Armoria academica
http://uk.oocities.com/wapenskild

PRIMÊRE SKOOL SUNRIDGE / SUNRIDGE PRIMARY SCHOOL, Sunridgepark, Port Elizabeth

Primêre Skool Sunridge

Die wapen is 27 Februarie 1995 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer, wapenbrief No 2738. Die blasoen lui:

Wapen: In silwer, ’n omgewende gestingelde strelitziablom van natuurlike kleur; in die skildvoet links vergesel van twee naas mekaar geplaaste ineengevlegte ringe van oranje en blou, die geheel binne-in ’n binnesoom, ook blou.

Wapenspreuk: Conjuncti crescimus.

Oor die wapen:
Die hoof-wapenfiguur is ’n strelitziablom van die spesie Strelitzia reginæ.[1]

Hierdie blom, inheems aan Oos-Kaap, is die tipiese spesie van ’n genus wat vernoem is ter ere van koningin Charlotte van Groot-Brittanje, gade van koning George III, wat ’n dogter was van groothertog Karl Ludwig van Mecklenburg-Strelitz.[2] Die generiese naam is afgelei van die hertog se hoofstad (Strelitz); die spesifieke naam verwys na Charlotte as koningin.

Strelitziaciæ is ’n familie blomplante in die orde Zingiberales (gemmer), wat in grootte wissel vanaf meerjarige kruie tot bome. Al vyf spesies Strelitzia is in Suid-Afrika inheems.

S reginæ, wat ook die kraanvoël- of paradysvoëlblom genoem word, groei uit risome (ondergrondse stamme) en groei tot ongeveer middellyf-hoogte. Dit kan op een plant etlike blomhoofde voortbring, en elke hoof produseer ’n getal blomme na mekaar. Hierdie spesie het piesangagtige blare van grysgroen tot groen.

’n Spesie wat aan die omgewing van Port Elizabeth uniek is, is S juncea, wat blomme het wat onafskeidbaar is van S reginæ, maar sy blare is opgerol in silindriese rietagtige stokke.

Alhoewel dit in die natuur tot Oos-Kaap en die kusgebiede van Zululand beperk is, is hierdie treffende spesie (S reginæ) in verafgeleë plekke as simbool aangeneem. Dit was die blom-embleem van die Provinsie Natal – alhoewel dit nie natuurlik in die Mzimkhulu-Thukela-streek wat die ou Colony of Natal was, voorkom nie – en dit vorm tans deel van die wapen van KwaZulu-Natal. Daarby word dit verder beskou as embleem van die stad Los Angeles, Kalifornië. Binne Oos-Kaap verskyn dit in die wapen van Uitenhage se Hoërskool Strelitzia; asook 6 SA Infanteriebataljon, Grahamstad.

Die blom wys na die linkerkant – links soos van agter die skild gesien. Wapenfigure wys gewoonlik na die regterkant, en enige afwyking van hierdie reël word spesifiek in die blasoen genoem.

In die heraldiek is ineengevlegte ringe dikwels die merk van ’n aangenome seun, en simboliseer die aaneenvoeging van twee families. In hierdie geval blyk dit die samewerking van die Afrikaans- en Engelssprekende gemeenskappe in een skool voor te stel.

Die binnesoom is ’n streep wat die buitelyn van die skild volg, maar dit staan weg van die skildrant. Dit is blou, ’n kleur wat in beide die blom en die linkerhandse ring ook voorkom.

Die kleur oranje (wat in beide die strelitzia en die regterhandse ring voorkom) is nie een van die gewone kleure van die heraldiek nie. Dit val in die kategorie van beitskleure, waarvan daar net drie is, en in die tradisionele heraldiek kom aldrie maar selde voor.

Die drie beitskleure is: moerbei, bloed en oranje (in Frans tenné).

Die tenné van die tradisionele heraldiek is meer die kleur van ligbruin leer, maar word in Nederlandse en Suid-Afrikaanse heraldiek as oranje geïnterpreteer, weens daardie kleur se simboliek vir die Huis van Oranje, en kom dikwels in Suid-Afrikaanse wapens voor.

Oranje, wit en blou is die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag wat tussen 1928 en 1994 in gebruik was, dus was die kleurkeuse heel waarskynlik patrioties. Dieselfde kleure (alhoewel in heeltemal ’n anderse kombinasie) kom ook voor in die wapen van die buurskool Laerskool Lorraine.

Die wapenspreuk of leuse, Conjuncti crescimus, vertaal as: “Saam groei ons.”

Oor die skool:
Die Primêre Skool Sunridge is ’n parallel-medium koëdukasie-laerskool (Grade 1 tot 7 of, volgens die ou Kaapse sisteem, Sub A tot St 5).

Die skool het Januarie 1967 die eerste maal oopgemaak, met 97 leerlinge. Dit dien hoofsaaklik die voorstede Sunridgepark, Framesby en Fernglen.

Die skool het sy eie webwerf hier.



[1] Om nog beelde van strelitziablomme te sien, kliek hier en hier.

[2] Hierdie eermalige groothertogdom, ’n dinastiese onderverdeling van die Hertogdom Mecklenburg (die ander deel was Mecklenburg-Schwerin), vorm tans deel van die Duitse staat Mecklenburg-Vorpommern. Tussen 1952 en 1990 was die naasliggende stede Strelitz en Neustrelitz deel van die Oos-Duitse Bezirk (distrik) Neubrandenburg. Vlae van Mecklenburg-Strelitz en Mecklenburg-Vorpommern sal op die webwerf Flags of the World gevind word.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: inligting en illustrasies deur die skool voorsien. Bykomstige inligting vanuit The South African What Flower Is That? deur Kristo Pienaar (Struik) en uit verskeie heraldiese bronne.


    Terug na skole-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle