Armoria academica
http://uk.oocities.com/wapenskild

HOËR TEGNIESE SKOOL NEWTON / NEWTON TECHNICAL HIGH SCHOOL, Newtonpark, Port Elizabeth.

Hoër Tegniese Skool Newton

Die wapen is 4 Oktober 1991 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer (wapenbrief No 2368). Die amptelike blasoen lui:

Wapen: Gevierendeel, rooi en swart, ’n goue ruit, vierbladvormig geledig, daarin ’n silwer tandrat; die geheel binne-in ’n goue skildsoom.

Wapenspreuk: Nunc agita.

 

Oor die wapen:
Die wapen is slegs in Afrikaans geregistreer. Aangesien die skool parallel-medium is (en al hoe meer Engels gebruik), sou dit die moeite werd wees om aansoek te doen om ’n tweede sertifikaat in Engels.

Die kleure van hierdie devies – rooi, goud en swart – is dié wat in 1963 deur die skool aanvaar is, met die inbruikneming van ’n nuwe wapen. Die huidige wapen verskil radikaal van hierdie vroeëre wapen.

’n Amptelike verduideliking wat die skool voorsien is, lui:

“Die wapen is gevierendeel, rooi en swart, wat die amptelike skoolkleure ’n goue vierblaar voorstel, wat die vier doele van ons missieverklaring, naamlik, akademiese, kulturele, fisiese en pastorele ontwikkeling; daarby ingsluit is ’n silwer tandrat wat die tegniese komponent beklemtoon; die embleem as geheel lê binne ’n skildsoom.”

’n Treffende aspek van die wapen is dat binne die hoofwapenfiguur, die goue ruit, die vierblaar (’n formeel getekende vierblarige blom) verskyn, wat self geen kleur het nie, maar wat die veldkleure weer deurlaat.

Die leuse, Nunc agita, is ’n vertaling in Latyns van die vroeëre skoolleuse, “Doen dit nou” / “Do it now”.

Die skool verduidelik die taalverandering as benodig “om aan heraldiese vereistes te voldoen”. Dit is nie die geval nie: die heraldiek vereis nie een taal bo ’n ander nie – ’n leuse kan eintlik in enige taal voorkom. Maar die herhaling van die leuse in twee tale was oorbodig, en die oorgang na Latyns laat die gebruik van ’n enkele bewoording in ’n neutrale taal toe (neutraal omdat, in die verlede, geleerde mense uit altwee taalgroepe Latyn verstaan het).

Die gewone skoolbaadjiewapen toon die skild en leuselint in gewone kleure (geel vir goud). Die erewapen het die goue dele (skildsoom en ruit) in goue draad, met ’n lourierkrans weerskante.

Oor die skool:
Die inrigting wat tans as die Hoër Tegniese Skool Newton bekend staan, het sy oorsprong in die Port Elizabethse Tegniese Kollege (tans deel van die geamalgameerde Port Elizabeth Kollege). Die kollege was oorspronklik, en was later weer, ’n inrigting uitsluitlik vir volwassenes. 17 Februarie 1936 het daar egter 12 leerlinge van hoërskool-ouderdom klasse begin loop in tegniese onderwerpe, vanaf St 7 tot St 9.

Die jaar daarop is 54 leerlinge ingeskryf, en leerlinggetalle het gegroei tot by die uitbraak van oorlog in 1939. Van toe af het getalle staties gebly op tussen 120 en 150 leerlinge.

Tydens die oorlogsjare is ’n nuwe werkswinkelblok gebou, maar eers in 1945 is die leerlinge van wat nou as die Hoër Tegniese Skool Port Elizabeth bekend gestaan het, daarheen oorgeplaas. Leerlinggetalle het gegroei.

Kort daarna is ’n nuwe klaskamerblok vir tegnologie opgerig, maar dit ook het met HTS-leerlinge en vakleerlinge vol geraak. Inskrywings het 320 bereik: die maksimum getal leerlinge wat geakkommodeer kon word.

In 1956 is die besluit geneem om ’n totaal nuwe Hoër Tegniese Skool PE op ’n ander perseel op te rig, en na ’n lange soeke is geskikte onontwikkelde grond aan die oostekant van Eerstelaan, Newtonpark, gevind (buitekant die dorpsgebied Newtonpark).

In 1960 is die kontrak vir die oprigting van die gebou toegeken. Voorbereiding van die perseel is in ’61 begin, en die skool is aan die einde Oktober 1962 voltooi. Mnr A M du Toit is as hoof aangestel van die nuwe skool, wat 21 Januarie 1963 oopgemaak het.

Die seuns het aanvanklik swart baadjies en grys flenniebroeke gedra, maar vroeg in ’63 is kleure van rooi, goud en swart gekies, ’n nuwe wapen ontwerp en baadjiemateriaal uitgekies, swart met fyn rooi strepies. ’n Leuse, “Doen dit nou”, is ook aanvaar.

Die liriek vir ’n skoollied is deur die hoof se vrou geskryf, wat dan deur Terstegen van Huyssteen, ’n skole-musiekinspekteur van die Oranje Vrystaat, toongeset is.

Die skool is amptelik deur die Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap, Jan de Klerk geopen (hy was vader van die latere Staatspresident F W de Klerk). (Tegniese onderwys het onder die nasionale ministerie, geval, nie die Kaapse provinsiale Onderwysdepartement nie.)

Daar was in die eerste jaar 411 seuns, 570 in die tweede, en in 1965 is ’n totaal van 602 leerlinge ingeskryf – terwyl ongeveer 100 toegang geweier moes word, weens onvoldoende akkommodasie.

’n Vloot-kadetafdeling is in 1964 aan die skool gevorm, sowel as ’n blaasorkes. In 1971 het die kadetafdeling sy uniforms en drilprosedures verander om leër-kadette te word. ’n Wapenstoor en ’n skietbaan is in 1976 in gebruik geneem. Die blaasorkes het voortgeleef en het verskeie kompetisies gewen. In 1981 het dit eerste plek in Kaapprovinsie geneem.

Die kadetafdeling is uiteindelik in 1992 ontbind.

’n Oud-leerlinge-vereniging is in 1984 gevorm. In 2002 is die vereniging ontbind en in die skool se nuutgevormde ondersteunersklub geamalgameer.

Die eerste meisie het in April 1988 ’n leerling aan die skool geword, maar het voor die einde van die jaar die skool weer verlaat. Sedert 1995 is meisies egter ’n gereëlde deel van die skoollewe.

Die skool het in 1991 sy naam verander na Hoër Tegniese Skool Newton en het by die Buro vir Heraldiek ’n wapen laat registreer.

In 2002 het die skool sy eerste vroulike onderhoof, mej S D Wilson, aangestel.

Die skool het sy eie webwerf hier.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: inligting en illustrasie deur die skool voorsien.


    Terug na skole-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle