Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

BEAUFORT-WES / BEAUFORT WEST
Provinsie: Wes-Kaap (voorheen Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Afdeling: Beaufort-Wes.
Toevoegings: –
Ingelyf: 2000, in Plaaslike Munisipaliteit Beaufort-Wes.

Hertog van Beaufort

Beaufort-Wes

Wapen aanvanklik in gebruik geneem kragtens ’n proklamasie deur die Administrateur van Kaapprovinsie, gepubliseer in die Kaapse Offisiële Koerant No 3392, gedateer 10 Maart 1967. Die Buro vir Heraldiek het 3 September 1969 ’n wapenbrief (in Afrikaans) uitgereik. Die blasoen lui:

Wapen: In rooi, ’n valhek met kettings, alles goud.

Helmteken: ’n Staande volstruis van natuurlike kleur.

Wrong en dekklede: Goud en rooi.

Skildhouers: Regs ’n merinoram en links ’n angoraram, albei van natuurlike kleur.

Wapenspreuk: FESTINA LENTE.

Oor die wapen:
Die skild dra (as enkel wapenfiguur) ’n valhek, geneem vanuit die helmteken van die hertog van Beaufort. Kyk hieronder vir ’n verduideliking van die verbintenis met die hertog se familie.

Die helmteken is ’n volstruis (Struthio camelus), ’n voëlsoort wat in die laat 19de eeu belangrik geword het as produsent van vere wat in Londen buitensporige hoë pryse gehaal het. Beaufort-Wes was nooit so belangrik as ’n sentrum van die volstruisveerhandel as Oudtshoorn of Port Elizabeth nie, maar sy boere het uit die handel ryk geword, wat in die laat 20ste eeu herleef het.

Volstruise – dit wil sê, die Suider-Afrikaanse ras van die wilde spesie, wat ook in twee ander rasse voorkom, en so ver noord as Noord-Afrika en Arabië gevind word – is inheems in die Karoo.

Alhoewel die wyfie-volstruis grys is (en heel vaal van die stof), is die mannetjie duidelik aan sy glisterende swart lyfvere en wit stert en vlerkplume uitkenbaar (laasgenoemde is dikwels rooibruin van die stof).

Die regter skildhouer, ’n merino-ram, stel die winsgewende wolhandel voor, waarop baie van die welvaart van die distrik gebaseer is. Die Karoo-klimaat is goed tot skaapteelt gepas, en die sukkulente bossies wat die skape vreet, het as gevolg ’n uitkenbare smaak aan die skaapvleis.

Die merino-bedryf in Suid-Afrika het sy oorsprong in ’n kudde wat deur koning Carlos IV van Spanje, aan Willem V, prins van Oranje and Stadhouer, geskenk is, en wat hy op sy beurt Kaap toe gestuur is sodat sy boesemvriend, kolonel Robert Jacob Gordon,[1] die skape kon besorg. Die oorspronklike kudde is as gevolg van ’n misverstand (die koning was ontsteld dat sy gawe aan Willem uit Nederland gestuur is) na Spanje teruggestuur, maar sy nageslag was die basis waarop die wolskaapnywerhede van nie net Suid-Afrika nie, maar ook Australië, gebou is.

John Charles Molteno, later eerste Eerste Minister van Kaapkolonie, het in hierdie distrik in 1836-41 met merinoskaap begin boer. Die distrik bly ’n belangrike wolprodusent.

Die linker skildhouer, ’n angorabok, verteenwoordig ook ’n belangrike veeteelt-industrie, wat sybokhaar vir uitvoer produseer.

Die leuse vertaal as “Haas stadig” of “Wees versigtig om vooruit te gaan.”

Oor die dorp:
’n Dorpie is 1818 op die plaas Hooivlakte, eiendom van kommandant Abraham de Klerk, aan die voet van die Nuweveldberge, gestig, en vernoem ter ere van die 5de hertog van Beaufort, vader van die destydse goewerneur, lord Charles Somerset.

Om verwarring met Port Beaufort (aan die Breëriviermonding; toe pas gestig en veronderstel om ’n belangrike hawe te word, maar tans slegs ’n vakansie-oord) en Fort Beaufort (aan die oosgrens) te vermy, is die naam na Beaufort-Wes verander, maar die dorp word steeds deur sy inwoners Beaufort genoem.

Die drie Beauforts is slegs een voorbeeld van die Suid-Afrikaanse dorpe wat te ere van lord Charles se familie vernoem is. Na homself het hy Somerset-Wes en Somerset-Oos vernoem (Somerset-Oos was eers ’n plaas in die goewerneur se private besit, wat slegs Somerset genoem is); en na sy broer (wat die hoflikheidstitel markies van Worcester gedra het) is die dorp Worcester vernoem.

Die distrik Beaufort-Wes, uit die distrikte Graaff-Reinet en Tulbagh gevorm, is 27 November 1818 deur lord Charles geproklameer. Die grense daarvan is deur uitbreidings van die kolonie se grense noordwaarts uitgebrei, eers in 1824 (tot by die Sakrivier) en in 1847 (tot aan die Pramberg). ’n Afdelingsraad is in 1856 in die lewe geroep.

Beaufort-West het die onderskeiding gehad dat dit 3 Februarie 1837 die eerste munisipaliteit in Suid-Afrika geword het, in terme van die ordonnansie van September 1836.

’n Plaaslike bank is in 1854 gestig, en het tot in 1864 voortgeleef, toe dit met die Standard Bank of South Africa geamalgameer is.

’n Openbare biblioteek is in 1861 gestig en het na berig word in 1970 20 000 boeke gehad.

Die telegraaflyn het in 1875 die dorp bereik, en die spoorweg – die hooflyn vanaf Kaapstad, op daardie stadium op Kimberley gemik – in 1880. Die trajek is in 1961 tot op Beaufort-Wes geëlektrifiseer, maar die spoorwegwerf aldaar het steeds ’n sentrum gebly vir stoomlokomotiewe wat tot in die laat 1970s so ver as Kimberley geloop het (aangesien die roete daarvanaf Witwatersrand toe ook geëlektrifiseer is).

Stoomlokomotiewe kan steeds op die trajek gesien word – dit is in sy bloeityd as die Stoom Snelbaan genoem – maar hoofsaaklik besig met spesiale treine vir liefhebbers van stoom-traksie. Die meeste treine wat vanaf Beaufort-Wes noordwaarts loop word tans deur diesellokomotiewe getrek.

Die dorp het ’n lughawe wat tot in die 1960s redelik belangrik was, aangesien dit gedien het vir die aanvul van brandstof in propellor-aangedrewe vliegtuie. Die aankoms van straalvliegtuie het hierdie halfweg-halt onnodig gemaak, en die lughawe word tans hoofsaaklik deur ligte vliegtuie gebruik.

Beaufort-West is die enigste dorp in Suid-Afrika wat peerbome vir straatbome het – etlike daarvan is in die 1830s aangeplant. Jakarandas staan ook langs sommige strate.

Die ou stadsaal is in 1965 tot geskiedkundige monument geproklameer.

Nà die plaaslike regerings-verkiesing van 2000 is Beaufort-Wes (tesame met die plattelandse gebied wat voorheen deur die Afdelingsraad Beaufort-Wes geadministreer is) as die Plaaslike Munisipaliteit Beaufort-Wes gekonstitueer, deel van die Distriksmunisipaliteit Sentrale Karoo.



[1] Robert Jacob Gordon (*20-09-1743 †25-10-1795), kommandant van die Kaapse garnisoen, was ’n afstammeling van ’n Skotse familie wat voor sy geboorte reeds honderd jaar in Nederland gevestig is. Hy het nietemin in die (andersins uitsluitlik Skots-gebore) Skotse Brigade van die Nederlandse Leër gedien. Hy het die Oranjerivier (wat deur die Khoikhoi-volk Gariep genoem is) na Willem V vernoem. Nà die Britse beset van die Kaap in 1795 het hy selfmoord gepleeg.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Geskiedkundige aantekeninge uit die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika.

  • Illustrasie met vergunning van International Civic Arms.

    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle