Armoria familia
http://uk.oocities.com/barensteel

Aan die familie vasgeënt

deur Mike Oettle

Swede

AANNAME is blykbaar ’n onderwerp van mindere belang vir skrywers oor die heraldiek as onegtheid. Daar is blykbaar twee redes hiervoor:

Eerstens word aanname – om wettig ’n kind jou eie te maak, onafgehang van sy oorsprong – dikwels vergesel deur die uitwis van die kind se verlede, òf volgens wetgewing of in wat die kind oor sy natuurlike ouers vertel word, wat ’n skoon lei oorlaat.

Natuurlik is baie aangenome kinders aan ouers gebore wat wettig getroud is. Maar ewenwel is aanname dikwels ’n metode om die (dikwels verbouererende) gevolge van onegtheid uit die weg te ruim.

Tweedens het ’n aangenome kind ’n keuse daartussen om die wapen te voer van sy (haar) aangenome vader, of om terug te gaan na die wapen van die natuurlike vader (op watter manier dit ookal moontlik is).

Dit beteken dat baie aangenome seuns die wapen gevoer het van die familie waarin hul gebore is, en dat die aannemende familie se wapen ongeaffekteer is.

Maar om watter rede ookal, het die standaardwerke oor die heraldiek min voorbeelde van wapens van aanname, en die meeste gee geen werklike instansies daarvan nie.
gevlegde ringe - die illustrasie (met spelfout by) in Boutell

Boutell[1] noem nie eens Engeland spesifiek nie, maar verwys na ’n koninklike vrybrief (wat in Engeland, en slegs daar, benodig word vir die vergunning om ’n naam aan te neem, en die wapen wat daaraan behoort daarby) en sê (volgens my vertaling): “Wanneer so ’n vrybrief toegstaan is, en dit word gewoonlik wel toegestaan, verkry die wapen twee gevlegde ringe as uitkenningsmerk.”

Die boek se woordelys en indeks sluit ’n skets in van ’n skild belaai met gevlegte ringe alleen (slegs ’n voorbeeld van die wapenfiguur, glad nie ’n wapen nie) en het niks meer oor die saak te sê nie.

Franklyn en Tanner[2] se inskrywing vir aanname verwys bloot na “bastardy, indication of:”, by welke inskrywing die voorlaaste paragraaf so lees:

“’n Aangenome kind is in presies dieselfde posisie, wapenkundig gesproke, as ’n onegte. Indien hy sy pleegvader se wapen wil voortsit, moet hy ’n verlening verkry van die pronominale kwartier ‘met ’n paslike breuk’. Die heersende merk is ’n eenvoudige vryhoek op die skild, en op die helmteken ’n herkruiste kruis.”

Brooke-Little skryf in ’n voetnoot op Fox-Davies:[3]

“Dit is tans heel gebruiklik vir ’n aangenome kind om ’n koninklike vrybrief verleen te word sodat hy die wapen van sy pleegvader te voer, gebreek met die byvoeging van twee kettingskakels. In Skotland word ’n geledigde vryhoek op die wapen van die pleegvader gebruik.”

wapen van Robert Nevill, biskop van Durham, met gevlegde ringe in die middel van Nevill se skuinskruis

In Moncreiffe en Pottinger se Simple Heraldry[4] word aanname nie eers by name genoem nie, maar ’n enkele voorbeeld is geïllustreer in die wapen van Robert Nevill, biskop van Durham, wat gevlegte ringe aan die middelpunt van die skuinskruis van Nevill gevoer het. (Om meer oor hierdie wapen te leer, kyk hier.)

In die geheel het mens dan vier verskillende merke: inmekaar gevlegde ringe, twee kettingskakels (anders as ringe want hulle is vierkantig met geronde hoeke), ’n eenvoudige vryhoek (een met kleur maar geen wapenfigur), en ’n geledigde vryhoek (een met ’n buitelyn maar geen inhoud, selfs nie sy eie kleur nie; die skildinhoud kan daarbinne gesien word) – maar geen voorbeeld spesifiek in die teks genoem nie, en slegs een geïllustreer.

Die kettingskakels is ’n vreemde simbool nie weens enige moontlike onpaslikheid nie – gevlegde ringe en kettingskakels is altwee simbolies van die samevoeging van families – maar omdat hulle ’n konflik toon met breukmerke wat in ’n dokument by die College of Arms aangeteken is vir ’n 10de, 11de en ’n 12de seun in ’n familie.

Van die bronne wat ek geraadpleeg het, noem slegs Brooke-Little dit (in ’n voetnoot op Fox-Davies, dus weerspreek Richmond-Herout amper vir homself). Hy noem dit dat “’n boek van kerk-aantekeninge uit Lincolnshire” aan die College hierdie breuke vir die familie Tournay aangee:

’n Gespe vir die 10de, ’n mantelskulp vir die 11de en kettingskakels vir die 12de.

Ek het nêrens enige ander breuke vir seuns van hierdie orde genoem nie, maar dit is moontlik omdat hulle selde as wapenvoerders aangetref word.

Nietemin is dit interessant dat die wapen van aanname wat die mees dikwels gesien word, glad nie deur enige van hierdie gesaghebbendes genoem word nie.

Ek verwys na die wapen wat deur die Huis Bernadotte, konings van Swede sedert 1818, gevoer word.
wapen van die Huis Folkunga wapen van die Unie van Kalmar, tans gebruik as die ‘‘klein wapen’’ van Swede

Koning Carl XIII van die Huis Holstein-Gottorp het in 1809 die Sweedse troon bestyg nà die uitsterf van die manlike linie van sy broer Gustav III. Carl se eie huwelik was kinderloos.

Hy het eerstens Denemarke se prins Christian (wie veraf aan hom verwant was) as sy erfgenaam, aangeneem, maar Christian is in 1810 oorlede.

Carl het toe verkies om ’n Gaskonjer-soldaat, Jean-Baptiste[5] Bernadotte, een van Napoleon I se maarskalke en deur Napoleon tot prins van Ponte Corvo verhef, as sy seun aan te neem. Bernadotte het die naam van sy aannemende vader, Carl, aangeneem.

Bernadotte, nou as Carl bekend, het in 1814 die Slag van Waterloo verbygemarsjeer in instede daarvan Kopenhagen aangeval en daardeur die Deense koning gedwing om aan Swede Noorwee af te staan.
wapen van die Huis Vasa, met ’n woordspelende vaas wapen van Bernadotte, prins van Ponte Corvo

Sedert 1448 het die konings van Swede die drie goue krone op blou van die Unie van Kalmar[6] met die wapen van die Huis Folkunga (in blou, drie silwer linker-skuinsbalke, ’n klimmende en gekroonde leeu van goud), konings van Swede vanaf 1275 tot 1359, geskei deur die arms van ’n goue kruis. Bo en behalwe hierdie kwarterings het die Sweedse konings ook sedert daardie tyd ’n binneskild gevoer wat hulle dinastiese herkoms aandui.

Die Holstein-Gottorps, konings vanaf 1751, het die kwarterings van die hertoë van Oldenburg (met inbegrip van ’n hartskild van Oldenburg en Delmenhorst) in hierdie posisie gevoer. Interessant genoeg het die eerste kwartier van die binneskild in hierdie kombinasie die bylvoerende gekroonde leeu van Noorwee (goud op rooi) aangetoon.
wapen van Norwee wapen van koning Gustav III, Kalmar en Folkunga gevierendeel met ’n binneskild van of Oldenburg

In 1814 het Carl XIII die aanwins van Noorwee aangetoon deur om die kwarterings van Kalmar en Folkunga uit die linkerhelfte van die skild te verwyder en dit met die Noorweegse leeu te vervang. (Dus het Noorwee se leeu nou tweemaal in die gehele wapen verskyn.)

Toe hy in 1818 as Carl XIV koning geword het, het Bernadotte die wapen van Swede herrangskik. Hy het die kruis met ’n gaffel vervang en die drie krone van Kalmar in die skildhoof geplaas.

Die treffende verandering egter was nie soseer in die herrangskikking van die gebiedswapens nie, maar in die binneskild: hy het na die wapen van die Huis Vasa (konings vanaf 1523 tot 1599) teruggekeer en dit met sy eie Bernadotte-wapen gedeel.
wapen van koning Carl XIII nà 1814, met die leeu van Noorwee in die linkerhelfte wapen van koning Carl XIV, met Kalmar in die skildhoof, Noorwee in die regterderde en Folkunga in in die linkerkant, met ’n binneskild van Vasa met Bernadotte gedeel

Carl XIV se kleinseun Carl XV, toe hy in 1859 koning geword het, het teruggegaan na die patroon van Noorwee in die linkerhelfte en die twee Sweedse kwarterings aan regterhelf, maar het die binneskild van Vasa gedeel met Bernadotte behou.

In 1905, om oorlog af te weer, is Noorwee toegelaat om in eie reg ’n koninkryk te word. Prins Carl van Denemarke het toe koning Haakon VII van Norwee geword, en koning Oscar II van Swede (broer van Carl XV) het na die vroeëre wapen van Kalmar met Folkunga geviereendeel teruggegaan – maar het steeds die binneskild van Vasa met Bernadotte gedeel, behou.
wapen van koning Carl XV, met die leeu van Norwee weereens in die linkerhelfte, maar met ’n binneskild van Vasa en Bernadotte gedeel wapen van koning Carl XVI Gustav, steeds met Vasa en Bernadotte in die binneskild gedeel

Interessant genoeg was Oscar II se seun, koning Gustav V, met ’n afstammeling van Gustav III getroud.

Die huidige koning van Swede, Carl XVI Gustav (agterkleinseun van Gustav V), behou steeds die binneskild van Vasa met Bernadotte gedeel.



[1] Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, MVO, MA, FSA, FHS, Richmond-Herout (Frederick Warne & Co). Brooke-Little was later Norroy- en Ulster-Wapenkoning aan die College of Arms.

[2] An Encyclopædic Dictionary of Heraldry deur Julian Franklyn en John Tanner (Pergamon).

[3] A Complete Guide to Heraldry, deur A C Fox-Davies, hersien en met aantekenings deur J P Brooke-Little, Richmond-Herout (Nelson).

[4] Met die subtitel Cheerfully Illustrated, uitgegee deur Thomas Nelson and Sons Ltd.

[5] Bernadotte word dikwels foutief Charles genoem. Die Franse voornaam Charles word as SjaRl uitgespreek (met ’n bry-klank), anders as die Engelse Tsharlz; daarvandaan die Afrikaanse spelling Charl. Nog ’n Afrikaanse voornaamvorm wat van hierdie Franse naam afgelei is, is Sarel.

[6] Hierdie unie van die drie Skandinawiese koninkryke is in 1397 geproklamer en het slegs 126 jaar geduur.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: Tekening van saamgevlegde ringe uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little. Wapen van Robert Nevill uit Simple Heraldry: Cheerfully Illustrated deur Iain Moncreiffe en Don Pottinger (Thomas Nelson and Sons Ltd). Wapen van Bernadotte uit V & H Rolland se Illustrations to the Armorial Générale deur J B Rietstap (Heraldry Today). Wapens van Folkunga, Vasa, Gustav III, Carl XIII, Carl XIV en Carl XV uit Lines of Succession: Heraldry of the Royal Families of Europe, deur Jirí Louda en Michael Maclagan (Orbis). Huidige Sweedse koningswapens (Kalmar en Carl XVI Gustav) met vergunning van International Civic Arms. Kleure aangepas met behulp van MS Picture It!

    Terug na familiewapens-indeks

    Terug na Armoria familia-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle