Armoria academica
http://uk.oocities.com/wapenskild

LAERSKOOL NEWTONPARK, Newtonpark, Port Elizabeth.

English blazon

Laerskool Newtonpark

Die skool se huidige wapen is in 1970 in gebruik geneem, toe die skool die naam Laerskool Hendrik Verwoerd gedra het. Dit kan so geblasoeneer word:

Wapen: In wynrooi, ’n ankerkruis met vier ankers in die kwadrate binne ’n skildsoom, alles van silwer.

Leuse: Dink en doen.

Oor die wapen:
Hierdie wapen is treffend en eenvoudig, maar daar is ’n paar faktore wat buitengewoon is.

Eerstens is die kleur wynrooi, of maroen, nie een van die gewone kleure van die heraldiek nie. Dit kom na aan die kleure moerbeirooi, of in Engels murrey, en bloedrooi, in Frans sanguine.

Albei hierdie kleure is seldsaam, en val in die kategorie van beitskleure. Daar is drie beitskleure: moerbei, bloed en oranje (in Frans tenné).

Wynrooi (in verskeie skakerings) is egter gewild onder Suid-Afrikaanse skole, en kom dus ook in ons skoolwapens voor.

Tweedens is die wapen veronderstel om die Hugenotekruis voor te stel. Ongelukkig is dit ’n mistasting: die Hugenotekruis is ’n Maltese kruis (wat agt skerp punte het) met ’n ronding aan elke punt, en met vier lelies of fleurs-de-lys tussen die vier arms van die kruis. Onderaan die Hugenotekruis hang die duif van die Heilige Gees. Hierdie embleem is op sy beurt gebaseer op die juweel van die Orde van die Heilige Gees (Ordre du Saint-Esprit), wat in 1578 deur koning Henri III ingestel is.

In die wapen-voorstelling wat in 1970 aan die skool gemaak is, is egter ’n kruis geteken wat naastenby soos ’n ankerkruis of meulkruis lyk, met vier ankers tussen die kruispunte. (Daar word na “tradisionele ankers” verwys; dit is onduidelik watter tradisie in gedagte is.)

Die ankerkruis het egter ’n lange geskiedenis in die heraldiek, en kom voor in die wapen van Uitenhage, wat in 1804 aan die dorp se drosdy deur sy naamgewer, Kommissaris-Generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist, verleen is. Dit was die De Mist-familie se wapen, en as drosdywapen was dit die eerste wapen wat in die gebied van die huidige stad Port Elizabeth gevoer is.

Die ankerkruis kry sy naam omdat die kruispunte ’n ooreenkoms toon met die metaal-ankers wat aan huismure geplaas word, om sodoende kabels te monteer wat die mure aanmekaar vashou en die huis dus stabiliseer. ’n Soortgelyke voorkoms word gevind in die metaal-monterings van meulstene, dus die naam meulkruis.

Die anker kom ook eeue lank in die heraldiek voor, en word dikwels gebruik as simbool van Jesus Christus as ons Redder.
ou en huidige wapens van Kreis Kleve, Nordrhein-Westfalen

Ten spyte van die mistasting is dit egter ’n heel treffende wapen. Sy voorkoms is ietwat soos die karbonkel, wat in verskeie Europese wapens verskyn. In die wapen van die Duitse Kreis (distrik) Kleve (gebaseer op die wapen van die Middeleeuse grawe van Kleve) eindig die agt arms van die karbonkel in fleurs-de-lys, maar in die wapen van die Middeleeuse Spaanse koninkryk Navarra word die karbonkel in kettings voorgestel.

Laastens is daar ’n skildsoom van silwer, wat die ontwerp afrond.

Die leuse is ’n vertaling van die oorspronklike Latynse leuse (kyk hieronder).

Ou wapen:
Newton Primêre Skool Die skool se eerste wapen is in 1959 in gebruik geneem, toe die skool die naam Newton Primêre Skool gedra het. Vir die eerste maal is wynrooi in die skool se uniform neergelê, en het dit ook in die wapen voorgekom.

Dit is tipies van die wapens van daardie tyd, voor die passasie van die Heraldiekwet van 1962. Die skild is bloot ’n buitelyn (in die vervalle Renaissance-vorm) waarin allerhande elemente ingeprop word.

Bo-aan is die skool se voorletters, NPS, en onder, binne-in die skilduitlyn, is ’n lint waarop die leuse staan: Cogito et conficio (Dink en doen).

Die gebruik van teksletters binne die skilduitlyn verteenwoordig ’n verdraaiing van die heraldiese tradisie. Die heraldiek het ontstaan in ’n ongeletterde samelewing, en het boodskappe met visuele beelde oorgedra. Leuses, wat ingesluip het nadat die heraldiese tradisie eers gevestig is, verskyn gewoonlik op ’n lint buite die skild – dit kan óf bo óf onder die skild wees.

Die een sterkte van die ontwerp lê daarin dat die blomembleem, ’n sewejaartjie, redelik groot verskyn en duidelik is.

Daar is twee blomsoorte wat die naam sewejaartjie (in Engels, everlasting) dra. Die blom wat hier verskyn is Helipterum eximium, die rooisewejaartjie, wat in die natuur ’n wynrooi kleur het.

Oor die skool:
Die skool soos dit vandag bestaan is ’n Afrikaans-medium laerskool (Graad 1 tot 7, of Sub A tot St 5) vir seuns en dogters wat in daardie gedaante reeds twee naamveranderings ondergaan het.

Die skool het egter sy begin as ’n Engels-medium inrigting wat 25 Januarie 1926 in ’n huis op die hoek van Eerstelaan en Mowbraystraat sy deure oopgemaak het. Die eerste onderwyseres was ene mej Damerell, wat hoof geword het toe sy ’n kollega bygekry het.

Die dorpsgebied Newtonpark was in daardie tyd so nuut dat mense van sy naam onseker was; daar was verwysing na “die skool te Fairview” – ’n verwysing na die Fairview Land, Estate and Development Company, wat vroeg in die 20ste eeu die plaas Fairview (ongeveer die helfte van die plaas Baakensrivier) gekoop het en grotendeels as dorpsgebied ontwikkel het. Newtonpark was die eerse dorpsgebied wat uitgelê is. Die naam Fairview is ook gekoppel aan die perderenbaan wat destyds net oos van Newtonpark gelê het. Vandag is dit die winkelsentrum Greenacres, en die renbaan het (steeds onder die naam Fairview) na Groenbossies (Greenbushes) verskuif.

Die skool het na die kerksaal van die Anglikaanse St Hugh’s-kerk (Kerk van St Hugo) verskuif, en het daar die naam Newton Primary School begin gebruik.

In Januarie 1930 het die skool die eerste maal die huidige perseel in Willetstraat oorgeneem; die hoeksteen van die oorspronklike gebou is vandag in die voorportaal van die huidige skoolgebou.

In 1932 het Afrikaans ’n medium van instruksie geword toe die skool ’n parallelmedium-inrigting geword het.

In Januarie 1954 is die skool gesplits: die Engelssprekende leerlinge en onderwysers het na ’n nuwe skoolperseel, net ’n blok weswaarts en ook in Willetstraat, verskuif. Hierdie skool het die naam Herbert Hurd Primary School gekry.

Die oorblywende Afrikaans-medium skool het tot in Januarie 1970 die naam Newton Primêre Skool gevoer. In daardie maand is die vermoorde Eerste Minister dr Hendrik Frensch Verwoerd[1] met die naam Laerskool Hendrik Verwoerd vereer.

Die huidige skoolgebou is in Januarie 1971 in gebruik geneem.

Ná die verkiesing van April 1994 het die skool se naam egter probleme geskep, en in Oktober daardie jaar is ’n referendum onder die ouers van die skool gehou.

Die naam Newton is teen hierdie stadium reeds deur die Hoër Tegniese Skool Newton (voorheen die Hoër Tegniese Skool Port Elizabeth) oorgeneem, en aangesien die twee skole geen gesamentlike tradisie of uniform het nie, is liewer die volle naam van die dorpsgebied in gebruik geneem met die naam Laerskool Newtonpark.

Die skool se wapen, leuse en uniform is sedert 1970 onveranderd.

English blazon:
The arms may be blazoned in English:

Arms: Murrey, a cross moline with four anchors in the quarters, the whole within a border, all argent.

Motto: Dink en doen (Think and act).



[1] Hendrik Frensch Verwoerd (*08-09-1901, Amsterdam, Nederland; †06-09-1966, Kaapstad; Eerste Minister vanaf 1958 tot met sy afsterwe) is vier jaar vantevore in die Volksraadsaal van die Parlementgebou in Kaapstad deur parlementêre bode Dimitri Tsafendas met ’n mes doodgesteek.


Counter

Terug na bo

Bronne: inligting en illustrasies deur die skool voorsien. Wapens van Kleve met vergunning van International Civic Arms.


Terug na skole-indeks

Back to schools index (English)

Terug na Armoria academica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle