Die Skotse klan en
die helmteken
deur Mike Oettle
DIE gebruik van Skotse klan-helmtekens is huidiglik miskien die algemeenste gebruik van familiehelmtekens ter wêreld – maar tegelykertyd bevat dit blykbaar die grootste misbruik van enige soort heraldiese simbool.
Dit wil nie sê dat die helmtekens van die Skotse klanhoofde nie ’n wyere geldigheid het nie – dit word met reg deur klanlede gebruik om hul troue aan die hoof van hul huis aan te toon. (Mense praat gewoonlik van Skotse familiehoofde as klanhoofde, maar streng gesproke is die klan ’n familie-eenheid wat met die Hooglande en die [Hebrideër-]eilande verband hou. Die Lord Lyon verwys na familiehoofde uit die Skotse Laelande as synde hoof van ’n Naam.)
Tog is daar ’n misverstand onder geweldig baie Skotte, en veral die afstammelinge van Skotte in ander wêrelddele, aangaande hulle regte in hierdie verband. Onthou ook dat daar ook heelwat Afrikaners is wat Skotse vanne het, en die reg het om aan hulle familiehoofde in Skotland trou te betoon.
En nie almal is in Skotland nie. Die hoof van Klan Murray, die hertog van Atholl, is ’n Suid-Afrikaner, en so ook die hoof van Klan Laing. (Die helmteken vir Murray wat hier verskyn is een van drie wat die klan gebruik. Kyk verder af op hierdie bladsy vir nog ’n illustrasie, asook die ander twee wat ook gebruik word.)
Daar bestaan ’n wydverspreide opvatting dat die klan-helmteken wat in jou huis vertoon word, jou persoonlike eiendom is. Niks is verder van die waarheid
af nie.
Skotland beskik oor ’n florerende industrie, deel van sy toeristekompleks, wat hout-muurplate wat helmtekens dra.
Hierdie muurplate kom in verskeie vorms voor – sirkelvormig, ovaal, reghoekig, vierkantig – maar waarskynlik die algemeenste (en mees onpaslik) neem die vorm van ’n skild aan. Aangesien die voorwerp wat getoon word, nie ’n skild is nie, en nog minder ’n volle heraldiese wapen nie, is die skild nie die gepaste agtergrond daarvoor nie.
Die gebruik spruit waarskynlik uit die wydverspreide aanvaarding (wat op sy beurt ontstaan uit die 19de-eeuse sukses van Fairbairn’s Crests) dat ’n
familie ’n helmteken kan besit maar nie tegelykertyd ’n heraldiese wapen nie.[1]
Muurplate van hierdie soort word nie slegs in Skotland verkoop nie, maar oop op verskeie uitlaatpunte in Engeland (veral tartan-winkels) en in ander
dele van die Engelssprekende wêreld.
In Engeland, die Gemenebes en die Verenigde State word dit dikwels in sogenaamde “bucket shops” verkoop – besighede wat voorgee dat hulle enige en alle kliënte kan voorsien van “hulle” familiewapen. In hierdie instansie is dit “hulle” helmteken waarin soortgelyk handel gedryf word.
Dit is nie slegs in Skotland dat die helmteken van ’n wapenvoerder gevind kan word as die simbool van ’n wyere entiteit nie. Verskeie Engelse en Ierse
here het tradisioneel hul helmteken gebruik as ’n kenteken wat deur hulle onderhoriges gedra is, en helmtekens verskyn as die wapens van skole en sportverenigings.
Maar dit was veral in Skotland dat die gebruik van die helmteken in hierdie opsig algemeen geword het, veral in die Middeleeuse gebruik waar die onderhoriges van ’n spesifieke heer ’n metaalplaat op die bors sou dra waarop die heer se helmteken verskyn. Die plaat het van die skouers gehang deur middel van ’n leerband en metaalgespe.
Uit hierdie gebruik het die kenmerkende hooftooisel- of muswapen,[2] wat in metaal geslaan of gegiet is, wat die helmteken aantoon omring deur ’n
simboliese “leerband” en gespe, gewoonlik met die klanhoof se leuse (of, indien daar meer as een leuse is, gewoonlik die strydkreet)[3] op die band ingeskryf.
Enige Skot, of persoon van Skotse herkoms, mag ’n hooftooiselwapen dra wat die helmteken van die klanhoof dra, die helmteken van die klansepte waaraan daardie persoon behoort, of sy eie persoonlike helmteken.
Wanneer ’n man sy eie helmteken dra, word dit nie binne ’n band en gespe gedra nie. Die voorbeeld hier langsaan is van die hooftooiselwapen van die hoof van Klan Mackay, wat sy helmteken binne ’n metaalsirkel dra, met ’n baron se
kroon bo-aan.
Agter die helmtekenwapen dra die klanhoof drie arendsvere. ’n Onderhoof (chieftain) sal twee arendsvere in sy mus dra.
’n Gewone klan-lid mag nie arendsvere dra nie, maar indien sy helmtekenwapen sy persoonlike helmteken aantoon, sal hy dit ook sonder band en
gespe toon. Die muswapen van die man wat hier regs getoon word, is onduidelik, maar dit lyk of hy agter die wapen ’n veerkwas dra, eerder as ’n arendsveer.
Die muswapens van Skotse regimente (dit wil sê, dié wat die kilt of tartan-broek dra), nie slegs in Skotland nie maar ook in ander dele van die
Engelssprekende wêreld, is nie noodwendig van helmtekens afgelei nie, maar in sommige gevalle is dit wel so.
Die regiment First City, van Grahamstad, het tydens die 19de en vroeë 20ste eeue by verskeie tye ’n Highland-kompanie gehad wat tradisioneel die tartan Graham van Montrose gedra het, ter ere van die stad se stigter, kolonel John
Graham van Fintry. Die muswapen het die feniks-helmteken van Fintry aangetoon.
In 1938 het die regiment (nadat dit sedert Unie in 1910 glad nie die kilt gedra het nie) egter geheel en al na die kilt oorgegaan, en in 1943 het dit die markies van Graham (erfopvolger tot die hertog van Montrose, hoof van die Klan Graham) uitgenooi om sy erekolonel te wees.[4]
Lord Graham, wat in Suid-Rhodesië (tans Zimbabwe) geboer het, was met Grahamstad geassosieer, aangesien sy jongere seuns op St Andrew’s College hulle opvoeding ontvang het.
Graham het die uitnodiging aanvaar mits sy helmteken vir die muswapen gebruik word, en het in die nouste besonderhede die gepaste Highland-klerasie vir die regiment bespreek. Hy het daarop aangedring dat die bestaande
kraagwapen behou word, wat wel die geval was – in die 1970s is dit selfs in die regiment se heraldiese wapen ingelyf. Graham se aanstelling is eers in 1946 amptelik goedgekeur.
Aanvanklik het die wapen soos dit gebruik is, ’n band en gespe ingesluit, maar aangesien dit te kenne gegee het dat die manne van die regiment Graham-klanlede was, is dit later verander: die helmteken is toe met takke
omring.[5] Hierdie wapen word getoon op die hooftooisel van die offisier wat hier regs aangetoon word. Op sy kraag is die regimentswapen van ’n luiperd op ’n boomstomp, wat onveranderd gelaat is.
Hier links verskyn ’n offisier met ’n glengarry-mus, met die wapen van die Cape Town Highlanders – hierdie wapen is in die Skotse militêre tradisie.
Die helmteken is ook nie die enigste wapen wat deur vele Skotse wapenvoerders gebruik word nie. Daardie land se groot here het dikwels ander kentekens gehad wat ook deur hul onderhoriges in die een of ander rol gedra is.
Moncreiffe en Pottinger[6] illustreer (op ’n bladsy wat oor die kentekens van Drummond, graaf van Perth
handel) Drummond se plantwapen (’n blaar van die huls of steekpalm), die hoefangel (’n vierpuntige dubbeltjie-agtige devies wat op die slagveld gestrooi is as dodelike afweermiddel teen kavallerie-aanvalle), en die
speurhond, nog ’n wapen wat deur die Drummonds van Perth gevoer word. Hierdie simbole word op hierdie bladsy vertoon.
’n Helmteken-muurplaat vir die Klan Drummond sal tipies die helmteken insluit (’n sperwer of patrysvalk in sy natuurlike kleure, die vlerke versprei en met rooi pootbandjies, wat uit ’n helmtekenkroon uitkomend is), en daarom die band en gespe, waarop die strydkreet Gang Warily.
Dit kan op ongeverfde gesnyde hout[7] voorkom, of as geverfde houtsneewerk, of anders op ’n vlak agtergrond geverf.
Die helmtekenwapen (soos die samevoeging van helmteken, band en gespe genoem word) sal dikwels teen ’n agtergrond van die klan-tartan voorkom.
Soms sal dit selfs vergesel word van die ander wapens, wat met die klan geassosieer word, of selfs (in ’n swierige stuk vertoon) deur die klanhoof se heraldiese standaard of ruiteryvlag.
Die term standaard word dikwels misverstaan, hoofsaaklik weens die Britse Koninklike Vloot se misbruik van die term om die koninklike banier (die sogenaamde
Royal Standard) te beskryf in sy onheraldiese vlootproporsies van 1:2.
’n Heraldiese standaard is ’n spitsvlag, ’n vlagtipe wat in die Middeleeue as hoofkwartiervlag gebruik is van ’n spesifieke heer se kontingent in die koninklike leër.
In Brittanje het dit altyd aan hyskant die koninklike kruiswapen ingesluit – in Skotland die wit skuikskruis op blou (die Sint Andrieskruis) van die Koning van Skotte, en in Engeland die rooi kruis op wit (Sint Joriskruis) van die Koning van Engeland.
Heraldiese standaards is in onlangse eeue min gebruik, maar in die 20ste eeu is hierdie vlagtipe weer in gebruik gebring, maar met ’n aansienlike verskil: in plaas van
die koninklike kruis, word die deel naaste aan die hys- of spieskant tans gevul met die (heraldiese) wapen van die eienaar.
Die vlag is, soos genoem is, gespits, maar is meer van ’n trapesium as ’n wimpel, en die wapperkant is gewoonlik afgerond – òf ’n enkele afronding, òf twee afrondings.
Die hoofdeel van ’n standaard bestaan uit die eienaar se livreikleure in horisontale strepe (die livreikleure kan die hoofkleure van die skild wees, of kan dit heeltemal ander kleure wees wat spesifiek gekies is) – gewoonlik is
daar twee kleure, maar soms is dit drie.
Die livreistrepe word versier met die eienaar se kenteken of kentekens, die helmteken ingesluit, asook die bewoording van die leuse (leuses).
Die standaard dra ook fraiings, òf van geel (goud) of in afwisselende stroke van die livreikleure.
Op hierdie bladsy verskyn die standaards van Drummond, graaf van Perth, en lady Saltoun, Hoof van die Klan Fraser.
Indien ’n standaard in ’n helmtekenwapen-samevoeging verskyn, behoort dit boekdele te spreek van die eienaarskap daarvan deur die klan-hoof of onderhoof wie se
wapen, helmteken en kentekens tentoongestel word . . . maar selfs in sulke gevalle het dit al voorgekom dat klanlede tog hierop aanspraak lê as persoonlike eiendom.
Die gewone argument is: “Ek het dit by ____ gekoop en hulle het my vertel dat dit myne is. Hulle het selfs vir my hierdie sertifikaat gegee wat so sê.”
Maar soos die bladsye van Armoria in ander omstandighede dit uitwys, is die uitreik van ’n sertifikaat deur ’n sogenaamde bucket shop geen waarborg van
enigiets nie.
Slegs ’n diploma, sertifikaat of ander wetlike dokument wat deur ’n heraldiese gesag uitgereik is – die Wapenkoning Lyon in Edinburg, die College of Arms in Londen,
die Hoofheraldikus van Ierland in Dublin, die Kanadese Heraldiese Gesag in Ottawa, of die Buro vir Heraldiek in Pretoria[8] – kan wel sertifiseer dat die persoon wat daarop genoem word, werklik die
eienaar is van enige heraldiese wapen.
Indien jy
’n muurplaat gekoop het wat ’n helmtekenwapen aantoon – met of sonder enige van
die ander kentekens en heraldiese simbole wat daarmee gepaard gaan – is dit wat
jy besit slegs daardie spesifieke eksemplaar (wat waarskynlik in massaproduksie
is) van die betrokke helmteken.
Eienaarskap
van die helmteken self berus by die eienaar van die heraldiese wapen waarby dit
hoort.
In die
geval van ’n klan met slegs een hoof, sal dit die wapen wees van die klanhoof
self.
Waar ’n klan meer as een hoof het – byvoorbeeld die Klan Donald, wat tans as opperhoof Macdonald van Sleat het, sowel as onderhorige hoofde wat die trou van menige klanlede geniet – is daar verskillende helmtekens.
Die opperhoof was, tot in 1498, Macdonald van die Eilande, maar die titel Lord of the Isles het sedertdien na die koningshuis oorgegaan en word dit deur
die troonopvolger gevoer.
Ander
takke met hul eie hoofde of onderhoofde is Macdonald van Clanranald, Macdonnell
van Glengarry en Macdonnell van Keppoch.
Nog ’n klan met meer as een hoof is dié van die naam Fraser. Die Hoof van die Klan Fraser is lady Saltoun (haar wapen verskyn bo in hierdie bladsy), en haar volgelinge dra ’n wapen van haar helmteken, wat ’n aarbeitakkie toon. Die aarbeie-helmteken verskyn hier links, en die muswapen wat daarvan afgelei is, regs. Let daarop dat alhoewel Lady Saltoun ’n tweede helmteken het, ’n volstruis wat ’n hoefyster byt, dit nie as muswapen gebruik word nie.
Dié wat volgelinge is van Lord Lovat, Hoof van die Klan Fraser van Lovat (die Hooglandse tak), dra sy helmteken, ’n afgerukte wildsbokkop (ook bo in die bladsy geïllustreer).
Hier is ’n verdere verskil tussen die heraldiese gebruike van Engeland en Skotland:
In Engeland probeer die heroute om sover moontlik te sorg dat elke indiwidu wat ’n wapenverlening ontvang, ’n anderse helmteken voer, al is dit die identiese helmteken met byvoeging van ’n enkele breuk, dikwels die breuke wat
jongere seuns aandui, byvoorbeeld die sekelmaan wat ’n tweede seun aandui. In die Victoriaanse tyd was die heroute daarvoor berug dat hulle golwende wapenfigure bygevoeg het om die helmtekens van onegte kinders uitkenbaar te maak.
In Skotland, egter, sal verskeie lede van ’n familie die identiese helmteken voer, en word ’n nuwe helmteken ingebring slegs wanneer ’n nuwe matrikulant dit nodig
ag om ’n geheel nuwe helmteken aan te neem.
Slegs die houer van ’n adeltitel mag sy eie helmteken vertoon saam met die kroon (coronet) wat by sy dellike rang pas. Ander voerders van dieselfde helmteken moet die kroon verwyder en in plaas daarvan ’n wrong gebruik (of ’n ander paslike basis vir die helmteken).
Vir die Klan Campbell word drie verskillende helmtekens aangegee:
Die klanhoof, Campbell, hertog van Argyll (wat die Gaëliese benoeming MacCailean
Mor het) voer: ’n Beerkop, dwars geplaas en afgesny, van goud (die beer is ’n manlike wildevark).
Naby aan hom verwant is Campbell van Breadalbane (graaf van Breadalbane) wie ook ’n beerkop as helmteken voer, maar dit is in sy natuurlike kleure en afgeruk (rof van die res van die karkas afgeskeur, met ’n getande skeidslyn wat effens bo die wrong sigbaar behoort te wees).
Heeltemal anders is die helmteken van Campbell van Cawdor (Bain gee Calder as alternatiewe spelwyse aan): ’n Swaan in sy natuurlike kleur, goud gekroon
(die illustrasie sluit nie die kroon in nie).
In die Donker Tyd het ’n groepering klans bymekaargekom as die konfederatiewe Klan Chattan. Nà ’n leierskapstwis het die hoofde van beide Klan Mackintosh en Klan
MacPherson die leierskap aanvaar en voer hulle dieselfde leuse: Touch not the cat bot a glove (Moenie die kat sonder ’n handskoen aanraak nie).
Die helmtekens is egter effens anders: Robert Bain se The Clans and Tartans of Scotland[9] gee die helmteken van die klanhoof Mackintosh aan as: ’n Springende en aansiende kat in sy natuurlike kleure, en dié van die hoof van MacPherson as: ’n Sittende kat in sy natuurlike kleure.[10]
Bain noem dit ook dat sedert 1938 die aanspraak op die hoofdskap van Klan Chattan van die klanhoofdskap van Mackintosh geskei is, alhoewel die titel steeds behoud word
deur ’n lid van daardie klan.
Vir Klan Stewart illustreer Bain die helmteken van die graaf van Galloway met
die sogenaamde Royal Tartan (wat ook tussen hakies die “Royal Stewart” genoem word), maar toon ook die helmteken van Stewart van Appin met die tartan van daardie naam.
In sommige instansies is die helmteken wat aangetoon word, dié van ’n onderhoof
(chieftain), omdat die hoofdskap òf agterweë is òf betwis word.
En in ander gevalle verskyn daar slegs ’n skild van die Sint Andrieskruis, want die betrokke familie nog nie ’n wapen gematrikuleer het nie. Een sulke familie is MacColl, ’n vertakking van Klan Donald, en is daar ook die MacAlpines, ’n wydverspreide klan sonder klanhoof, wat afgestam is van koning Alpin († 834
nC).
Bain gee ’n tartan aan vir die familie wat die van Duncan aanvoer, en gee die helmteken van die graaf van Camperdown[11] as klanwapen aan. Die familie (wat etlike vertakkings het) word as deel van Klan Robertson (Clann Donnachaidh) gereken, maar ’n groep Duncans in Skotland probeer tans om die Wapenkoning Lyon se erkenning as onafhanklike klan
te verkry.
Klanwapens:
die teorie
As herhaling van die algemene beginsels hierbo genoem, gee ek hier die finale afdeling van Margaret O MacDougall se hoofstuk oor “Die kleredrag van die Skotse Hooglander” (“The dress of the Highlander”) in haar hersiene uitgawe van Bain se boek:[12]
“Die dra van helmtekenwapens as simbool van stamverwantskap met die een of ander Hooglandse Klan of Skotse familie is ’n oorlewing van ’n antieke en interessante gebruik wat in die heraldiese reg erken word.
“In die verre verlede het verskeie klanhoofde hul onderhoriges ’n metaalplaat van hul helmteken gegee om as kenteken te dra. Hierdie helmtekenwapen is aan die klan-lid se kleding of uitrusting met ’n leerband en gespe en, wanneer dit nie in gebruik was nie, is die band en gespe om die helmtekenwapen omgekrul. Hierdie gebruik word steeds deur sekere klanhoofde gehou, en is dit wettig
geoorloof.
“Die moderne konvensionele voorstelling van die ou plaatmetaal helmtekenwapen neem die vorm aan van ’n voorstelling in metaal van die klanhoof se helmteken wat
met ’n metaalband en gespe omring word en wat die klanhoof se leuse op die band gesny of gegraveer is. Dit is die enigste manier waarop die klan-lid sy klanhoof se helmteken mag vertoon en die gebruik daarvan, in die korrekte en aanvaarde manier, dui daarop dat die draer daarvan ’n bloedverwant of volgeling
is van die klanhoof wie se helmteken aldus vertoon word. Slegs die klanhoof en sy opvolger dra die helmteken sonder band en gespe.
“’n Heraldiese wapen, en die helmteken wat deel vorm daarvan, is die persoonlike eiendom van die indiwidu in wie se naam dit in die Openlike Registers van Alle Wapens en Wapenbeelde in Skotland aangeteken is. Dit mag nie, gedeeltelik of in sy geheel, deur enige ander persoon gebruik word nie, en die wangebruik van ’n ander persoon se wapen is ’n oortreding wat blootgestel is aan regsaksie en bestraffing in die Hof van die Wapenkoning Lyon.
“Die Klanhoof se wapen en die banier wat daarvan afgelei word dui op die gesag, identiteit en/of teenwoordigheid net soos dit die geval is vir die koninklike wapen ten opsigte van die soewerein.
“As simbole van Klan- of familieverwantskap, is helmtekenwapens ’n aanhoudende herinnering aan ’n ou gebruik en ’n middel waardeur ons die trots van ons erfenis kan toon. Indien ons hierdie goed waardevol hou, moet ons dit nie misbruik nie, want die gebruik daarvan in terme van die Skotse heraldiese reg gee eenheid en doeltreffendheid aan die klan.”
Hierdie beginsels word ook in besonderhede uitgespel in ’n dokument wat deur die Lyon-hof uitgereik is, en wat op die internet hier gevind sal word.
[1] Die idee dat ’n familie ’n helmteken kan
hê maar nie ’n skild nie ontstaan nie uit die teks van Fairbairn’s Crests
nie, maar uit die algemene gebruik van die boek waar mense bloot ’n spesifieke
helmteken nageslaan het, en dit dan met elke lid van genoemde familie
geassosieer het.
[2] Die Engelse woord bonnet word
tradisioneel gebruik om ’n verskeidenheid hoofdeksels te beskryf wat deur
Skotse mans gedra word, en dikwels ook deur vroue.
Mustipes wat algemeen gebruik word sluit
die kenmerkende tam o’shanter in (die naam is ontleen aan die mus wat
gedra is deur die hoofkarakter in Robert Burns se gedig Tam O’Shanter),
sowel as die Balmoral-mus en die Glengarry-mus (waarvan die
algemeen gebruikte kwartiermus of veldmus blykbaar afgelei is).
Die Kilmarnock-mus (’n soort
pildooshoedjie) en die veremus het ’n mate van militêre gebruik gehad, maar
word nie as siviele kopdrag beskou nie.
Die siviele muswapen kan etlike vorms
aanneem, maar die algemeense is die metaalwapen van helmteken, band en gespe,
asook die leuse.
Dit word gewoonlik gedra met ’n stuk van
die klan-tartan agter.
Ander wapens wat gebruik word mag uit hout
gesny word, of geëmaljeer. Die plantwapen word dikwels in die een of ander van
hierdie vorms aangetref.
[3] Die woord strydkreet, of in Engels slogan
(van die Gaëliese slughorn, strydkreet) word gebruik vir enige leuse wat
van ’n strydkreet afgelei is. ’n Skotse lord of laird sal dikwels twee
heraldiese leuses voer, een waarvan gewoonlik ’n strydkreet is.
Die strydkreet is dikwels in Gaëlies, maar
dit kan in enige taal wees, soos Engels (dikwels in ’n Skotse dialekvorm),
Latyn of Frans (in Brittanje, dikwels Normandies-Frans).
Die kommersiële gebruik van die woord
slogan is ’n vernedering van hierdie betekenis.
[4] Reginald Griffiths, in sy boek First City: A Saga of Service, haal ’n brief van lord Graham aan waarin hy die uitnodiging aanvaar om “colonel-in-chief” (hoofkolonel) te word. Hierdie aanstelling word egter vir lede van die koningshuis gereserveer en is in werklikheid in die jare tussen die wêreldoorloë deur die hertog van Kent behou.
In 1954 het James Angus Graham (bekend as Angus) die titel hertog van Montrose geërf, maar het in Rhodesië steeds as lord Graham bekend gestaan. Hy het in die Kabinet van Ian Smith gedien.
Die titel markies van Graham word as hoflikheidstitel deur die erfopvolger tot die hertogdom gevoer.
[5] Aangesien die plantwapen van die Klan
Graham lourier is, sou dit verwag word dat die krans van lourier sou wees, maar
die voorkoms is heeltemal anders.
[6] In Simple Heraldry, Cheerfully
Illustrated, deur Iain Moncreiffe van Easter Moncreiffe, Kintyre-Persevant,
en die Heroutskilder Don Pottinger (Edinburgh: Thomas Nelson and Sons Ltd,
1953).
Moncreiffe het later sir Iain Moncreiffe
van Moncreiffe, baronet, geword, hoof van die klan Moncreiffe, en Albany-Herout.
[7] Ongeverfde houtsneewerk is nie juis
heraldies nie, aangesien die element van kleur daarin ontbreek, maar verskeie
mense verkies dit so.
[8] Ander heraldiese gesagte sal ook in
Swede, Spanje en Nederland aangetref word, en ander heraldiese argiewe elders
in Europa, maar hulle sal gewoonlik weinig met Skotse embleme te doen hê.
[9] Oorspronklik in 1938 deur William Collins
Sons & Co Ltd uitgegee. Hierdie uitgawe is in 1968 hersien en in 1971
herdruk.
Dit word aan Margaret O MacDougall
gekrediteer as die persoon wat dit “enlarged and re-edited”, en aan P E
Stewart-Blackie as heraldiese raadgewer.
[10] In albei gevalle is die betrokke kat die Skotse wilde kat, nie die gewone huiskat (Felis domesticus of Felis catus) nie.
[11] Die graafskap (oorspronklik ’n
burggraafskap) van Camperdown is ’n herinnering aan die seeslag van Kamperduin
(1797), wat langs die Nederlandse kus afgespeel het.
[12] Die teks tussen aanhalingstekens, nie
slegs in hierdie aanhaling nie maar dwarsdeur hierdie artikel, is my vertaling
van die oorspronklike Engels.
For English, click here
Bronne:
Robert Bain se Clans and Tartans of Scotland; Simple Heraldry, deur Moncreiffe en Pottinger; en die webwerf FraserChief, onderhou deur lady Saltoun, Hoof van die Clan Fraser.
Beelde van die wapen, standaard, helmteken en muswapen van lady Saltoun uit FraserChief; beeld van man wat ’n tam-o’-shanter dra uit die American Heritage Dictionary of the English Language; portrette van offisiere uit First City: A Saga of Service, deur Reginald Griffiths; standaard van Drummond uit Simple Heraldry; ander illustrasies uit Robert Bain se Clans and Tartans of Scotland. Die beeld van Sint Andries se kruis is uit die Bain-boek, maar die skild is met behulp van MS Picture It! ingekleur en na ’n meer paslike proporsie verleng.
Die offisier wat met ’n balmoral-mus uitgebeeld word is kommandant A J Westaway, JCD, bevelvoerende offisier van First City 1963-65; die offisier in die glengarry-mus is luitenant-kolonel Sholto Douglas, MC, ED, bevelvoerende offisier van die gekombineerde bataljon bekend as First City/Cape Town Highlanders in Italië vanaf April tot Oktober 1945. Die identiteit van die man met ’n tam-o’shanter-mus aan is onbekend.
Terug na indeks van familiewapens
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle