Armoria academica
http://uk.oocities.com/wapenskild

HOËRSKOOL PEARSON / PEARSON HIGH SCHOOL, Somerstrand, Port Elizabeth.

Hoërskool Pearson

Wapen 30 Oktober 1967 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer. Die huidige wapenbrief is ’n duplikaat wat sedert 1976 uitgereik is, aangesien die oorspronklike verloor is tydens een van die twee brande wat gedurende daarde dekade veel van die skool se aandenkings vernietig het. Die blasoen lui:

Op ’n skild met silweromsoming en buiterandse versiersels van goud, in swart, gekanteeld in die bokant, ’n keper van silwer, belaai met drie ovaalvormige gespes met tongetjies na die regter (dexter)-kant, en vergesel van twee vyfpuntige sterre van silwer aan die regter- en linkerkant, en in die onderste verdeling die letters P.H.S. van silwer, monogramsgewys gerangskik. In ’n skildhoof van groen ’n voorstelling van ’n piramide van silwer. As wapenspreuk, op 'n groen lint in goue letters: MAXIME DO OPERAM.

Daar bestaan ook ’n verbeterde blasoen wat in die databasis van die Nasionale Argief verskyn. Dit lui:

Wapen: In swart, 'n silwer keper belaai met drie ovaal gespes, tonge dwarsbalksgewys na regs, in die skildhoof vergesel van twee vyfpuntige sterre en in die skildvoet die monogram P.H.S. alles van silwer op ’n gekanteelde groen skildhoof ’n piramide in perspektief, die geheel binne ’n skildsoom, albei van silwer.

Wapenspreuk: MAXIME DO OPERAM.

Die spelling van die leuse op die (Engelstalige) wapenbrief is foutief, want die illustrasie toon duidelik die bewoording as Maxime do operam. Aangesien heraldiese reg dit beskou dat die bewoording definitief is, en die illustrasie bloot bykomstig, blyk dit of die skool daarop geregtig is om ’n heruitreiking van die sertifikaat aan te vra.

Dit is in Britse en Suid-Afrikaanse heraldiek buitengewoon vir die kleure van ’n leuselint gespesifiseer te word. Dit is meer ’n Nederlandse gebruik.

Oor die wapen:
Die wapen soos geregistreer het, vreemd genoeg, minder in gemeen met die wapen van sir Rufane Donkin, stigter van Port Elizabeth, en van die Stad Port Elizabeth, as die wapen wat die skool tot die jaar van registrasie gevoer het.
ou wapen van Hoërskool Pearson

Die kleure is die skool se keuse en hou geen verband met die Donkin-wapen, wat ’n silwer skildhoof en keper op rooi, en goue wapenfigure op die hoof-skildveld.

Maar die keper, die gespes en die gekantileerde skildhoof is van sir Rufane se familiewapen geneem – die gespes lê selfs soos in die wapen van die stad se stigter, eerder as regop, soos in die stadswapen – terwyl die vyfblare wat kenmerkend is van die Donkin-wapen en dié van die stad vervang is met vyfpuntige sterre.

Daar is twee doelbewuste veranderings (behalwe die kleure) in die oorspronklike skoolwapen:

a) Die vervanging van die piramide vir die Indiese olifant wat (tesame met die gekantileerde skildhoof) ’n eretoevoeging was tot sir Rufane se wapen in erkenning van sy diens in Indië.

b) Die gebruik van die letters PHS in plaas van die beuelhoring wat in die voet van sir Rufane se wapen verskyn.

Die struktuur in die skildhoof is nie ’n Egiptiese piramide nie, maar is skerper, aangesien dit die monument aan sir Rufane se vrou, gebore Elizabeth Markham, voorstaan, wat op die Donkin-reserwe opgerig is. Hierdie oop ruimte het Donkin op die hoë grond wat oor die Port Elizabethse hawe uitkyk, geproklameer.

Dit was in die styl van ’n aantal piramides in hierdie proporsies wat in die laat 18de en vroeg 19de eeu op verskeie plekke oor Wes-Europa as gedenktekens opgerig is, vanaf Italië tot Brittanje.

Die insluit van die piramide in die wapen herinner aan die skool se tweede tuiste, die Grey Institute-gebou in Belmont-terras, oorkant die Donkin-reserwe.

Dieselfde piramide (anders gekleur) verskyn ook in die wapen van Livingstone-hospitaal en Lawson Brown High School.

Die letters het in swart op ’n wit rondeel op die oorspronklike wapen verskyn. Dit is eintlik ’n verassende insluiting aan die part van die Staatsheraldikus, aangesien die heraldiek nie gewoonlik die gebruik van teksletters toelaat nie.

Die huidige kleurbaadjiewapen vertoon beide die piramide en die teksletters verkeerdelik: die piramid is swart op groen, en die letters groen op swart.

Hierdie foute in die kleurbaadjiewapen is des te meer verrassend in die lig van die feit dat die wapen reeds vier dekades terug in die skool se naam geregistreer is.

Die skool verduidelik nie die herkoms van die dekoratiewe agtergrond nie (dit is effens anders in die ou wapen geteken as wat dit in die geregistreerde wapen voorkom). Dit lyk soos ornamentele klipgravering.

Die leuse vertaal as: “Ek doen my bes.”

Oor die skool:
Hoërskool Pearson soos dit vandag bestaan is ’n parallel-medium (Afrikaans- en Engels-medium) koëdukasie-hoërskool wat leerlinge vanaf Graad 8 tot 12 (voorheen St 6 tot 10) onderrig. Die geboue in Jenveyweg, Somerstrand, is die skool se vierde tuiste.

In 1925 het Port Elizabeth vyf hoërskole gehad, twee daarvan onder die beheer van die Port Elizabethse Skoolraad, en 12 primêre skole, nege van hulle onder die raad. Die hoërskole was almal òf slegs vir seuns òf slegs vir meisies, en tot in die 1920s het almal uitsluitlik in Engels onderrig gegee.

Die hoërskole het ook gelde gevra wat baie ouers buitensporig gevind het. Die slotsom was dat baie leerlinge met slegs ’n laerskool-opleiding die skool verlaat het.

Taalordonnansies wat in 1920 en ’25 gepasseer is, het dit moontlik gemaak dat leerlinge tot St 6 (toe deel van die laerskoolsisteem) in hul eie moedertaal opgelei word, en twee laerskole het begin om ook in Afrikaans klas te gee. Ouers in Port Elizabeth het op die Skoolraad begin druk uitoefen om sekondêre opvoeding goedkoper te voorsien, en ook in Afrikaans.

Die Skoolraad het gereël vir ’n nuwe sekondêre skool vir seuns en meisies, met klasse aanvanklik slegs in Engels, en in Desember is mnr L P V Deary as skoolhoof aangestel.

Die nuwe skool sou die ou hospitaalgebou in Richmond-heuwel met die Central Primary School deel, en het in Januarie ’26 oopgemaak. Dit het met St 7-leerlinge begin, en het eers die Junior Sertifikaat-eksamen (St 8) bygevoeg, en in 1929 het die eerste klas Senior Sertifikaat-leerlinge gematrikuleer, drie van hulle in die eerste klas.

Een leerling het die 1927 Junior Sertifikaat-eksamen met Afrikaans Hoër deurgekom.

In 1928 het 12 leerlinge wat tot in St 6 in Afrikaans onderrig gehad het, om toelating aansoek gedoen, en 10 van hulle is tot ’n taalgemengde klas toegelaat – die begin van dubbelmedium onderrig aan die skool. In die 1929 Junior Sertifikaat het 10 leerlinge (blykbaar hierdie selfde 10) Afrikaans Hoër gedoen.

In die 1929 Senior Sertifikaat het vier leerlinge met Afrikaans Hoër deurgekom – die eerste leerlinge in Port Elizabeth wat Afrikaans as matriek-onderwerp gedoen het. Dit het uitgebrei totdat daar in 1938 ’n hele St 10-klas die Senior Sertifikaat in Afrikaans geskryf het. Een van hulle, Antoinette Mattheus, het die Munisipale Goue Medalje gewen.

Dis eienaardig om te noem dat mnr Deary aanvanklik die meisies van die seuns in Std 7 geskei het, en slegs gemengde klasse in die senior standerds toegelaat.

Tot op heirdie stadium het die skool Port Elizabeth Secondary geheet. Juliemaand 1927 het dit getrek, aangesien kamers aan die Grey Institute-gebou in Belmont Terrace beskikbaar geword het nà die vertrek van die Collegiate Junior School. Dele van die kompleks was egter steeds deur ander skole gebruik: Collegiate Senior het die ou Rectory as hostel gebruik, terwyl Grey Junior School steeds die noordelike deel gebruik het.

Mnr Deary het voorgestel dat die skool Lady Elizabeth Donkin School[1] genoem moet word, maar die Skoolraad het besluit om dit vanaf Januarie 1928 die naam te laat dra van die eerbare William Pearson, wie as munisipale kommissaris in 1859 en ’60 gedien het, en as stadsraadslid vanaf 1860 tot ’95. Gedurende daardie tyd was hy vir ’n totale 16 jaar burgemeester.

Die skool se huisvesting het in 1930 verbeter toe die Collegiate-meisies uit die ou Rectory getrek het en die Grey Junior-seuns die klaskamers aan die noordekant verlaat het. Pearson High kon dus die eerste maal al die klaskamers in die kompleks benut, en mnr Deary het die ou rektorshuis bewoon.

Maar dit was duidelik dat selfs meer akkommodasie nodig was – selfs die saal moes met afskortings in klaskamers gedeel word – en mnr Deary het op die Skoolraad druk uitgeoefen om ’n permantente tuiste.

Die munisipaliteit het ’n perseel in Bayviewlaan toegestaan, in die Hospitaal-bemaking (later bekend as Way-dorpsgebied, en tans Mount Croix), wat mnr Deary hoogs paslik gevind het.

In 1932 het die raad tot die verskuiwing van die skool ingestem, maar die munisipaliteit het sy aanbod teruggetrek en geen ooreenkoms oor ’n perseel is tot in 1940 bereik nie, toe die munisipaliteit (die tweede maal) die Bayview-perseel vir opvoedingsdoeleindes toegestaan het.

Mnr Deary het teen hierdie tyd onderwys-inspekteur op Vryburg geword, en het afgereis om een van die twee hoekstene te lê. Die tweede is deur ds D L Steyl gelê.

Die nuwe skoolgebou is Augustus 1941 ingewy: die ganse skool het in rye van vier gemarsjeer, met wapperende vlae vooraan en ’n blaasorkes agter, vanaf Belmont-terras tot Bayviewlaan.

In 1950 het die skool ’n oorlogsherdenkplaat onthul met die name van 31 eermalige leerlinge wat in diens gesterf het tydens die Tweede Wêreldoorlog. Gedenkdag het toe ’n jaarlikse instelling op die skoolkalender geword.

Toe St 6 in 1954 die eerste maal in Port Elizabeth se hoërskole ingesluit is, was Pearson reeds die grootste hoërskool in die Oostelike Provinsie.

In die 1970s het die skool onder twee verwoestende brande gely. Die skool se inskrywingsgetal het ook tot meer as 800 gestyg, en is dit gevoel ’n groter perseel nodig is. In die lig van die onkoste verbonde aan die herstel van die Bayviewlaan-perseel, en aangesien daar geen ruimte was vir verdere uitbreiding nie, het die Skoolraad besluit dat ’n beplande skool in Somerstrand, aan die suideinde van die stad se Algoabaai-kant en naby die Universiteit Port Elizabeth, die nuwe tuiste sou word van Hoërskool Pearson.

In die skool se goue jubileumjaar, 1976, het dit in Jenveyweg oopgemaak.

Alle skole van die Kaapse Onderwysdepartement was vanaf hul stigting slegs vir blanke kinders, en baie ouers het dit al hoe meer onpaslik gevind. Die ouerliggaam het gestem en sodoende die skool die groen lig gegee om Model B te kies, en dit is in Januarie 1991 vir leerlinge van alle rasse oopgestel.

Die daaropvolgende jaar, 1992, het Pearson die eerste koëdukasie-hoërskool in Kaapprovinsie geword wat ’n vroulike hoof het, toe mej Daphne ffolliott skoolhoof geword het. Haar oorname het ook saamgeval met die skool se verandering van Model B na Model C. Kyk hier vir meer oor Model B/C.

Webwerf:
Die skool het sy eie webwerf hier.



[1] Soos in hierdie artikel genoem word, het sir Rufane Donkin se vrou nooit as lady Donkin bekend gestaan nie. Sy sou in elk geval nie as lady Elizabeth bekend gestaan het nie, aangesien hierdie styl gereserveer word vir die dogters van grawe, markiese en hertoë.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: illustrasies en geskiedkundige aantekeninge deur die skool voorsien. Kleure met MS Picture It! aangepas.


    Terug na skole-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle