Armoria corporitiva
http://uk.oocities.com/corporatio

Livingstone-hospitaal

Korsten, Port Elizabeth

deur Mike Oettle

Livingstone-hospitaal

WAPEN in die naam van die Livingstone-hospitaalraad geregistreer, volgens ’n wapenbrief wat 14 April 1971 deur die Buro vir Heraldiek uitgereik is. Die blasoen lui:

In blou, ’n silwer piramide belaai met ’n kloktoring van natuurlike kleur.

 

Die piramide is duidelik meer skerphoekig as dié wat te Ghizeh, Egipte, gevind word, aangesien dit nie op daardie piramides gemodelleer is nie. Dit is die gedenkteken wat in 1820 opgerig is ter ere van Elizabeth Frances Donkin (gebore Markham, August 1818 oorlede te Meerut, India), vrou van Sir Rufane Donkin, op die Donkin-Reserwe in Port Elizabeth.

Donkin het Augustus daardie jaar die terrein vir die piramide uitgekies. “Die Setlaar-ontwerper Thomas Willson het tekenings gemaak vir ’n piramide soortgelyk aan dié van Caius Cestius in Rome, en William Reed het die klip voorsien. Die bouers was soldate van die Fort.[1] Juniemaand 1821 het [Johann] Knobel 5 morg 535 vierkante roed grond rondom die gedenkteken opgemeet, wat vir ewig en altyd ’n oop ruimte sou bly.”[2]

Die Donkin-piramide kom ook voor in die wapens van Hoërskool Pearson en Lawson Brown High School.

seël van die Port Elizabethse Filatelievereniging

Die kloktoring (in Engels, campanile) is ook ’n spesifieke een, naamlik dit wat langsaan die spoorwegstasie Port Elizabeth staan (naby die hawe-ingang) as eeufees-monument van die aankoms van die 1820-Setlaars. Dit is ironies dat Britse setlaars geëer is deur die oprigting van ’n kloktoring in die Italiaanse styl. Die Kampanile,[3] soos dit genoem word, word nietemin ook gebruik as simbool van Port Elizabeth.

Die beeld van die Kampanile wat hier verskyn kom uit die seël van die Port Elizabethse Filatelievereniging. Terwyl die seël nie slegs die Kampanile self nie, maar ook die piramide (langsaan die ou vuurtoring op die Donkin-Reserwe) heel akkuraat aantoon, is die ligging van die figure in die landskap onrealisties, want die Kampanile staan taamlik ver van die Reserwe af.

Verpleegsters wat aan die Livingstone-hospitaal opgelei is, het tradisioneel hierdie wapen in die vorm van ’n geëmaljeerde borsspeld gedra.

 

Oor Korsten en die hospitaal:

Die verhouding tussen Port Elizabeth en die naam Korsten gaan terug tot in 1812, toe ’n Nederlandse koopman, Frederick Korsten, saam met ’n maatskappy die opstal van die plaas Papenkuilsfontein[4] gekoop het.

Hy het later die plaas as Cradockstown of Cradock Place vernoem, na goewerneur sir John Cradock.

Harradine skryf: “Korsten het ’n kontrak gehou waarvolgens hy 300 vate gesoute beesvleis jaarliks aan [Fort Frederick] sou lewer. In vennootskap met C F Pohl het hy die eerste handelspos in die Oos-Kaap gevestig. Sy belange het die besouting van beesvleis, vellooiery, skaapteling, walvisvang, ’n meule en die maak van vate ingesluit.

“Hy het Santa Cruz-[5] en Bird-eiland vir robjag en visvang gehuur, en het sy eie skepe besit (die Uitenhage Packet was die eerste skip wat die Swartkopsrivier binnegevaar het) en ’n aantal plase waar sy lewende hawe gewei het. Hy is vir sy gasvryheid bekend.

“Korsten se enigste dogter, Maria, weduwee van John Damant en tweede vrou van John Centlivres Chase, het Cradock-Plek geërf, maar die grond is onderverdeel en verkoop, en in 1909 is die huis deur ’n brand verwoes.”[6]

In die 1850s is onderverdelings van Cradock-Plek al hoe meer deur welvarende burgers van Port Elizabeth gebruik as plattelandse wonings, veral in die gebied wat tans as Korsten bekend staan. Maar met die verloop van tyd is hierdie stukke grond al hoe meer onderverdeel en uitverhuur. Teen die vroeë 20ste eeu het dit tot ’n krottebuurt verval, waar Kleurlingmense dominant was.

Teen die einde van die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902) is dit bevind dat etlike lokasies binne Port Elizabeth buboniese plaag gehad het. Daar is amptelik 136 gevalle van die siekte gerapporteer, waarvan 57 tot die dood gelei het. Die lokasies is opgeruim en die inwoners verskuif na ’n nuwe lokasie op New Brighton.

Swart mense wat nie aan die streng reëls van die nuwe lokasie onderworpe wou wees nie, het liewer na Korsten verhuis. Swart mense het huise in Korsten bewoon totdat die Wet op Groepsgebiede vaaf 1956 op hulle toegepas is, en hulle onder dwang na New Brighton verskuif is.

Lank voor die Tweede Wêreldoorlog was die krotte van Korsten ’n bekommernis vir die stadsraad Port Elizabeth, veral nà die inlywing in 1924 van die dorpie in die stadsgebied. In 1940, danksy die pogings van raadslid Adolf Schauder, is 100 huise langs die bult bokant Korsten opgerig, die begin van Schauder Township, wat later as Schauder­ville bekend sou staan.

Dr A J Crenstein en sir Edward Thornton het 31 December 1937, nà ’n besoek aan Port Elizabeth, verslag gedoen dat die stad ’n nuwe hospitaal benodig om die “Non-European”[7]-bevolking te dien. Die perseel wat uiteindelik gekies en deur die stadsraad gedonateer is het 33 akker (13,35ha) beslaan, waar Stanfordweg[8] die Papenkuilsrivier[9] oorsteek.

Die grond is 7 Februarie 1940 oorgehandig. Die bouwerk, wat deur die Tweede Wêreldoorlog vertraag is, is uiteindelik deur Siemerink en Brink onderneem, en die hospitaal is in Oktober 1955 geopen.

Die hospitaal is vir die sendeling-ontdekker dr David Livingstone vernoem. Hy is deur die London Missionary Society, wat op Bethelsdorp ’n sendingstasie onderhou het, na Suid-Afrika gestuur.

Hy het in Maartmaand 1841 in Suid-Afrika aangekom. Hy het eerstens in Tafelbaai te lande gekom, en het daarvanaf per see na Port Elizabeth gereis. Hy het in een van die geskiedkundige jonkershuise op Bethelsdorp (wat vandag nog staan) gebly totdat hy waens en voorraad bymekaar gekry het vir sy reis na Kuruman.

Die hospitaalingang is 6km van Port Elizabeth se Markplein (waarvanaf afstande tradisioneel gemeet is), en omtrent halfpad na Bethelsdorp langs die roete wat op die vlakte loop onderkant die plato waarop ’n groot deel van Port Elizabeth staan (vanaf die Donkin-Reserwe op Sentraalheuwel tot by Newtonpark verby).

Toe hierdie artikel geskryf is (2008) word die hospitaal deel vir deel afgeslaan en met ’n geheel nuwe hospitaal vervan, as deel van die voorbereidings op die Sokker-Wêreldbeker in 2010.



[1] Fort Frederick, op ’n hoogtepunt bokant die strandmeer van die Baakens- of Kabegarivier, wat in 1799 opgerig is, die eerste permanente struktuur in die middel van wat Port Elizabeth sou word.

[2] Aangehaal uit Port Elizabeth: A social chronicle to the end of 1945 deur Margaret Harradine (my vertaling).

[3] Terwyl die Italiaanse uitspraak van die woord campanile vier lettergrepe het (kam-pa-ni-le), spreek Port Eliza­bethse Engelssprekendes dit gewoonlik met slegs drie uit: kam-puh-neel, kam-puh-naail of selfs kam-puh-naal.

[4] Inligting oor Frederick Korsten en die gehuggie Korsten uit Margaret Harradine se boek.

[5] Soos hier gemeld, het hierdie eiland van Bartolomeu Dias die naam Santa Cruz gekry, maar dit staan algemeen bekend as St Croix.

[6] Die fondamente van Cradock-Plek het behoue gebly, en van tyd tot tyd is daar sprake van die heroprigting van die geboue. Dusver het niks daaruit gekom nie.

[7] Hierdie neerhalende uitdrukking is destyds gebruik om enigiemand te beskryf wat nie aan die blanke (“Europeaanse”) bevolkingsgroep behoort het nie – Kleurling, Indiër en Bantu-sprekend (of swart), sonder onderskeiding.

[8] Stanfordweg, wat die naam dra van sir Walter Stanford, is die hoofpad van die noordelike dele van Port Elizabeth. Dit loop noordweswaards deur Korsten en by Gelvandale verby tot by Bethelsdorp.

[9] Die Papenkuilsrivier ontstaan in die omgewing van Parsonsvlei, ’n groot waterige gebied wat goewerneur sir George Grey verleen het aan die rector van die Kerk van Sint Maria, in die hartjie van Port Elizabeth, as glebe – dit wil sê ’n weiveld waaruit die geestelike ’n inkomste kon verkry.

Een riviertak loop noordwaarts deur Van der Kempskloof tot by Bethelsdorp, en dan weswaards tot Cradock-Plek (naby Algoapark se suideinde). Die ander tak loop aan die suidekant, tussen Westering en Malabar, langs ’n kloof by die Moregrove-steengroef en Livingstone-Hospitaal verby.

Die twee takke ontmoet langs Cradock-Plek, waarvanaf die laaste deel van die rivier (wat in ’n kanaal loop) see toe gaan, en wat algemeen bekend staan as Smelly Creek. Die Creek-wisselaar, waar die Setlaarsweg-deurpad uit die middestad die N2 ontmoet, is by die riviermonding.

Die hospitaal staan langs die suidertak.

Die rivier kry sy naam van die plaas Papenkuilsfontein, wat ’n verwysing is na die papkuil wat naby die hospitaal groei. (Kyk hierdie bladsy vir nadere inligting oor die plant.)


Counter

Terug na bo

For English, click here

Wapenbeeld deur Barrie Burr.


Terug na Armoria corporativa-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle