Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

PIETERMARITZBURG / UMGUNGUNDLOVU
Provinsie/staat: KwaZulu-Natal (vroeër Provinsie Natal/Natal Colony/Republiek Natalia).
Toevoegings: Msunduzi, 1995.
Ingelyf: in Munisipaliteit uMngeni, 2000, deel van Distriksmunisipaliteit UMgungundlovu.

Pietermaritzburg

Die wapen soos dit hier verskyn is blykbaar geregistreer by die Buro vir Heraldiek onder die Heraldiekwet van 1962. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: Gesny van blou en groen, ’n staande olifant van goud, met silwer tande.

Wrong en dekkleed: Goud en groen.

Helmteken: ’n Son van blou waarop vyf vyfpuntige sterre, 1, 3 en 1, die middelste ster van goud, die ander van silwer.

Grond en skildhouers: Op ’n groen grasgrond twee swart wildebeeste, met op die skouer van regterkantse wildebees ’n skild van die Britse Unie; op die linkerhandse wildebees se skouer ’n skild van die vlag van die Republiek Natalia.

Leuse: Umgungunhlovu.

Oor die wapen:
Die olifant en die son met sy kruis van sterre is deel van die simboliek van Pietermaritzburg sedert 1854, toe die dorp na borough-status opgehef is.
Pietermaritzburg (oud)

Die illustrasie regs toon die wapen soos wat dit blykbaar vanaf 1854 gevoer is:

 

Wapen: In blou, ’n staande olifant in sy natuurlike kleure.

Helmteken: ’n Son van goud, waarop vyf vyfpuntige sterre van silwer, swart omsoom.

Leuse: Umgungunhlovu.

 

Die olifant – ’n Afrika-olifant, Loxodonta africana – is ’n simbool van koninklike gesag, en is doelbewus gekies, tesame met die leuse (wat “plek van die olifant” beteken), om die verskuiwing van mag van die kraal van die Zulu-koning – die kraal van Dingane (wat heeltemal buite die destydse kolonie geleë was, noord van die Thukelarivier en nie ver van waar Ulundi in die 1970s en ’80s as wetgewersetel van KwaZulu gebou is nie) is Mgungundlovu[1] genoem – na die setel van die Luitenant-Goewerneur (later die Goewerneur) van Natal te simboliseer.

In die finale weergawe is die olifant se kleur verander van grys (“natuurlike kleur”) na goud, om genoegsame heraldiese kontras te verseker. In plaas van suiwer blou (met invoeging van ’n grasgrondjie onder die olifant se voete), is die agtergrond nou bo blou en onder groen.

Die son in die helmteken het blou geword – ’n vreemde keuse, dog aantreklik. Dit simboliseer blykbaar nou die hemelruim, eerder as slegs ons eie son. Dit laat toe dat die sterre in metalliese kleure voorgestel word.

Die wildebeeste kom uit die wapen van Natal – kyk hier vir ’n bespreking van die betekenis daarvan.

Die skilde op hul skouers dra die vlaginhoud – eerder as die wapens – van ten eerste die Republiek Natalia (1838-42) en dan van die Britse Ryk (die Union Jack).

Die Natalia-devies weerspieël die vlag volgens die algemene idee van hoe dit in die jare 1838-42 gehys is; onlangse navorsing dui egter daarop dat die gemeende hyskant in werklikheid die wapperkant was.

Die Union Jack kan teruggevoer word na die samevoeging van die kruise van St Andries en St Joris (St George) as die simbool van Brittanje nà die unie van Engeland en Skotland, alhoewel sy huidige vorm na 1801 terugdateer, toe Ierland van die Verenigde Koninkryk deel geword het. Dit is in Natal amptelik gehys vanaf die anneksasie van 1842 totdat Suid-Afrika in 1961 ’n republiek geword het.

In Natal was die blanke bevolking heelwat meer aan die Union Jack geheg as in die res van Suid-Afrika, en tussen 1928 en ’61 is dit feitlik sonder uitsondering langs die Suid-Afrikaanse Unievlag gehys, nie net deur die korporasies van Pietermaritzburg en Durban nie, maar ook deur die Natalse Provinsiale Administrasie en selfs by Natal Kommandement in Durban, die militêre streekhoofkwartier.

Elders in Suid-Afrika is die Union Jack en sy bykomstige vlae min gesien nà 1928, en veral nà 1952, toe die Suid-Afrikaanse Rooi Vaandel ook opgehou het om die land se handelsvlag te wees.

Oor die stad:
Voortrekkers het 23 October 1838 ’n dorp in die bo-vallei van die Msunduzirivier en het dit Pietermaritzburg genoem, ter ere van die Trekleiers Pieter (Piet) Retief en Gert Maritz, wie altwee oorlede is voordat die Trekkers hulle staat in Natal kon stig.

Die uitleg van die dorp, wat op die Boesmansrand[2] geleë is, tussen die Dorpspruit en die hoofstroom van die Msunduzi (wat destyds Umsindusi genoem is), is aan kommandant Piet Greyling oorgelaat.

Hierdie gebeurtenis het die proklamasie van die Republiek Natalia voorafgegaan.

Een van die eerste besluite van die republiek se Volksraad[3] het oor die opmeting van die dorp (wat van meet af die hoofstad was van die staatjie-in-wording) en sy administrasie gegaan; dit is in ’n proklamasie van 15 Februarie 1839 uitgespel.

Die oorspronklike dorpsgebied was ’n parallelogram ongeveer 2 km by 1½ km met ’n markplein in die middel. Die Dorpspruit is uitgekeer om waterleiding vir al die erwe te voorsien. Die vore waarlangs die water geloop het, is lankal verwyder, maar vir lange jare in die 19de eeu was dit kenmerkend van die dorp.

Die nedersetting het tot in 1840 ’n laager gebly, totdat Dingane se mag finaal gebreek is. In daardie jaar is ’n Raadzaal, ’n tronk, ’n kruitmagasyn en ’n kerk (tans bekend as die Geloftekerk)[4] opgerig.

Die dorp se eerste landros, Jacobus Nicolaas Boshoff, is Februarie 1841 aangestel. (Die amp van landros het onder Britse heerskappy weggeval.) Boshoff sou later as president van die Oranje Vrij Staat dien.

Nà die Britse anneksasie van 1842, het die Volksraad aan Britse gesag oorgegee, en is ’n Britse garnisoen op die heuwel aan die suiderent van die dorp opgerig. Dit is Fort Napier genoem, en het ’n belangrike militêre sentrum geword.

’n Inskrywing in die Standard Encyclopædia of Southern Africa lui (my vertaling):

“Die dorp het bestendig gegroei en die eerste Natalse koerant, Die Natalier, wat in 1844 gestig is, kon berig dat daar 132 wonings was van baksteen of klip. Die jaar 1849/50 het ’n invloei van nuwe inwoners gesien as gevolg van die immigrasiskema van Byrne, waardeur Natal sowat 2 000 mense bygekry het, uit Brittanje en Duitsland. Teen 1852 was die bevolking van Pietermaritzburg 2 400, van wie 1 508 blankes was.”

Die oudste koerant wat sonder oponthoud steeds in Suid-Afrika gepubliseer word, die Natal Witness, is in 1846 in Pietermaritzburg gestig.

Die dorp is in 1854 as borough geproklameer, met D D Buchanan as eerste burgemeester. In daardie jaar het die dorp ook sy eerste wapen aangeneem, wat ’n olifant en die leuse Umgungunhlovu ingesluit het.

Die stad se hoof-Staatshospitaal, Grey’s Hospital, is in 1855 die eerste maal opgerig, en na die goewerneur van Kaapkolonie (en van Natal), sir George Grey, vernoem.

Die dorp het in 1857 formeel die hoofstad van die kroonkolonie Natal geword.

Die Voortrekker-Raadzaal, wat in 1842 voltooi is, is vanaf 1846 tot ’71 as die kolonie se Hoogeregshof gebruik. Tans staan daar op die perseel die Stadsaal, wat aanvanklik in 1893 voltooi is, maar wat in 1898 deur brand verwoes is, en herbou is. Nà herstelwerk is dit 14 Augustus 1901 formeel deur die hertog van Cornwall en York (later koning George V). Die gebou, wat glo die grootste gebou ter wêreld wat slegs uit bakstene gebou is, is ’n nasionale monument.

Teen 1880 is Pietermaritzburg met Durban gekoppel deur middel van ’n stoom-aangedrewe spoorlyn. Dit sou ’n verdere 13 jaar wees voordat die stad per spoor met Johannesburg verbind is.

Met die vorming van die Unie van Zuid Afrika in 1910, was Pietermaritzburg die enigste van die vier koloniale hoofstede wat nie ’n nasionale hoofstad geword het nie. Dit het wel die hoofstad gebly van wat nou die Provincie Natal geword het, en het daarby die setel geword van die Natalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika.

SESA noem nie wanneer Pietermaritzburg na stadstatus verhoog is. Maar aangesien Durban in 1935 stad geword het, moet dit in daardie tydvak val.

Jare lank het Pietermaritzburg as “Sleepy Hollow” bekend gestaan, want dit het stadig ontwikkel. ’n Nuwe stadsraad wat in die 1960s verkies is, het verskeie industrieë aangelok, en alhoewel die stad nie by Durban as nywerheidsentrum kan kers vashou nie, maak dit ’n goeie bestaan.

In 1994 het Pietermaritzburg een van twee hoofstede van die Provinsie KwaZulu-Natal geword; die ander was die setel van die wetgewer van KwaZulu, Ulundi. In 2002 het die provinsiale wetgewer egter besluit dat Pietermaritzburg die provinsie se enigste hoofstad sou wees.

Name van die stad:
Sedert die stigting van die stad bly sy amptelike naam Pietermaritzburg, alhoewel dit dikwels na Maritzburg afgekort is. Die Engelse uitspraak is egter afgewater na Peter-marrits-buhg.[5]

Die stad se hoofbynaam, wat onder andere deur die Natal Witness gegee is, is “the Capital”. Aangesien Natal nie as sulks Afrikaanstalige dagblaaie het nie, is daar nie juis ’n Afrikaanse ekwivalent nie.

Die naam Umgungunhlovu is ’n koloniale vorm van Gingindlovu – die klank wat deur die letters NDL voorgestel word is na aan (alhoewel fonologies anders as) dit van die letter-kombinasie NHL, en dit het die koloniste blykbaar verwar. Die Ngunitaal van die kolonie is in 1854 nie finaal in geskrewe vorm neergelê nie.

Hierdie naam – die spel daarvan na Umgungundlovu verbeter – het in 1994 ’n amptelike naam van die stad geword, toe isiZulu een van Suid-Afrika se ampstale geword het.

Met die herorganisasie van plaaslike regering van 2000, is die naam UMgungundlovu egter aan die distriksmunisipaliteit vir sentraal-Natal gegee, waarvan die hoofstad slegs ’n klein deel uitgemaak het.

Die stad se swart woongebiede, wat Msunduzi genoem is, is reeds in 1995 ingelyf. In die bedeling van 2000 is die dorpe Howick en Hilton by die stad ingelyf om die Munisipaliteit uMngeni te vorm.



[1] Die isiNguni-woord vir olifant is ndlovu. IsiNguni dek beide isiZulu en isiXhosa.

Die olifant is in die Nguni-kultuur tradisioneel met gesag verbind – in die Zulu-dinastie, dié van die koning, terwyl dit in Swaziland veral geassosieer word met die koninginmoeder, wie se eretitel Ndlovukazi is, of “wyfie-olifant”.

[2] Hierdie naam dui daarop dat die randjie in die verlede bewoon is deur Boesmans, die oer-inwoners van Suider-Afrika, eerder as deur abeNguni, wat huidiglik aangegesien word as die landsvolk.

[3] Die term Volksraad is ook gebruik vir die parlemente van die latere Boer-republieke, veral dié van die Oranje Vrij Staat en die Zuid Afrikaansche Republiek, en nà die aanvaarding van Afrikaans as ampstaal in die Unie van Suidafrika, is die term ook gebruik van die Unieparlement se laerhuis (in Engels die House of Assembly).

[4] Die naam Geloftekerk verwys na die eed of gelofte wat afgelê is deur die kommando onder leierskap van Andries Pretorius wat 16 Desember 1838 suksesvol Dingane se leër te Bloedrivier verslaan het.

Enkele dae voor hierdie slag het die kommando (later as die Wenkommando bekend) plegtig onderneem om die dag van hulle sege (sou hulle slaag) as Sabbat te eerbiedig.

Viering van die dag is in die Unie van Suid-Afrika weereens gebruik, maar dit was jare lank slegs as Dingaansdag geken. Slegs onder die Nasionale Party-regering is dit formeel Geloftedag genoem.

Sedert 1994 staan hierdie vakansie bekend as Versoeningsdag.

Die Geloftekerk is die oudste kerkgebou in Suid-Afrika buite die destydse Kaapkolonie.

[5] ’n Grappige vorm van die stad se naam het in ’n televisie-advertensie voorgekom waarin ’n kilt-draende swartman in ’n omgewing van Skotse spele of ’n Skotse regiment hom bevind het. Toe hy gevra word: “What kind of a Mac are you? From Edinburgh, I suppose?” antwoord die man: “No, I’m a Makhatini, from Marritzburgh!”


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Illustrasie van moderne wapen van ’n poskaart wat deur die Suid-Afrikaanse Poskantoor uitgereik is; wapen van 1854 van ’n plakboek-illustrasie in die Africana-kamer van die Port Elizabethse Sentrale Biblioteek. Geskiedkundige aantekeninge uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa (Nasou) en ander bronne.


    Terug na indeks van munispaliteite tot in 2000

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle