Armoria corporitiva
http://uk.oocities.com/corporatio

Aptekersvereniging van Suid-Afrika

deur Mike Oettle

Avicenna / Galenus / asklepion

Aptekersvereniging van SA

Die wapen is nie geregistreer nie. Dit mag so geblasoeneer word:

 

Wapen: Onderstebo gaffelsgewys gedeel van goud, blou en rooi, belaai met ’n oop boek regs bo, ’n stamper en vysel links bo, en in die skildbasis ’n kolffles, almal van silwer; op ’n skildhoof van groen, 13 versmalde pale en ’n omgekeerde springende springbok (Antidorcas marsupialis) van natuurlike kleur.

Skildhouers: Regs die sittende figuur van Avicenna, uitwaarts gedraai, in silwer geklee en getulband, met swart broek en skoene, met ’n blou mantel, met in sy regterhand ’n staaf waarom ’n slang gedraai is; links die sittende figuur van Galenus, uitwaarts gedraai, silwer geklee met ’n rooskleurige mantel, met sandale van natuurlike kleur, wat in sy regterhand ’n balansstok met een skaal vashou.

Wapenspreuk: PRO SALUTE ET VALETUDINE POPULI.

 

Tussen die segmente van die skild is ’n onnodige silwer omlyning; wat nog meer oorbodig is, is dat hierdie omlyning in swart verder omlyn is.

Indien die vereniging hierdie wapen sou registreer, sou dit eerstens vereis word dat ’n heelwat nouer skild sou word, asook een wat minder barok voorkom. Die springbok sou ook na die regterkant gedraai word.

Dit is ook waarskynlik dat die Buro vir Heraldiek ook ’n kleiner getal versmalde pale as 13 sou wil sien – die springbok se agtergrond is onduidelik omdat dit uit te veel segmente bestaan.

Die wapenfigure onderkant die skildhoof is almal van silwer, wat dan beteken dat die oop boek bo regs die kleurreël verbreek.

Dit is ook buitengewoon dat die skildhouers nie slegs sittend is nie, maar ook na die buitekant kyk.

 

Oor die wapen:

Die hoofdeel van die skild (die dele wat goud, blou en rooi gekleur is) verwys na die gereedskap van die aptekersprofessie; die wapenfigure is:

’n Boek – wat nie slegs na die studies verwys wat ’n toekomstige apteker moet deurgaan nie, maar ook na die register waarin daar tradisioneel rekord gehou is van medikasie – ’n stamper en vysel[1] (wat gebruik word om kristalmateriaal of kruie in die voorbereiding van medisynes) en ’n kolffles (’n glashouer wat in die laboratorium gebruik word, gewoonlik vir die verhitting en distillering van vloeistowwe, met ’n lang tuit).

Die skildhoof (wat gewoonlik getoon word as ongeveer een-vyfde van die skilddiepte) dui op die vereniging se nasionaliteit.

Dit is onduidelik op watter punt in Suid-Afrika se geskiedenis die wapen in gebruik geneem is, maar gedurende die leeftyd van die Unie van Suid-Afrika was daar onenigheid oor wat ons nasionale simbole was. Een van die weinige punte van ooreenkomstigheid was die kleure van ons sportspanne, aanvanklik deur die nasionale rugbyspan aangeneem, wat tydens hulle toer van Brittanje in 1906 (vier jaar vóór Unie) met die naam Springbokke gedoop is.

Teen die middel van die eeu is die kleure as groen en goud gevestig, dus is dit gevoel dat ’n springende springbok op ’n agtergrond van groen en goud paslik is.

In die jaar 2008 is daar aansienlike debat oor die toekoms van die Springbok-embleem, maar dit is steeds by die rugbyspan in gebruik.

 

Skildhouers:

Die skildhouers, al is hulle onkonvensioneel aangetoon, is aansienlike figure in die geskiedenis van die apteekwese soos dit huidiglik verstaan word.

Albei dra wit kleding waaroor hulle ’n gekleurde mantel dra. Die blou mantel aan die regterkant is onproblematies, maar die pienk skakering aan die linkerkant is in die heraldiek buitengewoon. Pienk het egter wel in onlangse jare in die heraldiese gebruik gekom – veral in dié wat deur aan vroue verleen is deur die Canadian Heraldic Authority, wat die term rose of rosé daarvoor gebruik.

Die figuur aan regterkant met ’n tulband om sy kop staan algemeen bekend aan die Latynse vorm van sy naam, Avicenna, bekend.

Met die volle naam Abu ’Ali al-’usayn ibn ’Abd Allah ibn Sina, was hy van Persiese geboorte; hy is omstreeks 980nC naby Boegara[2] gebore. (Hy is in 1037 oorlede in die stad Hamedan.)[3] Beskryf as veelweter, hy was die mees bekende medisyn en filosoof van sy tyd. Ander belangstellings het sterrekunde, chemie, geologie, logiek, paleontologie, wiskunde, fisika en digbuke ingesluit, terwyl hy ook as soldaat, leermeester en staatsman gedien het.

Hoofsaaklik as Ibn Siena bekend, het hy amper 450 verhandelinge oor ’n verskeidenheid temas geskryf. Daaruit is ongeveer 240 vandag steeds bestaande – 150 filosofies, en 40 wat op die mediese praktyk fokus.

Beduidend hieronder is Die Boek van die Geneeskuns, ’n wetenskaplike en filosofiese ensiklopedie, en Die Kanon van Geneeskunde, wat as standaard-teks gedeien het aan universiteite in Europa asook as in die Islamitiese wêreld.

Die geneeskundige sisteeem wat by Ibn Sina of Avicenna gebruik het is op persoonlike ervaring gebaseer, op die geneeskunde soos dit destyds deur die Islam opgevat is, op Indiese geneeskunde en op Aristoteliaanse filosofie, maar beduidend ook op die werk van die geromaniseerde Griekse geneeskundige Galenus – die linkerhandse skildhouer.

In Grieks bekend as GalhnoV (Galēnos), het hy drie Latynse name, waarvan die volgorde varieer – Claudius Galenus, Claudius Aelius Galenus of Aelius Claudius Galenus.

Hy is gebore te Pergamon,[4] en het tussen 129nC en 200 geleef. Aangesien as die mees volleerde mediese navorser van die Romeinse tyd, het hy die mediese wetenskap in Europa vir oor die 1 000 jaar gedomineer.

Sy opvoeding was aanvanklik op die verskeie filosofiese skole gefokus – aangesien Pergamon ’n kultuursentrum was, het dit leermeesters gehad in elkeen van die beroemde tradisies. Maar toe hy 16 was, het sy vader ’n droom gehad waarin die god Asklepios (AsklhpioV) hom beveel het dat die seun geneeskunde geleer word. Galenos is na die toonaangewende plaaslike Asklepeion (Asklhpeion) gestuur, ’n sanctuarium en spa wat aan daardie god toegewy is, waar hy vier jaar deurgemaak het as therapeutes (qerapeuthV) of bediende, en daarby ’n aantal invloedryke persone ontmoet het.

Toe Galenos 19 jaar oud was, het die dood van sy vader hom onafhanklik ryk gemaak. Die daaropvolgende nege jaar het hy aan verskeie sentrums gestudeer, waaronder Smirne (tans Izmir), Korinte, Kreta, Cilicië, Siprus en uiteindelik aan die beroemde mediese skool van Alexandria in Egipte.

In die ouderdom van 28 het hy toe na Pergamon teruggekeer en die pos opgeneem van geneesheer aan die gladiatore van die Hoë Priester van Asia.[5] Gedurende die vier jaar wat hy hierdie pos behou het, is slegs vyf mans dood, vergeleke met 60 in die tyd van sy voorganger.

In 161nC het Galenus Pergamon verlaat, waarskynlik weens politieke onluste, en het hy gereis na Limnos, Ciprus en Judea[6] voordat hy in 162 in Rome aangekom het, waar Marcus Aurelius en Lucius Verus mede-keisers was.

Die filosoof Eudemus was aldaar ’n pasiënt van hom. Hy het Eudemus genees van ’n ernstige koors, en het ’n begin gemaak met die behandeling van belangrike Romeine. Die geneeshere van Rome het egter, weens onbekendheid met die leer van Hippokrates, Galenus se metode om ’n prognose te maak as goëlary uitgemaak.

Met sy terugkoms op Pergamon in 166 het hy uitgegee dat hy Rome verlaat het weens broodnyd, alhoewel sy verlating van die stad ook saamgeval het met die uitbreek van die plaag onder die keiserlike troepe.

Marcus Aurelius en Lucius Verus het Galenus na Rome teruggeroep om tydens die Duitse oorloë diens te doen. Hy was later persoonlike geneesheer aan Marcus Aurelius en aan die latere keiser Septimus Severus.

Galenus het ook in Rome verskeie boeke geskryf, waaronder een wat tans bekend staan as Oor die Prognose. Die jaar van sy dood word betwis. Tradisioneel is dit as 199 of 200 gegee, maar op grond van sy geskrifte word dit tans beweer dat hy in 207 of selfs so laat as 217 nog geleef het.

Aangesien Galenus sy mediese studies aan ’n Asklepios-tempel begin het, is dit ironies dat in hierdie wapen dit die Moeslim Avicenna is wat getoon word met ’n asklepion, of staaf van Asklepios, in die hand.

 

Apteekwese in Suid-Afrika en die vereniging:

Op sy webwerf voorsien die vereniging hierdie geskiedenis van die beroep en sy eie vorming:

“Die eerste apteker wat hom in die huidige Suid-Afrika gevestig het, was Joachim Blanck. Hy was lid van die Amsterdamse Gilde van Apothekers en het in 1653 aan die Kaap kom woon.

“Eers in die vroeë 19de eeu is die funksie van aptekers in Suid-Afrika gedefineeer. Dit het aptekers (wat destyds ‘chemists and druggists’ genoem is) om hulle as professionele groep te organiseerm onderskeidelik van ander mediese professies.

“In 1885 het ’n groep van sewe aptekers in King William’s Town saamgekom om die South African Pharmaceutical Association te vorm. Hierdie ontwikkeling het die gevolg gehad dat takke in verskeie landsdele gevorm is.

“Daarna is aptekersverenigings in die verskeie provinsies ontwikkel en uiteindelik het die amalgamering hiervan in 1946 die Aptekersvereniging van Suid-Afrika gevorm.”



[1] Die vysel is die pot waarin die bestanddele fyngemaak word; die stamper word daarbinne aangewend.

[2] Die stad Boegara staan vandag in Oezbekistan.

[3] Tans in Iran, 343 km suidwes van Tehran.

[4] Tans Bergama, langs die See van Marmora in Turkye.

[5] Asia was in daardie tyd ’n provinsie in die weste van wat tans Turkye is. Dit moet nie met die vasteland Asië verwar word nie.

[6] Nà die vernietiging van Jerusalem in 70nC het die Romeinse besetters hierdie gebied tot Palestina hernoem, om sodoende die uitgeworpene Jode te onteer en in plaas daarvan die Filistyne na vore te bring.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bron van beeld: Lidmaatskapsertifikaat wat deur die vereniging uitgereik is.


Terug na Armoria corporativa-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle