Armoria ecclesiastica
http://uk.oocities.com/kruisstaf

Biskop Michael Gower Coleman

Rooms-Katolieke Biskop van Port Elizabeth[1] (1986- —)

“Pas my skape op”

Biskop Michael Coleman

Biskop Michael se wapen kan so geblasoeneer word:

Wapen: Gesny, die boonste helfte gedeel: 1. In blou, ’n harp van goud; 2. In blou, ’n herderstaf van goud wat links skuins lê, waaroor ’n oop Bybel in natuurlike kleure; 3. In groen, vier wit skape in natuurlike kleure, 3 en 1, die onderste skaap groter as die res. Tussen die eerste en tweede kwartiere staan ’n silwer padrão, die basis daarvan op die middelpunt; die Latynse kruis bo en deel van die tablet steek bo uit die skildarea uit.

Leuse: Pasce oves meas.

Oor die wapen:
’n Hoogs buitengewone aspek van hierdie devies is die kruis of padrão wat bo die skild se bolyn uitstaan. Terwyl dit treffend is, is die plasing daarvan nie binne die heraldiese tradisie nie – en dis ook ietwat onprakties. Sou die wapen verleen of geregistreer wees, sou dit hoogs waarskynlik nie toegelaat wees nie.

Die wapens van Rooms-Katolieke geestelikes word egter nie meer vanuit Rome beheer nie – die kongregasie wat in die verlede die verlening van biskoplike en ander kerklike heraldiek onderneem het, is onder pouse Johannes Paulus I afgeskaf – en daar is op Suid-Afrikaanse biskoppe geen verpligting om hul wapens by die Buro vir Heraldiek in Pretoria te registreer nie.

Die gevolg is dat biskoppe volgens hul eie gesag wapens aanvaar, en daar is geen beheer oor die simbole wat hulle kies nie.

Die wapen soos dit hier verskyn is in werklikheid die wapen van ’n monsignor, aangesien biskop Michael die wapen ontwerp het voordat hy as biskop ingeseën is en die illustrasie kom van die diensorde vir sy inseëning.

Dit verduidelik die afwesigheid van die wapen van die groen biskopshoed, die biskopsmus en die herderstaf (wat agter die skild staan) wat gewoonlik in ’n biskoplike wapen vertoon word.

Die Latynse leuse vertaal in Afrikaans as Pas my skape op, die instruksie van die opgestane Here Jesus aan Petrus. (Johannes 21:15-17)

Die stola wat om die skild en die leuselint staan herhaal die leuse in Engels (Feed my sheep), isiXhosa (Dlisa izumvu zam) en Afrikaans – hierdie drie is die amptelike tale van die Bisdom Port Elizabeth.

Biskop Michael deel my mee dat die Xhosa-bewoording voorsien is deur ’n Xhosa-sprekende akademikus, en was in ’n argaïese en poëtiese styl van isiXhosa. Nà sy inseëning het hy die Peddie-omgewing besoek (waar baie van die mense Mfengu is) en is daar meegedeel dat in hulle dialek die woord dlisa in werklikheid “om met gif te voer” beteken. Dit was ’n heeltemal onvoorsiene glips, en het aanleiding gegee aan ’n bynaam wat na die biskop verwys.

’n Amptelike beskrywing van die wapen verskyn op die agteromslag van die diensorde, onder die opskrif “SEAL AND MOTTO”. Die vertaling en die swart letters is myne, die hoofletters is in die oorspronklike:

“Wanneeer ’n priester as Biskop aangestel word, is dit die gebruik dat hy ’n leuse kies wat in sy bisdomlike Seël ingelyf word. Gesamentlik spreek dit van hoe hy sy bediening wil beklemtoon.

“Biskop Michael se Seël word horisontaal in twee dele gesny; onder is groen – simbolies van die grondbodem en van groei, en bo is dit blou – simbolies van die hemel en van vrede. In die middel is ’n Diaskruis – die eerste Katolieke simbool wat in hierdie deel van Afrika opgerig is.

“In die skildkwartier bo regs is ’n goue harp wat die blye Geloof van die Ierse Gemeenskap verteenwoordig wat soveel tot die bisdom bygedra het, en ’n herinnering aan die Biskop se eie Geloofsherkoms.

“Bo regs is ’n goue biskopstaf, wat aan sy rol as Herder herinner; ook die ope boek van Die Woord van God wat sy profetiese amp onderstreep.

“In die groen veld is sewe skape wat beweeg – verteenwoordigend van die pelgrim-Kerk wat sy kudde opmaak. Die leuse van die Biskop is Christus se woorde aan Petrus ‘PAS MY SKAPE OP’.

“Dit verskyn in die Seël in Latyn en die drie hooftale van die bisdom, op die rooi stola van die priestersamp wat die seël omsingel. Rooi is die kleur van moed en die liefde.”

Die getal skape in die beeld is slegs vier, tog praat die teks van sewe. Dit lyk of biskop Michael sewe gekies het as die getal van volmaaktheid wat so dikwels in die Skrif voorkom. Hy is blykbaar dan oorreed om die getal te verminder sodat die skape makliker uitkenbaar sou wees. Hulle staan skuins, maar kyk die toeskouer aan. Die rangskikking suggereer skape wat in ’n weiveld staan.

Die harp wat aangetoon word is ’n tipiese Ierse instrument. Hierdie kwartier is in werklikheid die wapen van die Republiek Ierland, en verskyn as die derde kwartier in die wapen van die Britse sowerein. Verskeie soorte harp het in die Britse koningswapen verskyn sedert Ierland in 1801 die eerste maal in die soewerein se wapen ingelyf is, maar die tipe wat in Éire verkies word is die harp van Brian Boru.[2]

Die teks verwys na “’n Diaskruis”. Dit herinner aan die Portugese ontdekkingsreisiger Bartolomeu Dias wat in 1488 die Kaap die Goeie Hoop omseil het (sonder dat hy dit op sy uitgaande vaart gesien het, want ’n storm het hom daar verbygewaai) en 3 Februarie eers op Mossel Bay (Cabo de São Bras) geland het.

Begin Maart het hy ’n punt net oos van Algoabaai bereik waar hy ’n padrão op ’n landhoof opgerig het (vir hom het dit na ’n eiland gelyk) en het daarna verwys as die padrão de São Gregorio. Die landhoof staan vandag as Kwaaihoek bekend.

Die Portugese ontdekkers het sulke padrões op hulle skepe gedra met die doel om hulle op te rig op prominente plekke langs die kus, om die Christelike Geloof en die gesag van die koning van Portugal (wie se wapen op die tablet gestaan het) voor te staan.

Hierna het Dias verder oos geseil na ’n rivier wat hy Rio de Infante genoem het (want ’n man genaamd João Infante was die eerste om daar an wal te gaan) en wat vandag die Visrivier genoem word. Hy is oorreed om van hierdie punt terug te keer.

Beide Kwaaihoek en die Visrivier lê binne die Bisdom Port Elizabeth.

Met sy terugvaart het Dias die suidelikste punt van die Kaapse Skiereiland die Cabo de Bõa Esperança (Kaap die Goeie Hoop; kyk Kaap Colonie) genoem, maar toe hy in Portugal aankom is die krediet vir daardie naam aan sy soewerein, João II, gegee, en is dit opgeskryf dat Dias dit Cabo Tormentoso (Kaap van Storms) genoem het.

Die padrão is in 1940 deur professor Eric Axelson ontdek. Hy het die skerwe daarvan teruggewin en dit herstel. Dit word aangeneem dat dit deur 19de-eeuse Boere stukkend gebreek is omdat hulle die padrão as simbool van die Rooms-Katolieke Geloof gesien het – wat vir hulle onder die ban was weens hulle Nederduits Gereformeerde tradisie.

’n Replika van die padrão kan vandag te Kwaaihoek gesien word, en nog ’n replika staan op Port Elizabeth se Markplein.

Oor biskop Michael:
Michael Gower Coleman is 19 April 1939 te Mafeking,[3] Kaapprovinsie, gebore, die oudste van sewe kinders van Reg en Hope Coleman (wat kort na sy biskoplike inseëning in 1986 hulle goue troudagherdenking gevier het).

Sy familie is hoofsaaklik van 1820-Setlaar-herkoms en kan na Engeland, Wallis en Skotland teruggevoer word, sowel as na Ierland – dit was deur sy Ierse ouma-grootjie wat hy sy Katolieke Geloof ontvang het.

Sy enigste broer, Sidney, het die familieplaas in die distrik Albany bestuur, maar is in 1982 oorlede. Hy het ’n vrou en kinders agtergelaat. Vier van sy susters is getroud, en een, suster Janine, is ’n Suster van die Maria-Hemelvaart-Orde en het ’n week na Michael se biskoplike inseëning haar silwer jubileum as geestelike gevier.

Michael Coleman het die Laerskool Zeerust in Transvaal (tans in Noord-Wes) en die Christian Brothers College te Kimberley, Kaap (tans Noord-Kaap) bygewoon. Nadat hy ’n jaar lank in Zambia gewerk het, is hy op die Seminarium St Johannes Vianney in Pretoria ingeskryf as student vir die Bisdom Port Elizabeth, op uitnodiging van biskop Ernest Green.

Bo en behalwe sy sewe-jaar-seminariumkursus in voorbereiding op die priestersamp, het hy ook deur die Universiteit van Suid-Afrika die graad BA (Wysbegeerte) behaal. Hy is 30 Junie 1963 in sy tuisparogie van St Patrick, Grahamstad, as priester ingeseën.

Van sy priestersjare het hy ses jaar aan die parogie van St Franciskus Xavier, Oos-Londen, deurgebring, en 10 jaar aan die parogie van die Heilige Hart, op King William’s Town, sowel as korter termyne aan Somerset-Oos en Alice. Hy is in 1970 ’n jaar lank na die Verenigde State gestuur in verband met die Mission Appeal Programme, en weer in 1976 vir ’n jaarlange kursus in spirituele leierskap en direksie onder die leiding van die Jesuïet-Vaders. Met sy terugkeer was by betrokke by die instelling van die Marriage Encounter-beweging in Suid-Afrika, en veral in die Bisdom Port Elizabeth.

Tussen 1981 en ’86 het hy in die personeel gedien van die seminaria van die Heiliges Petrus en Paulus te Hammanskraal, Transvaal (tans in Gauteng), besig met die oriënteringskursus vir volwasse seminariumstudente.

5 April 1986 is dit in Rome aangekondig dat hy deur pous Johannes Paulus II aangestel is as opvolger op biskop John Murphy op Port Elizabeth.



[1] Die Bisdom Port Elizabeth, wat oorspronklik in 1847 in Grahamstad opgerig is, en waarvan die setel in 1939 na Port Elizabeth verplaas is, sluit die stede Port Elizabeth en Oos-Londen in, en strek sover noord as Cradock. Sy buur-bisdomme is in Oudtshoorn, De Aar, Queenstown en Umtata gesetel.

[2] Brian Boru (*941 †1014) was ’n Hoë Koning van Ierland in die tyd voor die aankoms van die Anglo-Normanne, wie se naam geassosieer word met ’n harp (eintlik in die 14de eeu gemaak) wat in die Nasionale Biblioteek van Ierland op Dublin gebêre word.

’n Goue harp op blou is sedert die tyd van koning Henry VIII, wie die eiland weer tot die status van ’n koninkryk verhef het, die wapen van Ierland. Voor daardie tyd het Engelse konings sedert die jare van die vroeë Plantagenets die titel Heer van Ierland gevoer. Voor die Anglo-Normandiese tyd was Ierland ’n agglomerasie van mindere koninkryke wat ’n Hoë Koning erken het.

Vir nadere inligting oor die wapens van die Engelse en Britse soewereine, kyk hierdie bladsy.

[3] Tans bekend as Mafikeng, en hoofstad van die Provinsie Noord-Wes.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bron van illustrasie: Diensorde vir biskop Michael se biskoplike inseëning.


    Terug na indeks van biskoppe

    Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle