Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

UMTATA

Provinsie/staat: Oos-Kaap (sedert 1994, vroeër Republiek Transkei [1976-94], en Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Ingelyf: 2000, in Plaaslike Munisipaliteit Koning Sabata Dalindyebo.

Umtata

Die wapen mag so geblasoeneeer word:

In rooi, ’n klimmende leeu tussen drie ringe van goud; op ’n blou skildhoof ’n industriële landskap waarin twee mynskagtorings weerskante, met hystoue wat na die middel aflei waar ’n skoorsteen staan, met rook wat na links waai, alles van swart.

Bo die skild is ’n koninklike kroon.

Skildhouers: Regs ’n swart wildebees (Connochætes gnou), links ’n gemsbok (Oryx gazella gazella),in hulle natuurlike kleure.

Leuse: Conanime augeor.

Oor die wapen:
Die samestelling is skaars van toepassing op hierdie dorp langs die Mthatharivier wat vanaf 1882 tot 1994 (in verskeie vorms) as hoofstad van die Transkei gedien het.

Dit lyk of die wapen gedurende die eerste dekade van die 20ste eeu in gebruik geneem is, en is blykbaar nie te enige tyd verleen of geregistreer nie. Dit is verrassend dat nóg die apartheids-regime van die Republiek Suid-Afrika (1961) nóg die Republiek Transkei (1976) enige poging gemaak het om hierdie wapen te verander nie, want dit weerspieël ’n soort imperialisme wat blykbaar dominant was onder die blanke kiesers – beamptes, handelaars en boere – wat gedurende die jare 1900 to 1910 die munisipaliteit Umtata gekonstitueer het.

Die skildhoof illustreer industrieë wat nêrens in Transkei te sien is nie. In werklikheid is die “donker sataniese meulens” wat aangetoon word (’n vertaalde aanhaling van die Engelse digter en siener William Blake) is dié van die Witwatersrand. Die beduidenis is blykbaar dat Umtata ’n groot sentrum was vir die werf van arbeid vir die Witwatersrand en ander mynsentrums, hoofsaaklik op die Hoëveld.

Die kleure wat in die skildhoof voorkom is ’n verbreking van die kleurreël van die heraldiek, wat vereis dat ’n metaal (silwer of goud) met ’n kleur soos swart of blou moet kontrasteer. Alhoewel daardie reël soms treffend gebreek kan word, is dit hier beslis nie die geval nie.

Niks in die res van die wapen toon ook enigiets in die Mthatha-vallei nie: die res van die skild, en die skildhouers ook, is direk van die wapen van Kaapkolonie geleen, en het vir die dorp geen spesiale betekenis nie.

Die gemsbok is veral nie geskik nie, aangesien dit in die woestyne van Noord-Kaap, Botswana en Namibia voorkom, glad nie naby Umtata nie.

Die kroon wat aangetoon word is die Tudor-kroon, wat in die eerste helfte van die 20ste eeu as simbool gebruik is van die Britse soewerein. Toe is dit in die meeste gevalle (soos op koloniale vlae) met die St Edward-kroon vervang, maar het in die wapen van Umtata blykbaar onveranderd gebly.

Oor die dorp:
Ongeveer 1869 het die hoofde van die amaMpondo en die abeThembu, wat feitlik heeltyd in ’n oorlogstoestand verkeer het, voorregte aan koloniste weerskante van die Mthatharivier verleen. Op hierdie manier het ’n buffer-nedersetting tussen die twee stamme geleidelik tot stand gekom, om die moontlikheid van aanvalle weerskante te verwyder. Binne ’n dekade het ’n dorpie ontstaan. Weens stam-onluste is in 1882 ’n militêre pos opgerig; die grond is opgemeet, die dorpsgebied uitgemerk, en is ’n dorpsbestuur op die been gebring. Hierdie owerheid het slegs enkele maande bestaan voordat Umtata 10 November 1882 tot munisipaliteit verklaar is.

Umtata het die setel geword van die hoofmagistraat van die Transkeise Gebiede, onder wie se voorsitterskap die Algemene Raad van die Transkeise Gebiede (ook as die Bunga bekend) gefunksioneer het. ’n Indrukwekkende stadsaal is in 1908 voltooi, en ’n gebou vir die Bunga opgerig wat later as die parlement van die “onafhanklike” Transkei gedien het.

Selfs vóór die daarstelling in 1963 van die Streeksowerheid vir die Transkeise Gebied het die dorp moderne munisipale geriewe en staatsgeboue gehad.

Tydens die voorbereiding op Transkeise onafhanklikheid het die Suid-Afrikaanse regering die eiendomme van blanke inwoners en nabygeleë blanke boere opgekoop, met die oog op die skep van ’n suiwer swart staat. Ná Transkeise “onafhanklikheid” in 1976 het die dorp aansienlik uitgebrei. Regeringskantore is ná 1978 in die wolkekrabber Botha Sigcau-gebou gehuisves.

In 1994, toe Transkei deel geword het van die Provinsie Oos-Kaap, het Umtata formeel opgehou om ’n hoofstad te wees, alhoewel die Transkeise administrasie steeds tot in 1996 gefunksioneer het, en dit bly ’n streekshoofkantoor van die provinsiale regering.

Nà die plaaslike regeringsverkiesing van 2000 is Umtata en Mqanduli saamgevoeg in die Plaaslike Munisipaliteit Koning Sabata Dalindyebo, deel van die Distriksmunisipaliteit O R Tambo.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkenning: Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika en ander bronne.

  • Illustrasie met vergunning van International Civic Arms.


    Terug na indeks van munisipaliteite tot in 2000

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle