Armoria ecclesiastica
http://uk.oocities.com/kruisstaf
Kerkwapens in Suid-Afrika

Wapens en die Kerk

deur Mike Oettle

Durham / kardoese / Pouse/Vatikaan / Hervormde Kerk / Lutheraans / Congregational

HERALDIESE wapens het in gebruik gekom as die merk van die krygsman. Die Kerk bestaan uit manne van vrede. Hoe dus het wapens hul weg in die Kerk in gevind?

Deels lê die antwoord in die politieke rol wat die Kerk in die Middeleeue gespeel het. Tydens die eerste drie eeue van die Christelike era was die Kerk ’n vervolgde minderheid, en sy biskoppe het dikwels ’n geheime leierskapsrol gespeel wat in owerheidsweë geen deel gehad het nie en die rol naby gevolg het wat in die briewe van Paulus in die Nuwe Testament vir hulle neergelê het.

Maar twee groot veranderings het veroorsaak dat die biskoppe en patriarge (hoofbiskoppe) al hoe meer in politieke sirkels ingedruk het. Ten eerste het die keiser Konstantyn[1] met die biskoppe en patriarge geraadpleeg, en hulle uitgenooi na konvokasies (veral die een op Nikea) waartydens Kerkleer bespreek is. Konstantyn het ook op Konstantinopel (tans Istanbul) ’n nuwe hoofstad gebou, wat in 330 nC formeel ingewy is. Geleidelik het ’n skeiding tussen die oostelike en westelike dele van die ryk gegroei. Tweedens, as gevolg van die barbaarse invalle van die 4de eeu nC, het siviele lewe in die westelike helfte van die Romeinse Ryk verval en is die biskoppe gedwing om in te tree om deel te neem aan die verspreiding van kos aan armes, die voorsiening van geld vir bouwerke en, in sommige plekke, ’n leidende rol in regeringsake gespeel.
wapen van die aartsbiskoplike hertogdom Wesfale, ook die staat Keulen genoem wapen van die vors-bisdom Sion wapen van die Sticht Utrecht wapen van die bisdom Augsburg wapen van die vors-bisdom Mainz

Teen die tyd van die Karolingiese Ryk[2] het dit die norm geword dat ’n biskop en ’n graaf[3] saam gestuur is as kommissie van ondersoek na die administrasie van ’n distrik. Teen hierdie tyd het dit ook vir kerke en kerk-inrigtings om van grond voorsien te word sodat die personeel onderhou kon word, as gevolg van die verval van die geld-ekonomie wat in die Romeinse Ryk universeel geword het. Skenkings en nalatings deur vrome grondbesitters het die Kerk se grondbesit vergroot, sodat groot landgoede onder die beheer van biskoppe, abbe en ander Kerkbeamptes geval het.
wapen van die vors-bisdom Luik wapen van die abbe van St Gallen

Die bekendste voorbeeld hiervan is die gebied onder beheer van die biskoppe van Rome – wat tydens die Donker Tyd die titel Pous aangeneem het. Aanvanklik het dit neergekom op hertoglike regering oor die omgewing van Rome self, bekend as die Patrimonium van St Petrus, wat die Romeinse biskoppe so vroeg as die 4de eeu besit het. Karel die Grote se vader, Pepyn III die Korte, het dan ook in 756 nC die Marke (i Marche) en Umbrië aan die pousdom bemaak. Die pouslike aansprake oor hierdie gebied is egter grootliks versterk deur ’n berugte Middeleeuse vervalsing wat as die Skenking van Konstantyn bekend staan: ’n dokument skynbaar deur Konstantyn die Grote geteken, wat aan die Pousskap ewigdurende heerskappy oor die gebiede waaroor die Bisdom Rome aanspraak gemaak het, skenk. Die Pouslike State het hulle volste bestek onder die regering van Pous Julius II (1503-1511) bereik, en ook Romagna, naby Venesië, ingesluit.

Maar ook in ander plekke het biskoppe territoriale magnate geword. Dikwels was dit omdat konings en keisers prelate as minder dreigend as ander prinse aangesien het, blykbaar aangesien hulle selibaat was, en geen seuns gehad wat hulle kon opvolg nie, of dogters wat hulle in die huwelik kon weggee.

In 1180 is die aartsbisdom Keulen tot die status van ’n hertogdom (hertogdom Wesfale) verhef, hoofsaaklik omdat die keurvorste van die Heilige Romeinse Ryk gevoel het dat die hertogdom Sakse te veel mag gehad het en verklein moes word. Tot die val van die Ryk onder Napoleon (en die sekularisasie van al die vors-bisdomme op die Europese Vasteland behalwe Rome self), was die aartsbiskop van Keulen altyd die keurvors wat die keuse van ’n nuwe keiser gelei het. Reeds ’n eeu voordat die bisdom Keulen ’n hertogdom geword het, het Luik (Liége, tans in België) ’n vors-biskop bekom.

(Tot met die voltooiing van die unifikasie van Italië in 1870 het die Pouslike State nie heeltemal verval nie. Hulle het tussen 1798 en 1815 in die rewolusionêre republieke van Italië en daarna in die Napoleontiese Ryk verdwyn, maar is toe herstel. Die verenigingsproses binne die skiereiland het egter in 1859 die gevolg gehad dat die Marke, Umbrië en Romagna weggebreek het, terwyl Rome self in 1870 geval het. Die Pouse was in werklikheid nie weer soewereine vorste nie tot in 1929, toe Mussolini se Lateraanverdrag die Vatikaanstad-staat geskep het, ’n karige oorblyfsel van die eermalige pouslike vorsdom.)
biskopsmus-en-kroon-kombinasie van die biskoppe van Durham

In min of meer dieselfde tydvak as die totstandkoming van die kerklike vorsdomme van Keulen (of Köln) en Luik (Liège), het die bisdom Durham, in noord-oostelike Engeland, ’n paltsgraafskap geword – ’n unieke skepping, aangesien dit die enigste paltsgraafskap in Engeland gebly het (Skotland het glad nie so iets gehad nie, alhoewel die grawe van Pembroke, in Wallis, ook paltsgrawe was), en die enigste kerklike “vorsdom”. (Anders as hulle eweknieë op die Vasteland was die Engelse konings by magte om te verhoed dat hulle grawe [earls][4] hulself tot soewereine status verhef het.) Die bisdom Durham het verantwoordelikheid gedra vir verdediging teen aanvalle uit Skotland. Biskoppe van Durham het slegs die biskopsmus (of mijter, soos dit in Nederlands genoem word, in Engels mitre) op hul hoofde gedra, maar in hulle heraldiese vertoon het hulle die mus met ’n hertoglike kroon gekombineer (hieronder meer hiervan).
wapen van die grawe van Genéve

En in Genéve, toe die familie van die grawe van die stad in 1401 uitgesterf het, het die stad se biskoppe ook die status van graaf bekom. Dit het verdwyn tydens die Reformasie, toe in 1536 die laaste vors-biskop verban is en ’n Protestantse republiek geproklameer is.

Hier links is die wapen van die grawe van Genéve. Dit was een van die verskeie kwarterings wat deur die Nederlandse Stadholder Willem die Swyger gevoer is, en word dit ook in die wapen van die (Nederduitse) Reformed Church of America weerspieël (kliek onder aan daardie bladsy om dit in meer detail te sien).

Die biskoppe van Sion was heersers van die huidige Kanton Valais vanaf 999 tot 1798, toe hulle grondgebied deel geword het van die Rhodaniese Republiek. Dit het eers in 1847 by Switserland aangesluit. Die wapen van die bisdom vorm die basis van die huidige wapen van Valais. Die abbe van Sankt Gallen was vanaf 1206 prinse van die Heilige Romeinse Ryk, maar hul heerskappy is in 1524 deur die Reformasie beëindig, alhoewel hulle grondgebied eers in 1803 ’n kanton geword het. Die kantonale wapen is rewolusionêr, maar die stad Sankt Gallen voer steeds die abbe se beer in sy wapen.

Ander vors-biskoppe kon gevind word in Utrecht (tans in Nederland); in Mainz (tans in Rynland-Palts); in Metz, Toul en Verdun, in Lotharinge[5] (toe in die Heilige Romeinse Ryk, tans in Frankryk); in Würzburg (in Franken, tans deel van Beiere), die biskoppe waarvan teen die 12de eeue oor Oos-Franken hertoglike gesag gevoer het; in Salzburg (tans in Oostenryk), die aartsbiskoppe waarvan vanaf 1278 Ryksvorste was; Freising, in die ou deel van Beiere, wat in 739 nC as biskoplike setel gevestig is; en Fulda, tans in Hessen, die setel sedert 744 nC van ’n abdy, waar die abbe in 1752 die rang van vors-biskop verkry het.

Die biskoppe van Straßburg (Straatsburg, tans Strasbourg, in Frankryk) het tydens die Middeleeue gepoog om ’n vors-bisdom te skep, maar het gefaal toe die stad ’n keiserlike vrye stad geword het. Die biskoppe van Augsburg, in Beire, het ook nie vors-biskoppe geword nie, maar hulle invloed in die stad (vanaf 1276 ’n keiserlike vrye stad) was sulks dat die stad die biskoplike wapen oorgeneem het. En in Eichstätt (ook in Franken/Beiere) het die biskoppe hierin geslaag.

Vors-biskoppe was nie noodwendig adellik nie: die biskop van Mainz wat aan daardie bisdom/graafskap sy eenvoudige wapen van ’n silwer wawiel op rooi gegee het, was die seun van ’n gewone wabouer. Maar priesters uit die adelstand het dikwels tot sulke hoë posisies verrys, en het hulle familiewapens tot kerklike gebruik toegepas.

Teen die tyd, dus, wat die heraldiek algemeen was onder die krygerklas van Wes-Europa (die vroeë 12de eeu), was dit ook in die Kerk gevestig, waar nuwe reëls gemaak is vir die aanpassing daarvan.

Dit is volhou dat priesters nie die swaard mag gebruik nie. Maar dit het glad nie vir menige biskop (toe hy geroep is om sy grondhuurder-troepe in die slag te lei) gekeer dat hy ’n lelike oorlogsknots woes in die slag geslaan het nie.

Dit is tog gevoel dat kerklikes, aangesien hulle nie toernooivegters was nie (daar het die sierlike helm en helmteken ’n belangrike seremoniële rol gespeel), nie helmtekens in hulle wapens moes insluit nie. In plaas, dus, van ’n helmteken, sou ’n biskop ’n biskopsmus bo sy skild vertoon.

Dit het ook nie gekeer dat sommige vors-biskoppe ander helmtekens by hulle vertoon ingesluit het nie, of selfs dat hulle die mus tot ’n helmteken in eie reg omskep het, waar dit bo-op ’n helm gesit het en selfs aangesluit is deur ander simbole wat eie was aan die ridderskap.

Die biskopsmusse wat in die heraldiek voorkom wissel van voorkoms, net soos wat dié wat werklik op biskoplike koppe voorgekom het. Die opwaartse neiging van die mus is veronderstel om ’n vlam voor te stel – spesifiek die vlam van die Heilige Gees wat op die Pinksterdag in die bokamer op die hoofde van die dissipels verskyn het, soos wat in Handelinge 2:3 in die Nuwe Testament vertel word.

In die vroeë Middeleeue was dit taamlik plat, maar in die Hoë Middeleeue het musse tot ’n aansienlike hoogte gegroei. Dit is moontlik ’n na-aping van die kombinasie van biskopsmus en drie krone wat die Pouse gedra het (wat tegnies as ’n tiara bekend staan), en wat min of meer in daardie tyd in gebruik gekom het. (Kyk onder vir voorbeelde hiervan. Die tiara is deur Pous Johannes Paulus I afgeskaf, en die huidige pous, Johannes Paulus II, het dit nog nooit persoonlik gedra nie, alhoewel hy dit as deel van sy wapen vertoon.)

Voorbeelde van beide lae en hoë musse kan op hierdie bladsy gesien word: ’n hoë verskyn op die kop van die Biskop van Durham, terwyl die twee wapens van Lutheraanse biskoppe die lae vroeë Middeleeuse styl, wat in sekere kringe in die moderne tyd laat herleef is.

Die gewone gebruik van die Rooms-Katolieke Kerk sluit in biskopsmusse in drie style: die mitra simplex, wat onversierd wit is en gebruik word tydens gewone dae in die Kerkkalender, of by geleenthede waar dekorasie van enige soort vermy word; ’n meer versierde soort word op geleenthede gebruik wat ietwat meer spesiaal is; terwyl die mitra pretiosa, of kostelike mus, op die hoë heilige dae gebruik word. Dit word met sierstene en edelmetaaldraad versier.

In die Anglikaanse Kerk sal ’n biskop slegs een mus gebruik of miskien verskillende musse wat by sekere geleenthede pas. Hierdie is gewoonlik nóg eenvoudig wit nóg ryklik versier nie. In die 20ste eeu was musmakers heel vindingryk met die invoeg van motiewe wat die Kerklewe, of aspekte van die Goddelike, weerspieël het. Sulke biskopsmusse is egter weinig in die heraldiek aangepas.

Die biskopsmus word gewoonlik vergesel deur ’n paar linte, wat in Latyns die infulæ vitæ genoem word. Hierdie is tradisioneel van goud, maar word gewoonlik soortgelyk gekleur en versier soos die mus self. In werklikheid hang hierdie linte agter die biskop se kop wanneer hy die mus dra; in die heraldiek word hulle sierlik langs die skild of kardoes (kyk onder) gedrapeer, ietwat soos die lappies van die dekkleed in die wapen van ’n ridder wat ’n helmteken voer.

In die Rooms-Katolieke Kerk sedert die 19de eeu is dit volhou dat, sonder spesiale verlof uit die Vatikaan, abbe en suffragaan-biskoppe alleen die mitra simplex mag voer. Biskoppe met volle beheer oor hulle bisdomme, en aartsbiskoppe, vertoon tradisioneel die mitra pretiosa. Anglikaanse biskoppe en bisdomme is nie onder sulke beperkings nie, maar oor die algemeen vermy hulle swierige vertoon.

Hedendaags in Engeland is dit nie onbekend nie dat ’n priester van die Kerk van Engeland ’n wapen met helmteken voer nie; aangesien hy gewoonlik getroud is, word dit waarskynlik gevoel dat aangesien sy nageslag daarop geregtig sou wees, dit onbillik sou wees om hom dit te ontsê.

Die wapens van biskoppe word dikwels vergesel deur ander simbole (behalwe die mus) van hul amp. Elke Rooms-Katolieke en Anglikaanse biskop dra ’n biskopstaf of kromstaf, gemodelleer op die skaapwagter se kromstaf, aangesien dit van die biskop verwag word om Christus se instruksie aan Petrus uit te voer: “Laat my lammers wei.” (Vir meer oor hierdie aanhaling, kyk hier.)

Aartsbiskoppe (ten minste in die Katolieke tradisie) gebruik ’n staf met ’n kruis bo-aan, bekend as ’n kruisstaf of patriargale staf. Maar in Suidelike en Sentraal-Afrika, ten minste, verkies Anglikaanse aartsbiskoppe om die biskopstaf te behou wat hulle ontvang het toe hulle die eerste maal as biskop georden is. Die wapen hieronder van biskop Helge Fosseus toon alleenlik ’n biskopstaf, terwyl dié van biskop dr Bengt Sundkler beide ’n biskopstaf en ’n patriargale staf toon.

Die kruise bo-aan hierdie stawe of stokke varieer aansienlik, vanaf die streng formele dog heraldiese kruis soos in Dr Sundkler se wapen hieronder tot kruise wat heel groot is. Veral in die Griekse Ortodokse Kerk word die groot patriargale kruis vergesel deur ’n “titel” – ’n voorstelling van die opskrif wat Pontius Pilatus by Christus se kruis laat aanvoeg het met die drietalige bewoording “Jesus van Nasaret, Koning van die Jode”.

Die titel, wat dikwels die letters INRI dra (dit is die Latynse voorletters van daardie opskrif), is dikwels so groot dat dit soos ’n tweede dwarsbalk lyk. Griekse patriarge vertoon soms ’n kruis wat werklik so ’n tweede dwarsbalk dra, bo en behalwe die titel. Hierdie gebruike is die oorsprong van die wapenfiguur wat patriargale kruis genoem word (en wat in verskeie heraldiese style voorkom), wat in werklikheid ’n tweede, soms selfs ’n derde, dwarsbalk dra.
wapen van die Bisdom Durham wapen van Robert Nevill

Aangesien die huwelik genoem is, kan ek melding maak van een van die interessantste heraldiese praktyke wat met die Kerk gekoppel is, een wat sy weg tot in die sekulêre wêreld teruggevind het. Dit is gevoel dat ’n biskop, aangesien hy selibaat was, slegs met sy bisdom getroud kon wees (dieselfde het gegeld vir enige priester ten opsigte van die amp wat hy uitgeoefen het). Dus sou ’n biskop, veral in Engeland, die wapen van sy bisdom met sy eie familiewapen op dieselfde manier sou kombineer as wat die wapens van ’n man en vrou gekombineer sou word: deur skilddeling.
wapen van Robert Nevill, biskop van Durham

Dit het beteken dat die skild (of kardoes – kyk onder) middeldeur gedeel is, met die wapen van die bisdom regs en die biskop se persoonlike wapen links. Dit was ook op ander ampte van toepassing, dus kon ’n rektor se wapen met die parogiewapen gedeel word, ’n dekaan s’n met die van die katedraal, ’n ab s’n met dié van sy abdy of hoogklooster, ensovoorts. Vir ander voorbeelde van deling kyk hier, en vir ander kombinasies van ampswapens met persoonlike wapens, kyk hier.
Robert Nevill, biskop van Durham

In Engeland is die biskopsmus-en-kroon kombinasie van die biskoppe van Durham uniek, alhoewel ook heelwat misverstaan. Die bisdom het sowat twee eeue gelede sy status as paltsgraafskap verloor. Tog het 20ste-eeu biskoppe steeds die kroon vertoon, en in ander bisdomme het misleide indiwidue die plaaslike biskop se wapen met mus en kroon vertoon (waarvoor daar geen presedent of gesag bestaan nie).
wapen van St Francis de Sales

Dit is ook deur sekere deskundiges volgehou dat ’n priester, aangesien hy nie ’n krygsman was nie, nie eens ’n skild behoort te voer nie, en het vir hierdie doel die ovaalvormige kardoes voorskryf. Hier regs (op ’n kardoes) is die wapen van die Heilige Francis de Sales (1567-1622), titulêre Biskop van Genève (1602-1622), beskermheilige van skrywers. (Ná die uitwerping van die laaste vors-biskop uit die stad Genève, is die titel in ballingskap voorts gebruik in die hertogdom Savoje.) (Om hierdie heilige se naam uit te spreek, sê “FRansié de Saal”, met ’n bry-klank.)

(Die kardoes dien egter ook ander doele. Op die Vasteland word dit dikwels gebruik om ’n dame se wapen te vertoon. Kyk hierdie artikel vir ’n bespreking hiervan.)

In die Rooms-Katolieke Kerk het ’n ingewikkelde stelsel van gradasie tussen kerklikes ontwikkel, met hoede van verskillende kleure (wat bokant die skild/kardoes vertoon is, bokant die mus waar die wapenvoerder ’n biskop of ab was) en met verskillende getalle tossels wat weerskante langs die skild of kardoes afhang. Die prelate van hoogste rang onder die Pous self was die kardinale, met hul rooi hoede en tossels.
wapen van Pous Johannes XXIII wapen van Pous Paulus VI wapen van die Vatikaanstad-staat

Die pousdom self het nooit ’n eie wapen gevoer nie. Elke pous plaas sy eie persoonlike wapenskild (dié van sy familie, indien dit ’n wapen voer, of andersins ’n wapen wat hy self ontwerp het) met die skild deur gekruisde sleutels gesteun, simbool van die sleutels tot die hemel wat die Here vir Petrus belowe het. Op sy beurt word Petrus in die Katolieke tradisie beskou as die eerste biskop van Rome. Bo-aan die skild verskyn die tiara. Die Bisdom Rome – waar dit van die pousskap afskeidbaar is – voer (veral sedert die daarstelling van die Vatikaanstaat in 1929) wel ’n wapen waarin die gekruisde sleutels onder die tiara op ’n rooi skild verskyn. Vir nadere inligting hieroor, kyk hierdie bladsy.

(Terloops, die pouslike wapens wat hierbo links verskyn is ook voorbeelde van ’n uniek Italiaanse verskynsel: die skildvorm wat ontleen is aan die gesigspantsering van ’n perd. Skilde van hierdie formaat is algemeen in Italië, maar word seldsaam indien ooit in ander lande raakgeloop.)

Bo en behalwe die ingewikkelde heraldiese sisteem wat binne die Rooms-Katolieke Kerk bestaan, en wat tot onlangs direk deur die Vatikaan beheer is, is daar ’n hele reeks heraldiese deviese wat in familiewapens voorkom wat tot die Kerk betrekking het. Baie van hulle het spesifieke verwantskap met die Pousdom, maar hulle sal nie hier gedek word nie, aangesien hulle weinig met Suid-Afrika te doen het nie.

Die Reformasie het gesorg vir die oorboord gooi van baie aspekte van hierdie sisteem. Veral Gereformeerde (Calvinistiese) kerke vermy die heraldiek óf heeltemal, óf gebruik hulle andersins seëls (heraldies of nie) slegs vir sinodale owerhede, dikwels nie vir indiwiduele plaaslike kerke. Maar Britse (Anglikaanse) biskoppe en hul Lutheraanse eweknieë in Duitsland en Skandinawië het die heraldiese tradisie laat voortleef.

Dit dien egter opgelet te word dat die Kerk van Skotland (wat Presbiteriaans/Calvinisties is) nie slegs ’n heraldiese tradisie behou het nie, maar ’n sisteeem swart kerklike hoede in gebruik genem het, soortgelyk aan dié van die Roomse Kerk.
seël van die Groote Kerk, Kaapstad

In Suid-Afrika kan dit gesê word dat hierdie proses agteruit gevolg is, aangesien die eerste kerk wat aan die Kaap gevestig is, ’n Nederduitsche Gereformeerde gemeente was. Die Groote Kerk het sy eie heraldiese seël gehad, maar dit lyk nie of die wapen só vertoon, in kleur geskilder is nie. Die moderne seëls van die verskeie sinodes in hierdie land van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (of Verenigende Gereformeerde Kerk) is glad nie heraldies nie.

En terwyl ’n mens biskoppe kon vertrou om heraldiek van een of ander aard in te bring, was daar glad geen biskoppe in die land tot so laat as die 1830s, toe die eerste Rooms-Katolieke biskop van Kaapstad geïnstalleer is, en die 1840s, toe die Anglikaanse Kerk die aankoms van sy eerste biskop van Kaapstad gesien het.

Aanvanklik het kerke in Suid-Afrika onder staatsbeskerming ingekom. Die Nederduitsche Gereformeerde Kerk was die amptelike kerk van die Nederlandse kolonie (onder die Vereenigde Oostindische Compagnie), en het langs die Anglikaanse Kerk daardie status onder Britse beheer behou. Maar in 1875 het die konsep van ’n Staatskerk in Kaapkolonie finaal weggeval toe Staatssubsidies onttrek is, en kerke verplig was om op eie lede se bydrae staat te maak.

Ironies was dit in die 1850s, toe die tendens teen Staatskerke begin posvat het, dat die Zuid Afrikaansche Republiek die Nederduitsch Hervormde Kerk (’n konserwatiewe aftakking van die NG Kerk) as Staatskerk aangeneem het. Hierdie status het weggeval toe die ZAR as die Transvaal Colony geannekseer is. Kerke in hierdie land is nietemin oorheersend vrywillige organisasies, en daar was nog nooit enige situasie wat selfs naastenby soos die Middeleeuse vors-bisdomme gelyk het nie.
wapen van biskop Helge Fosseus wapen van biskop dr Bengt Sundkler

Die Anglikaanse bisdomme lyk of hulle die hoofdryfkrag was in die vestiging van ’n permanente heraldiese gebruik op kerkgebied, daarin dat die bisdomme self wapens voer wat van een biskop na die ander in gebruik voortgaan. Die Rooms-Katolieke los dit blykbaar aan elke nuwe biskop oor om self ’n wapen op te trek (waar sy familie nie reeds wapenvoerend is nie), wat vir ’n interessante variëteit sorg, maar nie veel kontinuïteit nie.

Sedert die 19de eeu het parogieë ook wapens gevoer, maar sover geld dit vir slegs enkeles. Brownell se boek[6] gee die wapens van slegs twee Anglikaanse parogieë (waarvan een, St Mary’s in Port Elizabeth, sedertdien ’n katedraal geword het) en let daarop dat ’n aansoek vir ’n derde geprosseseer word (dié van All Saints’, Kabegapark).

Dit blyk of dit nie tans nodig is dat ’n innovering van die Canadian Heraldic Authority in Suid-Afrika nodig sal wees nie. In Kanada het die wapens van katedraal-parogiëe ’n biskopstoel of cathedra[7] as skildhouer.

Lutheraanse biskoppe van verskeie oorspronge het ook in Suider-Afrika wapens gevoer, asook elders in Afrika. Hier links is die wapen van Helge Fosseus, Sweedse biskop van die Evangelies Lutherse Kerk in Suider-Afrika. Dit is nie net gedeel nie (kyk die voorbeeld van die wapens van Durham hierbo); hierdie wapen verskyn ook op ’n Nguni-skild, soos wat ook voorkom in die wapens van KwaZulu, Ciskei, KwaZulu-Natal en Gauteng. Regs is die wapen van dr Bengt Sundkler, biskop van Bokuba in die Sweedse Evangeliese Kerk van Noord-Wes Tanganjika.
Verenigde Congregational Kerk van Suidelike Afrika Presbiteriaanse Kerk van Suid-Afrika

Die Verenigde Congregational Kerk van Suid-Afrika voer ’n wapen – maar aangesien dit breedweg in die Calvinistiese tradisie val, het dit ook ’n enkele devies vir ’n sinodale liggaam – en die Presbiteriaanse Kerk van Suid-Afrika het ’n wapen gevoer wat van die Kerk van Skotland geleen is. Die Verenigende Presbiteriaanse Kerk van Suid-Afrika het egter besluit om ’n logo te gebruik wat glad nie heraldies is nie. (Weereens is dit die eiendom van die sinodale liggaam.)

 



[1] Konstantyn die Grote, waarskynlik in die laat 280s gebore te Naissus, in Moësia, tans Nis in Serbië, in 337 gesterf naby Nikomedia, tans Izmit, Turkye; het in 312 keiser van die westelike helfte van die Romeinse Ryk geword en alleenkeiser in 324. Het homself in 313 tot die Christelike Geloof verbind met die uitreiking van die Edik van Milano wat aan Christene toleransie verleen het, maar is eers kort voor sy oorlye gedoop.

[2] Koning Karl van die Franke, wat ’n gebied regeer het wat Frankryk, (Wes-)Duitsland, die noordelike helfte van Italië en alles tussenin ingesluit het, is Kersdag 800 nC deur die Pous as Keiser bekroon. Karl, wie as Karel die Grote (in Frans en Engels, Charlemagne) onthou word, was dus die eerste Heilige Romeinse Keiser, en die eerste keiser oor die westelike helfte van wat die Romeinse Ryk was, sedert die 5de eeu nC.

Karel die Grote het voor die tyd van die heraldiek geleef, maar latere heroute het hom nietemin ’n wapen aan hom toegeskryf. Kyk onder aan hierdie bladsy vir ’n illustrasie.

Sint Paulus-katedraal, Regina

[3] Die titel graaf, wat in die woordvorm comes vanuit die Romeinse Ryk oorgelewer is, het (teen die tyd van die Karolingiese Ryk) ’n beampte aangedui wat as goewerneur van ’n distrik aangestel is. Die aanstelling was aanvanklik slegs vir vier jaar, maar het geleidelik lewenslank geword. Toe, soos wat grawe hul heersers omgepraat het om hul seuns tot die posisie aan te stel, het die aanstelling oorerflik geword.

[4] “Earl” is die Engelse ekwivalent van graaf. In Engels word gelyke Vastelandse titels egter as “count” vertaal (comte in Frans, Graf in Duits, conde in Italiaans). Engelse earls is nie toegelaat om hulself permanent te koppel aan die regering van enige deel van die koninkryk nie. Die koninkryk is wel in graafskappe (counties) verdeel, maar hierdie administratiewe verdelings was heeltemal apart van titulêre graafskappe (earldoms).

[5] Vir meer oor Lotharinge, kyk hierdie bladsy.

[6] Heraldry of the Church of the Province of Southern Africa, 1847-2000, deur F G Brownell, uitgegee deur Heraldsholme CC, Pretoria 2002.

[7] Hier regs verskyn die wapen van die Sint Paulus-katedraal, Regina, Saskatchewan, en bo-aan die stoel die wapen van die Bisdom Saskatchewan. Ander katedraalwapens met hierdie soort skildhouer wat in die Public Register of Arms, Flags and Badges of Canada voorkom is dié van Sint Lukas-katedraal, Sault Ste Marie, Ontario, Christuskerk-katedraal, Fredericton, New Brunswick, en die Katedraal van die Heilige Drieëenheid, in die stad Quebec, Quebec.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: Wapens van Durham en Robert Nevill uit Simple Heraldry deur Sir Iain Moncreiffe of Moncreiffe en Don Pottinger (Thomas Nelson and Sons). Seël van die Groote Kerk uit Lions and Virgins deur C Pama (Human & Rousseau). Wapens van pouse, van Lutherse biskoppe en van Francis de Sales uit Heraldry of the World deur Carl Alexander von Volborth (Blandford). Wapen van die Verenigde Congregational Kerk van Suider-Afrika uit The Harvest and the Hope: The Story of Congregationalism in Southern Africa, deur D Roy Briggs en Joseph Wing (UCCSA). Biskopsmus-en-kroon uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Frederick Warne). Wapen van die Vatikaanstad uit Flags of the World, deur Whitney Smith (McGraw-Hill). Wapens van Luik en Sankt Gallen met vergunning van International Civic Arms.
  • Van die skanderings is deur Howard Lancaster.

  • Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle