verdien het, het gegaan om sy ouers en sy nege ongetroude susters finansieel te steun”.[5] Een suster, Helen Christian Graham, is in 1816 met advokaat Hendrik (Henry) Cloete getroud).

In September 1812 het ’n uitgeputte lt-kol Graham die oostelike grense verlaat en saam met sy vrou in Brittanje besoek afgelê. Terwyl hy met verlof oorsee was, het hy weer onder sy eermalige bevelvoerder, sir Thomas Graham gedien. Hy het hom Nederland toe vergesel as militêre sekretaris en vleueladjudant. In Januarie 1814 is hy tot volle kolonel bevorder en in Maart daardie jaar het hy aan die aanval op Bergen-op-Zoom deelgeneem. Tydens sy afwesigheid van die Kaap het hy voorgestel dat 500 Skotse Hooglandse pagters in die Suurveld (Albany) gevestig word.

Cradock het dit goed gedink om nie net hierdie voorstel af te wys nie, maar om (as onnodig) die Visrivierforte af te skaf. Dit het gelei tot die inval van 1819 in die Suurveld, wat op die Slag van Grahamstad uitgekom het.

Onder die nuwe Goewerneur, lord Charles Somerset, sou daar verdere veranderinge volg, soos wat kol Graham ná sy terugkeer na die Kaap in 1815 uitgevind het. Sy pos in die oostelike distrikte is afgeskaf, en in 1817 is die Cape Regiment (ook nie die laaste maal nie) ontbind.

Hy het die pos aanvaar van kommandant van Simonstad, ’n gebied wat die vlootbasis aan die Kaapse Skiereiland se Valsbaaikus ingesluit het, alhoewel hy in werklikheid weereens op Wynberg gestasioneer is. Hy is tot sy dood in hierdie posisie.

In Oktober 1820 het Waarnemende Goewerneur sir Rufane Donkin hom die eerste landdros van die aparte distrik Albany aangestel, maar sy gesondheid het gekeer dat hy hierdie aanstelling aanvaar. Hy is in die ouderdom van 42 oorlede en is in die Somersetweg-begraafplaas in Kaapstad begrawe. Hierdie kerkhof is meer as ’n eeu gelede opgegrawe, en dit is nie bekend wat van sy grafsteen geword het nie.

In 1912 is ’n monument in Hoogstraat, Grahamstad, opgerig, op die plek waar die doringboom gestaan het waaronder Graham die besluit gemaak het om die nedersetting te stig.

Sir John James Graham van Fintry:
Kolonel Graham se kleinseun John James Graham is 21 Februarie 1847 te Wynberg gebore, oudste seun van Robert Graham en Eliza Anne Grey. Hy is 17 Desember 1928 te Nuweland oorlede. Ná sy vader se oorlye het hy die 15de verteenwoordiger van die Grahams van Fintry geword.

Hy het sy skoolopleiding op St Andrew’s College, Grahamstad, deurgemaak. Hy het in 1864 ’n interskole-kompetisie in klassieke studies gewen en het die staatsdiens betree as klerk tot die magistraat van Albany. In 1865 is hy bevorder tot die kantoor van die registrateur van die Eastern Districts Court (Hof van die Oostelike Distrikte) te Grahamstad. Hy het as assistent-registrateur van die Supreme Court (Hooggeregshof) in Kaapstad gedien, en was daarna registrateur en meester van die Eastern Districts Court. In 1878 het hy hoofklerk tot die Prokureur-Generaal van Kaapland geword. In 1882 is hy bevorder tot Sekretaris van Justisie. In ’84 word hy hoë balju en takseermeester van die Supreme Court, maar het in ’89 weer Sekretaris van Justisie geword. Hy het hierdie posisie (wat beheer oor tronke en strafkolonies ingesluit het) tot sy aftrede in 1908 behou. In ’85 is hy aangestel om ondersoek in te stel op die bestuur van die Breekwater-strafkolonie, en in ’87 om ondersoek in te stel op die strafkolonie te Clifton.

Hy is in 1899 die CMG[6] toegeken, en in 1905 tot ridder geslaan as KCMG.[7]

In 1873 is hy met Annie Julia Murison getroud; hulle het vier seuns en ’n dogter gehad.

Sir Thomas Lynedoch Graham:
Soos sy broer John, het Thomas Graham die St Andrew’s College bygewoon. Daarna was hy op die South African College, Kaapstad, en Clare College, Cambridge, in Engeland. In 1885 is hy as advokaat toegelaat (called to the bar) by die Inner Temple in Londen, en in dieselfde jaar is hy ook in die Kaapse Hooggeregshof as advokaat toegelaat.

Nadat hy eers onsuksesvol die kiesafdeling Beaufort-Wes betwis het, is hy in 1898 as lid van die Progressive Party tot die Kaapse Parlement verkies. Hy was vir sewe maande van ’98 in sir Gordon Sprigg se Kabinet Prokureur-Generaal. In Sprigg se vierde ministerie was hy Koloniale Sekretaris (1900-02) en het in 1902 weereens Prokureur-Generaal geword. Vir ’n paar maande in 1902 was hy ook Waarnemende Eerste Minister. In 1904 is hy aangestel as gewone regter van die Eastern Districts Court. Hy is dadelik gestuur as voorsitter van die Kommissie van Ondersoek in die Kaapse Staatsdiens (Cape Civil Service Enquiry Commission). Ná Uniewording (1910) is hy in 1913 aangestel as Regter-President van die Plaaslike Afdeling Oostelike Distrikte van die Hooggeregshof van Suid-Afrika, en in 1918 was hy voorsitter van die Kommissie van Ondersoek in die Unie-staatsdiens.

Sir Thomas het tot sy aftrede van die regsbank in 1937 Regter-President gebly. Hy was toe 77.

In 1891 is hy met Aimye Ismena Gavin getroud, en het twee seuns en ’n dogter gehad.

Wapengebruik:
Die wapen van Graham van Fintry dateer uit die tyd voor die stigting van die Lyon Court, die heraldiese gesag vir Skotland. Die wapens van verskeie Grahams is deur die eeue heen verleen of gematrikuleer. Matrikulering is ’n soort registrasie wat eie is aan Skotland; dit is heelwat goedkoper as ’n verlening, en laat ’n wapenvoerdende familie toe om die kontinuïteit van sy wapengebruik te behou, terwyl dit Lyon Court toelaat om tred te hou met ontwikkelings binne ’n familie.

Robert A Laing van Colington deel my mee dat die Fintry-wapen op seëls van 1478 en 1615 (met sowel as sonder die binnesoom) en in die Workman’s-manuskrip (ook sonder die binnesoom). Kadette (jonger seuns) van Fintry het egter reeds op ’n vroeë stadium die wapen met die binnesoom gevoer. Sommige van hierdie kadet-wapens is aan die Lyon Court gematrikuleer. ’n 16de-eeuse portret van sir David Graham van Fintry (deur Zuccaro) toon die wapen met die binnesoom.

’n Matrikulasie is twee geslagte lank geldig: met ander woorde vir die matrikulant en vir sy oudste seun. Jonger seuns in Skotland moet hulle eie wapens matrikuleer mits hulle dit volgens Skotse wet wil vertoon.

John James Graham sou van sy geboorte af die reg gehad het om die wapen van Fintry met ’n baresteel te voer, aangesien hy gebore is ná sy oupa se afsterwe. Ek het geen datum vir sy vader se afsterwe nie, maar sou van daardie tyd af op die ongedifferensiëerde wapen van Fintry geregtig gewees het. Indien sy vader die wapen sou gematrikuleer het, sou dit vir hom onnodig gewees het om te hermatrikuleer. Maar nadat hy ridder geword het, sou hy dit miskien nodig geag het om van die College of Arms in Londen ’n wapenverlening te soek. Met óf ’n matrikulasie óf ’n verlening sou hy ’n illustrasie van sy wapen verkry het waarin die wapenskild omring word deur die kraag van die Orde van St Michiel en St Joris.

As jonger seun sou Thomas Lynedoch Graham outomaties sy wapen moes laat matrikuleer aangesien hy nie op die ongedifferensiëerde wapen van Fintry geregtig was nie. Volgens die Stodart-sisteem, waarvolgens Skotse familiewapens sedert die 19de eeu gematrikuleer is, sou hy een van die merke van die derde seun ingevolge daardie sisteem toegeken word.

Dit word nie in my bronne genoem wanneer hy ridder geword het nie, maar tot in die 1920s het ridderskappe Regter-Presidentskappe in Suid-Afrika vergesel, dus sou hy in 1913 of kort daarna sy ridderskap ontvang het.

Dit is ook moontlik dat hy dit nodig gevoel het om deur die College of Arms ’n verlening te soek, in plaas van deur die Lyon-kantoor, in welke geval hy outomaties die wapen van Graham van Fintry met toevoeging ’n vyfpuntige sterretjie sou gekry het. In Engeland word ’n sterretjie altyd as merk van ’n derde seun gebruik, terwyl onder Stodart hierdie breuk slegs in sekere geslagte toegeken word.

Ek is deur The Baronage Press ingelig dat majoor John James Graham van Fintry, wie 4 Mei 1931 in Londen gebore is, die onveranderde wapen van Graham van Fintry 7 Desember 1972 by die Lyon-kantoor gematrikuleer het.



[1] Jakobus, in Spanje as Santiago bekend en in Hebreeus as Ja’akov. Hy en sy broer Johannes (Joganan) word deur die Evangelie van Markus as die “manne van die donder” (Boanerges) genoem.

[2] Forfarshire, later Angus genoem, het onder die herorganisasie van Skotse streeksbestuur van 1975 deel geword van die streek Tayside.

[3] Alhoewel die term Hottentot tans erken word as ’n beledigende naam vir die Khoikhoi-volk, is dit in daardie tyd algemeen aanvaar, en geen ander naam is aan Europeërs bekend nie. Die gewone lede van die regiment kan misien beter beskryf word as Kaapse Kleurlinge.

[4] Ndlambe ka Rharhabe, seun van die regterhand van die opperhoof van die cis-Keise Xhosa, Rharhabe ka Phalo, wie op sy beurt die seun van die regterhand was van Phalo. Beide Ndlambe en Rharhabe het as regent opgetree vir hul vaders se veel jonger Groot Seuns, Gcaleka ka Phalo (1778 oorlede) en Mlawu ka Rharhabe (†1782), en vir hierdie manne se erfopvolgers, Khawuta ka Gcaleka en Ngqika ka Mlawu. Elk van Ndlambe en Rharhabe het gepoog om oor sy vader se opperhoofskap beheer oor te neem en daarin gefaal, maar altwee het die status van onder-opperhoof bereik.

[5] Aangehaal uit die Dictionary of South African Biography, vol 5 (p315), my vertaling.

[6] Gesel (Companion) van die Orde van St Michiel en St Joris (St Michael and St George).

[7] Ridder-kommandeur (Knight Commander) van die Orde van St Michiel en St Joris (St Michael and St George).


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bronne: Dictionary of South African Biography, volume I, II en V, redakteurs W J de Kock en D W Krüger (Kaapstad: Tafelberg/Navorsingsraad op Menslike Wetenskappe).

Illustrasie deur Barrie Burr geteken.


Terug na stigters-indeks

Terug na Armoria familia-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle