Armoria familia
http://uk.oocities.com/skildsoom

Die Duncans en die Donkins

deur Mike Oettle

DIE wapen van die Duncan-familie van Skotland is in Suid-Afrika miskien die beste bekend deur die gebruik daarvan deur die stad Port Elizabeth, wat die wapen van sy stigter, sir Rufane Donkin, aangeneem het.

wapen van die Stad Port Elizabeth wapen van sir Rufane Donkin

Sir Rufane, wat in Ierland gebore is, was lid van ’n ou Northumberlandse familie (noordoos-Engeland) wat op sy beurt ’n tak was van die Duncan-familie van Skotland. So vroeg reeds soos die 12de eeu nC het takke van daardie familie hulle gevestig, nie net in Northumberland nie maar ook in Somerset (suidwes-Engeland).

Albei hierdie Engelse vertakkinge van die Skotse familie skryf hulle naam as Donkin, maar moet nie verwar word met ander Donkin-families (van Ierse herkoms) wat langs die suidwestelike en noordwestelike kuste van Engeland voorkom nie.

Die van het sy oorsprong in die Gaëliese naam Donnachadh. Die klan maak aanspraak op afstamming van Duncan I (1034-1040), koning van die Skotte vanaf 1034 totdat hy deur Macbeth (koning vanaf 1040 tot 1057) gedood is.

wapen van Robertson van Struan, hoof van die Klan Robertson

Die eerste erkende klanhoof van die Clann Dònnchaidh was Donnachadh Reamhar (hy word in Engels Stout Duncan genoem – dit wil sê stout in die betekenis van betroubaar of onverskrokke), van beide die Robertson-en Duncan-families van Skotland afgestam is. Donnachadh Reamhar het die klan in die slag van Bannockburn gelei. Die Clan Dònnchaidh kry egter sy Engelse naam van Robert Riach (Grys Robert), en staan bekend as Clan Robertson.

Terwyl ’n klan verskeie vanne mag insluit, is jou wapen ’n saak van jou naam, en die Robertsons en Duncans voer heel verskillende wapens. Die wapen van Robertson van Struan, hoof van Klan Robertson, is ’n rooi skild met drie afgerukte wolfkoppe in silwer.

In die afgelope jare het ’n groep Duncans die doel gesoek van erkenning van Lord Lyon, die koningin se hoof-heraldiese offisier in Skotland, as ’n aparte klan, en etlike van hulle het òf verlenings ò matrikulerings[1] van wapens by Lord Lyon verkry.

Daar is ook ’n webwerf vir Klan Duncan, wat ook ’n armoriaal van Duncans insluit – ’n versameling van wapens wat ’n mens dadelik kan laat sien dat sir Rufane deel is van hierdie familie.

Sir Rufane se wapen – asook dié van Port Elizabeth – het ’n rooi skildveld, ’n keper van silwer, twee vyfblare (formeel getekende blomme met vyf blomblare) van goud, ’n jaghoring (ook bekend as ’n beuelhoring), ook van goud, en drie swart gespes op die keper.

wapen van Duncan van Seaside wapen van Duncan van Parkhill wapen van Duncan van Jordanston wapen van Duncan van Ardownie wapen van die graaf van Camperdown wapen van Beveridge-Duncan wapen van Aitkin-Duncan

Hierdie deviese word ook gevind in die wapens van verskeie Duncans. Die rooi skildveld word gedeel deur (onder andere) Aitkin-Duncan, Beveridge-Duncan, die graaf van Camperdown (die senior verteenwoordiger van die familie), Duncan van Ardownie, Duncan van Jordanston, Duncan van Parkhill, Duncan van Seaside, Duncan van Mott, Duncan van Sketraw, George Duncan, John Duncan van Aberdein, McDougal-Duncan en Morison-Duncan.

wapen van Duncan van Mott wapen van Duncan van Sketraw wapen van George Duncan wapen van John Duncan van Aberdein wapen van McDougal-Duncan wapen van Morison-Duncan

Duidelik nie so naby afgestam nie is die Duncans wat ’n skildveld het van silwer – Duncane, Duncanson, Duncanson van Argyll en Robert Duncanson. Almal van hierdie here het ook ’n swart keper, eerder as die silwere van die rooiskild-Duncans.

wapen van Robert Duncanson wapen van Duncanson van Argyll arms of Duncanson wapen van Duncane

Die silwer keper van sir Rufane verskyn ook in die wapens van Duncan van Aberdein en McDougal-Duncan, terwyl Duncan van Ardownie en Duncan van Jordanston ook gespes (in blou) op hulle kepers het.

Duncan van Parkhill, Duncan van Seaside en Duncan van Mott het kepers in goud, terwyl Duncan van Sketraw ’n versmalde keper het. Die Parkhill-skild toon die keper met ’n ingeskulpte rand, terwyl Mott ook gespes op sy keper het.

Etlike van hierdie wapens bevat ook vyfblare, en die jaghoring kom ook in heelwat voor. Sommiges toon ’n eenvoudige beuelhoring (van die horing van ’n bees gemaak), gewoonlik in ’n kontrasterende kleur gebind, terwyl ander dit met toue om vertoon, die tou dekoratief met ’n ingewikkelde knoop. So ook die horing van sir Rufane, en dié van Port Elizabeth.

Die wapen van die graaf van Camperdown het, heel interessant, geen keper nie. (Let wel: Die rooi skildveld in hierdie edelman se wapen vul die 1ste en 4de kwartiere van ’n skild wat die die deviese ook insluit van ander families van wie die graaf afgestam is.) Dit sluit egter die vyfblare en die jaghoring in (hierdie is silwer, en die horing is blou getou).

Pleks van die keper, in die vorm van ’n eretoevoeging[2] is ’n vlootkroon,[3] waarvan die Large Naval Gold Medal hang en, in goue letters, die woord CAMPERDOWN.

Sir Rufane se skild het twee eretoevogings as erkenning van sy militêre diens. Eerstens is daar ’n skildhoof van goud wat sy diens in Indië herdenk, veral in die suksesvolle Britse veldtog teen die Mahrattas in 1817-18.

Op die skildhoof, wat gekanteel is, is ’n staande Indiese olifant (Elephas maximus); hy kyk na die regterkant[4] van die skild. Bo die olifant is die woord INDIA in swart.

Tweedens is daar ’n klein rooi skildhoek met ’n muurkroon[5] daarop, waarvan ’n medalje hang, die Peninsular Gold Cross, wat toegeken is vir sy deel in die inname van die Spaanse stad Talavera de la Reina (langs die pad Madrid toe) tydens die Skiereilandse Oorlog (1808-14). Onder die medalje is die woord TALAVERA in goud.

Hierdie twee toevoegings tot sir Rufane se wapen en dié op admiraal Duncan se wapen is tipiese voorbeelde van die swak heraldiek van die 19de eeu. Die gebruik van letters in ’n wapen word sterk afgekeur.

Sir Rufane het twee leuses of wapenspreuke gehad. Op ’n lint onder die skild was die woorde Tu Meli­ora Spera, en op ’n lint bo die helmteken, Bona Spes. Aangesien hy ’n ridder-kommandeur was van die Orde van die Bad, het hy ook die twee leuses van daardie ridderorde getoon. Op die kraag van die orde, wat om die skild gaan, is die woorde Tria Juncta in Uno. En op ’n bykomstige lint is die leuse van die Prins van Wallis, Ich Dien.



[1] Die Skotse stelsel van matrikulering laat die afstammelinge van ’n wapenvoerder toe om gedifferensieerde weergawes van die voorvaderlike wapen te registreer. Hierdie soort registrasie is heelwat goedkoper as die koste verbonde aan ’n verlening.

[2] Wanneer ’n wapenvoerder addisionele elemente by sy wapen verleen word (op die wapenskild of op die helmteken) as erkenning van ’n spesifieke diens, word dit ’n eretoevoeging genoem

[3] Die vlootkroon was aanvanklik deur die Romeine gebruik om ’n admiraal te vereer wat ’n seeslag gewen het. Die Britse weergawe van die vlootkroon word dikwels in die wapens of helmtekens van vloothelde aangetref. Dit is ook bo-aan elke skeepswapen van die Royal Navy.

[4] Dit wil sê die regterkant soos van agter die skild gesien; met ander woorde aan die aanskouer se linkerkant.

[5] Die muurkroon is ook deur die Romeine uitgedink, en hulle sou dit aan ’n generaal wat ’n stad verower het, presenteer.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Hierdie artikel is ’n uittreksel (en vertaling) van ’n langer stuk met die titel “Symbols Ancient and Current”, wat die skrywer vir die Port Elizabethse Geskiedkundige Vereniging geskryf het, vir publikasie in die jaarblad Looking Back.

Bron van beelde: Die meeste van die skilde wat hier getoon word is uit die familie-armoriaal van Duncan deur Martin Goldstraw en John Duncan van Sketraw, wat deel vorm van die webwerf van die Clan Duncan. Ek is aan albei dank verskuldig vir toestemming tot my gebruik van hierdie beelde. Die wapens van sir Rufane en van Port Elizabeth is uit die skrywer se versameling.


Terug na indeks van families

Terug na Armoria familia-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle